|
|
|
Kom saam met my
op 'n verbeeldingsvlug. Ek en jy en 'n klompie ander mense sit en kuier om
'n tafel. 'n Baie deftige etenstafel.
Ons almal lag, gesels, skerts, vertel stories en kuier 'n storm
los. Die gasheer en gasvrou is hooggeplaaste mense, belangrike mense,
mense van aansien en hulle bly in 'n mansion. Die duurste meubels, en
alles is net van die beste. Mev Gasvrou dartel rond om almal gelukkig te
hou en manlief vertel van sy groot saketransaksies, buitelandse beleggings
en eiendomme oor die hele wêreld. Jy kan hom ook deur 'n ring trek met sy
ontwerpersklere, 'n man van statuur wat respek afdwing met elke woord wat
hy sê. Dan, skielik, bly
hy stil, kyk vir almal en almal kyk vir hom. Hier kom iets!!! Almal wonder
in afwagting wat nou gaan gebeur… Dan trek Meneer
sy baadjie uit, wikkel sy strikdas los, en trek sy hemp en skoene uit.
Maak 'n handoek om sy lyf vas en gaan buk by iemand se voete. Dan begin hy
een se voete was, en die volgende persoon, en die volgende persoon tot
almal se voete gewas is. Almal sit in stom verbasing. Hoekom doen hy dit?
Gaan hy my voete ook was? Joh 12 : 1-7 Só was Jesus Sy dissipels se voete. Jy sal met my saamstem dat mnr Gasheer van netnou hoegenaamd nie kan kers vashou in terme van sy status nie. Onthou een ding, die hele tyd wat Jesus met Sy dissipels gewandel het vir drie jaar, het hulle GEWEET wie Hy is. Hulle het Hom Here, Leermeester en Rabbi genoem. Hulle het Sy wonderwerke gesien, die absolute gesag waarmee Hy te werk gegaan het. Daar aan tafel trek Hy sy bokleed uit en maak 'n handdoek om Hom vas en begin om Sy dissipels se voete te was. Wonder wat hulle gedink het. Wat sou jy dink? Sou jy dit sien dat Hy Homself verneder het, of stem jy saam met my dat dit 'n GROOT man is wat bereid is om so-iets te doen? Ek sien in hierdie handeling 'n persoon wat presies weet wat Sy status is en weet onder watter gesag Hy werk, en 'n ongelooflike “statement” maak. Wat kan sê: “Ek is groot genoeg om dit te doen”. Die diepste daad van nederigheid, wat die grootste daad van gesag demonstreer. As
ek in hierdie gedeelte iets sou soek om hierdie daad te laat sin maak, kry
ek dit in vers 1b:- Dan was Hy hulle voete. Jesus, Koning, Oppergesag, Heerser, Skepper, Almagtige. Weet jy wat? As Hy vandag in lewende lywe by jou sou wees, sou Hy presies dieselfde vir jou gedoen het. Glo jy dit? Joh
13: 6 Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: "Here, gaan Ú
mý voete was?" Petrus wil dan sommer sy hande en gesig ook gewas hê. Ek glo nie dit was uit arrogansie wat hy dit gesê het nie. Ek dink hy het eerder so bietjie minderwaardig gevoel. Voetewas was slawewerk (en 'n slaaf kon nie gedwing word om dit te doen nie). Miskien het hy gedink hy sal beter voel as Jesus dan méér doen as die slawewerk. Dan sê Jesus :- “nee jong, jy is klaar skoongewas, ons stof net gou-gou die voete af, dan is jy weer reg”. Sou jy dalk ook na so 'n sessie so bietjie skaam en ontoereikend voel? Ek sou verseker!!! Kan jy sien waar die liefde gedeelte inkom? Daar staan:- “Hy het hulle tot die uiterste liefgehad”. Soos Hy ook vir jou en my tot die uiterste liefhet. Verbeel jou hoe Hy met sy paar growwe hande sagkens oor jou voete streel en vryf, hoe Hy die seep tussen jou tone inwerk, en dan afspoel, tot hulle silwerskoon is. Soos jy vir Hom kyk terwyl Hy besig is, sien jy die mees onbeskryflike uitdrukking van liefde is sy oë. In hierdie gedeelte sien ons die mees ongelooflike demonstrasie van liefde opgesluit. Joh
13 : 14 – 17 Jesus se 'n mooi ding in vers 16. ”n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie as die een wat hom gestuur het nie”. Liefde maak almal gelyk. En ja, Jesus het tot Judas se voete ook gewas. Moet ek en jy nie ook soms tot die uiterste gaan om liefde en respek vir mekaar te bewys nie? Wat dink jy gaan gebeur as jy daar by die werk dit sou doen? Ten spyte van jou gesagsposisie. Watse impak sou so 'n fisiese daad nie tot gevolg hê nie? Of wat van jou huishulp of tuinjong? Wel, ek moet eerlik sê, ek sou sukkel!!! En nee, ek het dit nog nooit gedoen nie. Maar wat dan van manlief of vroulief, of die kinders? Of dalk iemand vir wie jy vieserig is, soos jou buurman of daardie moeilike kollega by die werk. Kan ek jou sê wat die gevolg sou wees? Die antwoord is in vers 17. “Julle weet dit nou, gelukkig is julle as julle dit ook doen”. |