|
|
|
So eenmaal `n
jaar doen elke groot maatskappy `n voorraadopname. Dis nogal `n belangrike
deel van die maatskappy se rekenkundige proses. Dis nodig om die huidige
status van die maatskappy vas te pen, dit word gebruik om te bepaal hoe
die verlede was, hoe dit nou lyk, en hoe dan vorentoe. Ek dink nie dis
noodwendig `n lekker werk nie – mense staan so met die “clipboard”
in die hand en tel die blikkies kos, die vuurhoutjies, die Wilson
toffies… ens. Dan kyk hulle of die boeke klop, of die huidige status is
soos hulle gedink het dit behoort te wees. Dit is natuurlik nodig om
voorraadopname te doen, anders gaan jy nie `n idee hê wat in jou
maatskappy aangaan nie. Net so moet ons
as Christene soms gaan stilstaan, oor alles reflekteer, voorraad opneem,
en kyk na die balans van bates en laste. Natuurlik wil jy hê die bates
moet toeneem en die laste moet afneem. Voorraadopname is nodig om te sien
of jy op die regte pad is, of jy jou tyd op die verkeerde dinge mors, of
jy die regte dinge doen, en die regte dinge los.
Miskien moet jy stop, dalk omdraai, miskien links of regs beweeg,
en soms (as jy gelukkig is) kan jy maar net vorentoe “cruise” en doen
wat jy doen. Miskien moet jy in die resies bly, maar die plan aanpas. In die boek
Prediker doen die skrywer voorraadopname, en hy hou nie van wat hy sien
nie. Prediker 1:1-11 Dit klink so half
depressief, of hoe? Hoe lyk dit
vandag daar in jou lewe? Kom ons begin by onsself as persoon, en doen
voorraadopname soos wat dit nou is. Hoe voel jy oor jouself? Is jy `n
stress-bol? Ploeg jy elke dag verder en verder agteruit op pad na nêrens?
Bederf jy jouself soms so bietjie met iets lekker – iets wat jou lekker
laat VOEL? (dit moet natuurlik iets wettig en mooi wees!) Hoe lyk dit met
jou gesondheid? Is daar tyd vir ontspanning en miskien bietjie werk aan
jou fiksheid? `n Mens se selfbeeld en selfwaarde word so maklik afgebreek
as mens net vir ander leef (en nou praat ek nie van jou gesin nie).
Miskien moet ons leer om meer kere “NEE” te sê, selfs vir kerkgoed.
Is daar nog dinge wat jou regtig goed laat voel? Laat jy dalk
selfvernietiging in jou lewe toe? Kom ons kyk
bietjie na die gesinslewe. Hoe lyk jou voorraadvlakke daar? Spandeer die
gesinslede genoeg tyd met mekaar? Is daar liefde in die huis? Is dit nie
so dat ons maar skraps is met voorraad van die regte goed nie? Ef 5:21 sê:
“Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig”. LW: uit
eerbied vir Christus. Dis vir die Here nogal belangrik dat dinge op die
tuisfront goed gaan, weet jy? Dan gee die Here vir ons as mans `n
belangrike byvoegsel in vers 25: “Mans, julle moet julle vrouens
liefhê soos Christus die kerk liefgehad en Sy lewe daarvoor afgelê
het”; en verder in vers 28: “Die mans behoort hulle vrouens so
lief te hê soos hulle eie liggame”. Dink so bietjie mooi saam met
my oor jou verhouding met jou lewensmaat. Wat bou ons met ons woorde in
ons lewensmaats in? Komplimente, opbouende woorde, aanmoediging, hulp,
ens? Of is dit afbrekende woorde, beledigings, negatiwiteit en
verwoesting? Nee man, kom ons los ons nonsens en sorg dat daar liefde in
ons huise is. Voorraadopname in
ons werksituasie is nogal `n tammeletjie: ons werk ons dood, jaag ons
dood, probeer elke dag om beter te presteer – en dit alles doen ons uit
vrees. Sê nou maar net … Vrees om jou werk te verloor, vrees vir more,
vrees vir die toekoms. Dis die een rede. Die ander groot rede is
“greed” (gierigheid) – ons kan net nie genoeg kry nie. Nie genoeg
geld, nie genoeg bates, nie genoeg status, genoeg roem, genoeg posisie nie
… net nog, nog, nog! Spreuke
30:15 Die bloedsuier het twee dogters, hulle is "Gee!" en
"Gee!" Dis
vreeslik as dit op daardie punt kom. Wanneer is genoeg genoeg? Weet jy, ek
het nog nooit gehoor van iemand wat doodgegaan het van genoeg ontspanning,
of genoeg rustigheid nie, en genoeg vergenoegdheid nie. Blybaar kom stres
nie in hierdie gebiede voor nie. Maar BAIE mense het hulle al letterlik
dood gewerk, toegelaat dat hulle harte gaan staan, en hare oornag grys
word, en bloeddruk hemelhoog opskiet. Vir wat? Weet jy hoe lyk `n gesonde
situasie in hierdie verband?
Wil jy hoor hoe dit moet wees? Ps 37:3 “Vertrou liewer op die Here en
doen wat goed is, woon en werk rustig voort” . Wow, soveel wysheid
in één vers. Woon en werk rustig voort. Hoe lyk dit daar by jou? Spog jy
dat jy `n “werkslaaf” is? As hierdie voorraadopname se syfers nie klop
nie, moet jy vinnig `n besluit maak. Dan natuurlik,
die belangrikste element van die voorraadopname: waar staan die Here? Of
is daar ook nie tyd vir Hom nie? Onthou jy toe
Jesus vir Petrus gevra het of hy Hom liefhet? Dit was voorraadopnametyd
vir Petrus. Openbaring 2 vra ook vir voorraadopname: hoe lyk jou en my
liefde vir Jesus? Waarvoor is ons werklik die liefste? Ek speel nou nie
die Here teen jou huweliksmaat of jou kinders af nie. Petrus moes nogal
vasstaan toe die Here dit vir hom gevra het… en Hy vra dit sommer drie
keer! Nou vra ek vir ons: “Mens, het jy die Here waarlik lief? Rêrig, rêrig?
Het jy Hom onvoorwaardelik lief?” As ons nou Pinocio was met sy
houtneus, waar sou jou neus geëindig het? Praat ons regtig die waarheid
as ons sê dat ons Hom liefhet? Jesus het Petrus eintlik voor `n toets
gesit. Petrus, as jy My regtig liefhet, laat my lammers wei. Pas My skape
op. Toe Jesus klaar vir Petrus met hierdie vraag getoets het, sê Jesus
vir hom `n amazing ding. Aan die einde van daardie gedeelte staan in vers
19: “daarna sê Hy vir hom: volg My”. So sê die Here
vandag vir ons met hierdie voorraadopname: “As jy My waarlik liefhet,
volg My”. Moenie agterbly nie, vriend, volg Hom. Waarheen? Hemel toe!
Hoe lyk ons staat van bates en laste? Geestelik bankrot? Of is die
skatkamers van liefde “chock en block”-vol? Kom ons neem
vandag voorraad op: |