|
|
|
Kol 1:24-25 Vervolging, ter
wille van die Evangelie van Christus. Paulus sê in vers 24: “Dit het
nog nie geëindig nie”, en ek en jy sê vandag: “Dit het nog nie geëindig
nie”. Dit word meer en meer moeilik om openlik jou geloofsoortuiginge te
deel. Moes jy ook die afgelope tyd op jou tande kners as mense so te velde
trek teen Geestelike goed wat gebeur? Eish, Paulus, ek dink ook Angus
verstaan presies wat jy bedoel. Genugtig, het jy die artikels (en die
gepaardgaande briewe in reaksie daarvan) gelees in die Sondagkoerant?
Sulke blatante Godslastering maak dat jy jou asem wegskrik. En meer nog,
dis óns mense. Sjoe, en dan word ons Christene kwaad en kap hakke in en
reageer fel. En dan nog verder, is daar mense wat sommer besluit God
(watter een?) straf vir Angus met siekte om hom van die verhoog af te kry.
Terwyl hy (so glo ek) die opdrag uitvoer wat elkeen van ons gekry het, nl.
om dissipels te maak. Dan is daar sowaar die een of ander teoloog wat in
die koerant sê Angus kweek koolkoppe! Kan jy dit glo? Maar jy sien,
hierdie goed móét gebeur, want die Skrif sê dit sal so wees. Dankie,
mnr Teoloog, jy bewys die Bybel waar! Weet jy, ek verstaan soms so ietsie
van dit wat Petrus gedryf het om Jesus te verloën … ek en jy sal dit
meer en meer moet trotseer en teenstaan. Vervolging in
2009 …. Dis nogal vreemd hoedat die geskiedenis hom herhaal. Weet jy wat
het met die 12 apostels gebeur? Elkeen
van hulle het vir hulle geloof gesterf. Party daarvan is in die Bybel
opgeskryf, van die ander weet ons uit buite Bybelse geskrifte. Maar …
toe gebeur ‘n vreemde ding: hoe meer die gelowiges uitmekaargejaag en
vervolg is, hoe verder en vinniger het die Evangelie versprei. Hand 11:19 “Deur
die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges
uitmekaar gejaag”. Toe wyk hulle uit na Fenisië, Siprus en Antiogië.
Vandag is dit bietjie anders as 2000 jaar gelede, maar die eindresultaat
is dieselfde. Mense kan eenvoudig nie die gesonde leer verdra nie. Soveel
so, dat mense veel eerder ideologieë en leerstellings sal najaag, solank
dit net nie oor die Evangelie gaan nie. 2 Tim 4:3 “
…daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal
verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters
bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor”. Sjoe,
en gebeur dit nie. Gaan lees maar Sondag se koerant, dan sal jy hulle daar
kry. Dan kom hierdie ou en noem ons sommer koolkoppe, omdat ons die
gesonder leer najaag! Luk 10:1-12 … soos lammers
tussen die wolwe in – ons kan dus teenstand en vervolging verwag. Dit lyk my
vervolging word geweldig fel wanneer herlewing uitbreek. Maar, nou reageer
ons as Christene soms op ‘n vreemde manier. Ons glo dat ons moet (en
kan) die Here se eer verdeding. As die aanslae kom doen ons die volgende: 1 Pet 3:15 In
julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees
altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n
verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Dit is al wat ons
moet doen. Weet jy, ek wil tog iets noem wat my geweldig pla. Ons soek ook
maar soms om gekapittel te word oor ons optrede. Ons stuur sms’e en
e-posse blitsig aan sonder om uit te vind of dit die waarheid is. Soos bv.
gister met oom Angus – ons word opgeroep met sms-kettings om te bid vir
iets wat nie gebeur het nie. Ek
wonder soms of ons gebedskettings of sensasie-kettings skep. “Ek het
gehoor…”, “weet jy….”, dit is wanneer die wêreld vir ons lag.
Nog iets wat ons graag “in die Naam van die Here” doen, is om ander
die geleentheid te gee om seën te ontvang. Stuur net hiedie e-pos vir 10
ander, of bid hierdie gebed en stuur aan, of wys dat jy nie skaam is vir
die Here nie, en stuur vir almal in jou adresboek…Net 7% sal dit
aanstuur, weet jy? Dan sê dit ook nog, as jy dit nie aanstuur nie, dan
…. Jammer, ek doen dit nie! Ek is een van die 93%. Ek en jy kan nié die
Here se eer verdedig nie, en ons hoef ook nie – Hy doen dit sommer self. Matt 5:10-12 Hier is sommer
‘n ander hoek op die hele ding van vervolging. Dit lyk vir my of die seën
juis daarin lê as die vervolging kom. Seën met ewigheidswaarde. Miskien
moet ons selfs bekommerd raak as dit nie op ons pad kom nie. Lukas 11:49 Joh 15:20 Vervolging was,
is en sal wees. Veral namate die eindtye nader kom. Veral wanneer
herlewing kom. Veral wanneer Jesus se Evangelie verkondig word. Wie was
die grootste vervolgers in Jesus se tyd? Die Skrifgeleerdes (klink dit
bekend?), die Fariseërs en die Familiehoofde – mens sou dit tog nie
verwag het nie! Hulle het beweer dat hulle God dien, maar hulle het nie sy
Seun geken nie! En so is dit vandag nog! Maar, kom ek en
jy hou vas aan wat 2 Kor 4:9 sê: “Ons word vervolg, maar nie deur
God verlaat nie, op die grond gegooi, maar nie vernietig nie”. Ons
kan weet dat ons beloning in die Hemel groot sal wees, volgens Matt 5. |