VERVOLGING – 29 April 2009 


Kol 1:24-25
Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk, waarvan ek 'n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak. 

Vervolging, ter wille van die Evangelie van Christus. Paulus sê in vers 24: “Dit het nog nie geëindig nie”, en ek en jy sê vandag: “Dit het nog nie geëindig nie”. Dit word meer en meer moeilik om openlik jou geloofsoortuigings te deel. Moes jy ook die afgelope tyd op jou tande kners as mense so te velde trek teen Geestelike goed wat gebeur? Eish, Paulus, ek dink ook Angus verstaan presies wat jy bedoel. Genugtig, het jy die artikels (en die gepaardgaande briewe in reaksie daarvan) gelees in die Sondagkoerant? Sulke blatante Godslastering maak dat jy jou asem weg skrik. En meer nog, dis óns mense. Sjoe, en dan word ons Christene kwaad en kap hakke in en reageer fel. En dan nog verder, is daar mense wat sommer besluit God (watter een?) straf vir Angus met siekte om hom van die verhoog af te kry. Terwyl hy (so glo ek) die opdrag uitvoer wat elkeen van ons gekry het, nl. om dissipels te maak. Dan is daar sowaar die een of ander teoloog wat in die koerant sê Angus kweek koolkoppe! Kan jy dit glo? Maar jy sien, hierdie goed móét gebeur, want die Skrif sê dit sal so wees. Dankie, mnr. Teoloog, jy bewys die Bybel waar! Weet jy, ek verstaan soms so ietsie van dit wat Petrus gedryf het om Jesus te verloën … ek en jy sal dit meer en meer moet trotseer en teenstaan. 

Vervolging in 2009 …. Dis nogal vreemd hoedat die geskiedenis hom herhaal. Weet jy wat het met die 12 apostels gebeur?  Elkeen van hulle het vir hulle geloof gesterf. Party daarvan is in die Bybel opgeskryf, van die ander weet ons uit buite Bybelse geskrifte. Maar … toe gebeur ‘n vreemde ding: hoe meer die gelowiges uitmekaargejaag en vervolg is, hoe verder en vinniger het die Evangelie versprei. Hand 11:19 “Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag”. Toe wyk hulle uit na Fenisië, Siprus en Antiogië. Vandag is dit bietjie anders as 2000 jaar gelede, maar die eindresultaat is dieselfde. Mense kan eenvoudig nie die gesonde leer verdra nie. Soveel so, dat mense veel eerder ideologieë en leerstellings sal najaag, solank dit net nie oor die Evangelie gaan nie. 

2 Tim 4:3 “ …daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor”.  Sjoe, en gebeur dit nie. Gaan lees maar Sondag se koerant, dan sal jy hulle daar kry. Dan kom hierdie ou en noem ons sommer koolkoppe, omdat ons die gesonde leer najaag! 

Luk 10:1-12
Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. Hy het vir hulle gesê: "Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes”. Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in. "Moenie 'n beurs of 'n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie. As julle in 'n huis kom, moet julle eerste woorde wees: 'Vrede vir hierdie huis.' As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom. Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon. As julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit. Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: 'Vir julle is die koninkryk van God baie naby!'  Maar as julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: 'Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.' Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp.  

… soos lammers tussen die wolwe in – ons kan dus teenstand en vervolging verwag. 

Dit lyk my vervolging word geweldig fel wanneer herlewing uitbreek. Maar, nou reageer ons as Christene soms op ‘n vreemde manier. Ons glo dat ons moet (en kan) die Here se eer verdedig. As die aanslae kom doen ons die volgende: 
Ons probeer die waarheid van die Evangelie korrek bewys – met argumente, met Skrifgedeeltes, met "is – is nie"-stryery. Intussen mis ons die opdrag, want die Here het nie gesê: “Gaan bewys die Evangelie”, nee, Hy het gesê: “Gaan verkondig die Evangelie”. Nou hoef ons mos nie meer te stry nie, nou hoef ons net te getuig. Wie op aarde kan dit wat JY glo, wegredeneer? 

1 Pet 3:15 In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 

Dit is al wat ons moet doen. Weet jy, ek wil tog iets noem wat my geweldig pla. Ons soek ook maar soms om gekapittel te word oor ons optrede. Ons stuur SMS’e en e-posse blitsig aan sonder om uit te vind of dit die waarheid is. Soos bv. gister met oom Angus – ons word opgeroep met SMS-kettings om te bid vir iets wat nie gebeur het nie.  Ek wonder soms of ons gebedskettings of sensasie-kettings skep. “Ek het gehoor…”, “weet jy….”, dit is wanneer die wêreld vir ons lag. Nog iets wat ons graag “in die Naam van die Here” doen, is om ander die geleentheid te gee om seën te ontvang. Stuur net hiedie e-pos vir 10 ander, of bid hierdie gebed en stuur aan, of wys dat jy nie skaam is vir die Here nie, en stuur vir almal in jou adresboek…Net 7% sal dit aanstuur, weet jy? Dan sê dit ook nog, as jy dit nie aanstuur nie, dan …. Jammer, ek doen dit nie! Ek is een van die 93%. Ek en jy kan nié die Here se eer verdedig nie, en ons hoef ook nie – Hy doen dit sommer self. 

Matt 5:10-12
“Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê”. 

Hier is sommer ‘n ander hoek op die hele ding van vervolging. Dit lyk vir my of die seën juis daarin lê as die vervolging kom. Seën met ewigheidswaarde. Miskien moet ons selfs bekommerd raak as dit nie op ons pad kom nie. 

Lukas 11:49 
Daarom het Die Wysheid van God gesê: 'Ek sal profete en apostels na hulle toe stuur, maar hulle sal sommige van hulle doodmaak en ander vervolg.'
 

Joh 15:20
Onthou wat Ek vir julle gesê het: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s'n ook ter harte neem. 

Vervolging was, is en sal wees. Veral namate die eindtye nader kom. Veral wanneer herlewing kom. Veral wanneer Jesus se Evangelie verkondig word. Wie was die grootste vervolgers in Jesus se tyd? Die Skrifgeleerdes (klink dit bekend?), die Fariseërs en die Familiehoofde – mens sou dit tog nie verwag het nie! Hulle het beweer dat hulle God dien, maar hulle het nie sy Seun geken nie! En so is dit vandag nog! 

Maar, kom ek en jy hou vas aan wat 2 Kor 4:9 sê: “Ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond gegooi, maar nie vernietig nie”. Ons kan weet dat ons beloning in die Hemel groot sal wees, volgens Matt 5. 

Moenie veg nie, getuig net.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)