|
|
|
Kyk in die spieël.
Wat sien jy? Wie sien jy? Hoe sien jy jouself? Voel jy soms vasgevang in
‘n struktuur, oorgetrek met ‘n vel, een waarmee jy dikwels nie tevrede
is nie? Dink bietjie aan jou persoonlikheid. Hou jy van jouself? Kan jy
met jouself saamleef? Het jy al in jou lewe vrede gemaak met wie jy is, en
met wat jy is? Of, het jy iewers op die punt gekom dat jy voel die Here
het ‘n hengse fout gemaak? Jy vra vrae soos bv, “Het die Here ‘n
verwronge humorsin gehad toe Hy my gemaak het?”.
Ek onthou so goed toe ek 30 jaar gelede uit die weermag gekom het
hoe ek gevoel het – reg om die wêreld op horings te neem. Mooi in
“shape”, sorgeloos, reg om te bou aan ‘n wonderlike toekoms. Ek het
kans gesien vir baie. Van daardie bravade het ‘n klomp elemente my om
die een of ander rede ontsnap. Die bravade moes soms plek maak vir kommer.
Die skraal lyf moes plekmaak vir meer in die vel. Die toekoms lyk onseker,
eintlik al hoe meer onseker. Ja jong, die middeljare is nie ‘n mens se
maat nie. Onsekerheid, ontevredenheid, onvergenoegdheid is nogal aan die
orde van die dag. Dan vra mens nogal: “Wat het gebeur?”, “Hoekom is
die lewe nie meer soos dit was nie?”, “Het die Here dalk êrens ‘n
fout gemaak?”, “Is ek vandag wat en wie Hy bedoel het ek moes
wees?”, “Here, hoekom is my gesondheid af?”, “Hoekom is ek
gestrem?”, “Hoekom is ek nie op dié plek in die lewe waar ek graag
wil wees nie?”, “Maak die Here dan foute?”. Kom ons kyk
bietjie met nuwe oë na onsself. Kom ek vertel vir jou hoekom jy by
uitstek reeds by geboorte ‘n wenner is. Toe jy verwek is, moes ‘n
spermpie by ‘n eiersel uitkom. Miljoene der miljoene van hierdie
spermpies moes resies swem vir die eerste plek. En … (tensy jy een van
‘n tweeling is), kon daar net één wenner wees. Die resies begin, die
spermpies trek met ‘n spoed weg, almal het net een ding in gemeen, en
dit is om eerste by die eiersel uit te kom. Daar word verwoed meegeding,
almal wil wen … die eindpunt is in sig, almal sit daardie bietjie ekstra
moeite in vir die laaste entjie, harder, vinniger, nog bietjie meer
energie. En dan …. swaai die “checkered flag”. Daar is ‘n wenner.
EEN wenner. Net EEN oorwinnaar. JY! Besef jy dit? Jy was reeds ‘n wenner
van vóór jou geboorte af. As jy vandag gestrem is, hoe jy ookal dink jy
lyk – JY is ‘n wenner. Nie een van daai spermselle kon jou wen nie,
hulle moes almal die aftog blaas; jy was bedoel om jy te wees. Ps 139:13-18 U het my
gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want
U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met
verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe
ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep
in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my
lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik
is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou
opnoem - hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou
ek nog steeds met U te doen hê. Toe begin hierdie
delikate proses, waar die Here jou vorm, presies soos Hy jou laaaank
gelede beplan het. Ja, jy het reg gehoor, JOU beplan het. En nee, Hy het
nie fout gemaak nie. Het jy gehoor – Hy het jou haarfyn beplan. Ps
139:16 sê: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae
was in U boek opgeskryf nog voordat ek gebore is”.
Ja! Jy is spesiaal. Nou ja, as die
Here jou gemaak het soos Hy beplan het, wie is jy om te dink dat Hy ‘n
fout gemaak het? Wat gebeur met ons in moeilike tye, wanneer ons so
onvergenoegd voel? Ons dink God het geskep, en toe teruggestaan, of
verdwyn. Of dalk is ons verwyder van ons geliefdes, dalk is ons vryheid
daarmee heen – dan dink ons die Here het teruggetrek uit ons lewens uit.
Nou kom ek gee dan vir jou ‘n stukkie baie goeie nuus uit die Here se
liefdesbrief, die Bybel: Ps 139:1-6 Here, U sien
dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my
gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U
bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. Daar is nog nie 'n woord op
my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. U omsluit my van alle
kante, U neem my in besit. Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my
begrip. U omsluit my van
alle kante, U neem my in besit. Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir
my begrip… Hy weet selfs of ons sit en of ons opstaan! Hy ken my
gedagtes! Hy weet wat ek gaan sê. Weet jy, die Here leef met jou saam,
nes jy is? Is jy bereid om saam met Hom te leef, nes jy is? Weet jy, ek sien
nêrens in hierdie gedeelte van Ps 139 dat enige van hierdie dinge net
waar sou wees vir ‘n volmaak geskape mens nie. Hierdie is vir almal
waar, wie jy ookal is, hoe Hy jou ookal aanmekaargesit het, en wat jou
omstandighede ookal sou wees. Ons het nogal
‘n beperkte invloed in hoe ons lyk en hoe ons geskep is. Maar … ons
het onbeperkte invloed in hoe ons oor onsself voel. Dit hang net af vir
wie ons glo. Volmaakte jy.
Wenner. Superswemmer. Goed gebou deur die Meester Skepper. Maar omdat ons
nie die Here glo nie, kry ons die idee dat Hy oor ons voel soos ons oor
onsself voel. Ons probeer dus om met die onvolmaakte menslike verstand die
Here se gedagtes oor ons te verduidelik en te verstaan. Omdat ons voel dat
ons onvolmaak is, glo ons die Here dink ook so. Ons probeer selfs van die
Here af wegvlug, soos ons van mense af wegvlug. Ps 139:11-12 Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. Nee wat, geen
duisternis kan jou insluk nie. En al vlug jy selfs weg van die Here af om
Sy oë te ontsnap, Hy draai nooit Sy oë van jou af weg nie, want jy is Sy
meesterstuk, Sy skepsel, Sy handewerk, Sy eiendom. Kyk met nuwe oë,
verstaan so bietjie van die Here se perspektief, probeer dink hoe Hy sou
dink. Veral as jy kan glo dat jy na Sy beeld geskape is, en dat jy Sy
tempel is. Voel jy jou lewe
val inmekaar? Hy is daar om die stukke op te tel. Voel jy onvergenoegd oor
jouself? Hy dink jy is die mooiste, aantreklikste, beeldskone wese voor Sy
oë. Voel jy dat Hy jou vergeet het? Nee, vers 5 sê: “U omsluit my van
alle kante, U neem my in besit”. Voel jy eensaam? Mag wees, maar Hy is
daar. Voel jy nikswerd omdat jy dalk gestrem is? Wel, Hy het jou so
gemaak, al verstaan jy dit nie. Hy het jou lief, al dink jy nie so nie.
Ai, weet jy, hoekom sukkel ons so om maar net te glo wat die Here in Sy
woord sê? Al gehoor van die spreekwoord: “God said it, I believe it,
that settles it”? |