|
|
|
Voetspore ... die sigbare merke wat
dag vir dag verklap waar ons was. Voetspore in die grond, voetspore in die
lewe, merke wat ons agterlaat, soms goeies, soms slegtes. En dan natuurlik
die voetspore van ander voor ons. Sommiges lank terug, sommiges sommer
onlangs. Agter wie stap ek en jy aan? Vir wie volg ons? Loop ons op goeie
spore of slegte spore? Is ons in die regte rigting op pad? 1. Die tipe bok, sy identiteit -
karakter/spoortrappe. Dis 'n klomp goed wat verklap word deur spore. As jy iewers was, bly daar dalk net iets agter. So werk die polisie ook op 'n misdaadtoneel, want iets bly agter, of jy dit glo of nie. 'n Spoor is soos 'n identiteitsboekie, dalk selfs meer werd as 'n foto. In die verlede het 'n klomp groot
geeste diep spore in ons samelewing getrap. Kom ons begin by iemand wat
dit regtig goed reg gekry het. Paulus. Paulus wat baie diep,
indrukwekkende spore geloop het. Letterlik. Sy sendingreise het gemaak dat
Paulus letterlik duisende kilometers afgelê het, die meeste daarvan te
voet. Na 2000 jaar weet ons presies waar Paulus was, wanneer hy daar was
en hoekom hy daar was. Jy sien, Paulus het nie sy spore probeer doodvee
nie. Want Paulus het geweet waarheen hy op pad was. En sy grootste werk
was onder die heidennasies. Adam se spore het in die paradys begin en buite die paradys geëindig. Adam se spore was veronderstel om net in die paradys te wees ... soos 'n bok wat rustig wei, maar die verkeerde keuse het hom op 'n ander spoor gesit. So kan ons baie Bybelkarakters se spore vandag sien. Maar nie net Bybelpersone nie, ook ontdekkingsreisigers, politici, staatsmanne, kerkmanne, ja selfs ruimtereisigers. As jy wil weet of Neil Armstrong regtig op die maan was, gaan soek sy spore. En so los ons spore. Daar waar ons was, sal iets agterbly. En daar waar ons gaan, sal mense ons volg. Kinders, familie, almal op wie ek en jy 'n invloed het. Waar loop ons, hoe vinnig loop ons, wat is ons rigting, loop ons 'n reguit pad? Is ons die moeite werd om nagevolg te word? Ek het al gewonder, waarmee sal ek besig wees as Jesus skielik weer aarde toe kom? Sal ek inderhaas my spore moet doodvee? Of is ek trots om te trap waar ek trap, sodat almal dit kan sien, en ander dit kan navolg. Ons invloede op die lewe, is dit wat maak dat ons spore in die samelewing trap. Ons kan natuurlik ook verkeerd trap. Soos hulle sê, "ek het nie 'n voet verkeerd gesit nie", kan natuurlik dalk nie waar wees nie. Soos om ander te vertrap. Om mense emosioneel, of fisies, te verwoes. Soms is die enigste voetspore wat ons maak, dié teen die korporatiewe leer op. Soms is dit haastige spore. Is dit nie ironies hoe mense kan jaag nie - asof ons ons lewe lank moet weghardloop, vir wat weet ek nie. Dalk moet ons stop en net 'n bietjie rustig wei, daar in ons eie terratoriale gebied. Daar om die kinders, sodat ons goeie spore vir hulle kan agterlaat om te volg. Nie net daardie spore op die kar se pedale op en af werk toe nie. Kom ons loop waar dit die moeite werd is. Hoe sal ons weet waar om spore te laat, as ons nie goeie spore volg nie? Luk 9 : 57 - 62 In hierdie stukkie is die boodskap van Jesus so eenvoudig. Volg My, los alles, onvoorwaardelik. Jy sien, Jesus los vandag nog spore agter. Met tyd raak 'n bok se spore weg, want die wind waai dit toe. Om dus in iemand se spore te volg, moet jy baie naby aan Hom wees. So moet ons ook vir Jesus volg. Loop kort op Sy hakke, styf teen Hom. Laat ons voete op die spoor val die oomblik as Hy Sy voet oplig. Waar het Jesus se spore gestap? Jesus het met die Via Dolorosa tot by die kruis gestap. Daar op die kruis het Hy die diepste spoor denkbaar getrap. Daar waar die Satan vertrap is. Daar op die kruis het Jesus die sleutel gelos vir ons pad hemel toe. Maar Jesus se spore stop nie by die kruis nie, want Hy het opgestaan. Sy spore gaan tot in die hemel. En ons spore gaan of dáár stop, of in die verderf. As ons agter Jesus aanstap, kan ons net op die regte plek land. Dan kan ander maar gerus agter ons aanstap. Dan loop ons spore ook nie vreemde of slegte draaie nie. Jesus se spore is baie duidelik, dis diep getrap in die samelewing. Die diepste herkenbare spoor is die kruis - ons baken. Kom ons hou op dwaal, en met die oog gerig op Jesus, kan ons nie 'n fout maak nie. |