VOORWERPE VIR BESONDERE GEBRUIK


Kyk jy ook soms op na ander mense en dan beny jy hulle so bietjie? Dit kan nou wees as jy kyk na mense se omstandighede, of hulle huwelike, lewenswyse, hulle status, finansies, besittings, ens., en dan dink mens: hoekom is húlle so gelukkig? Of mens dink dat hulle besondere guns van God geniet, dat hulle Sy witbroodjies is, Sy spesiale gesante. Ons kyk soms op na mense oor hulle Geestelike posisie. Dalk wil baie van ons Billy Graham’s wees, of Joyce Meyer’s. Dit is so dat daar mense is wat ons gemiddelde pleps maar vaal laat lyk. Maar, die vraag is: in wie se oë? Ek dink ons wil maar almal voel soos voorwerpe wat vir besondere gebruik gemaak is. Voel jy ook so? Ons wil dalk graag so kundig klink soos sus en so, of, as ek maar net kon bid soos die en daai, of, sjoe, sy het darem maar altyd ‘n gepaste woord vir iemand, of, hy stap so naby aan die Here, of, sy het so baie gawes … Ek dink net ons verstaan nie ons rol so mooi nie – ek glo die Here het ons elkeen met ‘n bepaalde doel, vir ‘n bepaalde gebruik op ‘n spesifieke plek geskep. Aanvaar jy jou posisie? Het jy jou plekkie al ontdek? Sien jy die belangrikheid van jou rol raak? 

Elkeen van ons is ‘n voorwerp vir besondere gebruik. Ons moet net aanvaar dat God nie foute maak nie. Niemand kan met Hom redeneer nie: 

Rom 9:19-23
Nou sal jy vir my sê: "Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?" Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: "Waarom het jy my so gemaak?"
Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?
En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy heerlikheid deel te hê.
 

Sien jy, God doen wat Hy wil, met wie Hy wil. Hy het elkeen van ons geskep soos Hy wil, vir die doel waarvoor Hy wil. Ek dink net ons as klei stukke probeer vir die Pottebakker vertel wat Hy moet maak. Miskien is dit hoekom ons so ontevrede en onvergenoegd is? 

2 Tim 2:20-21
In 'n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse.
As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy 'n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.

Voorwerpe van goud en silwer, hout en klei – let wel, iets van alles. Hierdie gedeelte leer ons iets van God se soewereiniteit, die feit dat Hy besluit wat Hy doen, sonder om aan die mens verantwoording te doen. As dit dan waar is, behoort ons onsself volledig aan God te onderwerp. Die Pottebakker is immers die Pottebakker en die klei is net die klei. Die Pottebakker is in beheer, en die klei word dít wat die Pottebakker vir hom bedoel het om te wees. ‘n Skilder maak nie sommer net ‘n klomp kwashale nie, en ‘n pottebakker vorm nie iets wat hy nie eers haarfyn beplan en ontwerp het nie. So is ek en jy nie net half gevormde, nuttelose stukke klei nie – jy en ek is kunswerke van God … sommige van goud, ander van silwer, ander van hout, ander van klei. Kan jy dit aanvaar?

 ‘n Voorwerp vir besondere gebruik is iemand wat vormbaar is, ‘n leerbare gees het, diensbaar is en gewillig om te doen wat die Skepper vir hom of haar bedoel het – sonder om te vergelyk, of te kompeteer, of homself gering te skat. ‘n Hand gevormde pot is altyd besonders en uniek. Omdat ‘n masjien nie die pot gevorm het nie, lyk hy anders as al die ander potte. God maak nie mense soos ‘n masjien nie, Hy vorm elkeen uniek en besonders, met ‘n plan en doel in gedagte. Daarom kan ons verseker weet dat ons uiterlike niks te doen het met ons bruikbaarheid nie. As die pottebakker besluit om die pot onaansienlik te maak, dan maak Hy so as Hy wil – maar die pot kan steeds ‘n unieke doel hê. As God jou met ‘n gestremdheid geskep het, is dit omdat Hy jou só wil gebruik. Jy is steeds Sý pot, vir besondere gebruik. As jy dalk nie baie besittings het nie, sukkel met geld, sukkel met gesondheid, maak dit hoegenaamd geen verskil aan jou funksionaliteit nie, en ook geen verskil aan die Pottebakker se liefde vir jou, Sy pot, nie. Glo jy dit?

Onthou daar is ‘n verskil tussen ‘n ornament en ‘n instrument. Die een moet net mooi lyk, maar hoef geen nut te hê nie, die instrument daarenteen, kan bruikbaar wees al lyk hy hoe – ‘n voorwerp vir besondere gebruik! 

Hoe kan ek ‘n voorwerp van besondere gebruik wees? 

2 Tim 2:21 “As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens”

Hierdie deel sê dit so eenvoudig:
1)       Van die kwaad gereinig: daar moet dus by ons ‘n strewe wees na reinheid, sodat daar niks is wat enige iemand teen ons kan hou nie.
2)       Afgesonder vir die eienaar: leef, werk, bestaan tot voordeel van die eienaar, NET die eienaar
3)       Bruikbaar: gewillig, gereed, bekwaam. Soos wat jý gemaak is. Miskien is jy nie Billy Graham of moeder Theresa or Andrew Murray nie – nee, jy is Pieter, Alex, Koos, Gert … Billy Graham werk nie waar jy werk nie. Dalk is dit sommer net jý wat bruikbaar moet wees daar waar jy is.
4)       Voorberei vir enige goeie diens. Diensbaar. Dalk nie die prediker vir duisende nie, miskien iemand wat die glase water vir die prediker aandra, of die stoele reg pak vir die kerkdiens. Miskien is jy die een wat iemand gaan bemoedig of net luister as iemand ‘n oor nodig het. Goud, silwer, hout, klei – alles ewe belangrik. Ek bou tog eerder ‘n kasdeur van hout, as van goud; ‘n trouring van klei sal nie werk nie. So het elkeen ‘n bepaalde doel, op ‘n bepaalde plek. 

Die Here weet wat Hy doen en wat Hy met my en jou beplan het – gaan wees ‘n voorwerp vir besondere gebruik in die hand van die Pottebakker.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)