|
|
|
VOORWERPE
VIR BESONDERE GEBRUIK – 24 Junie 2008 Kyk jy ook soms
op na ander mense? En dan beny jy hulle so bietjie? Dit kan nou weesas jy
kyk na mense se omstandighede, of hulle huwelike, lewenswyse, hulle
status, finansies, besittings, ens., en dan dink mens – hoekom is húlle
so gelukkig? Of mens dink dat hulle besondere guns van God geniet, dat
hulle Sy witbroodjies is, Sy spesiale gesante. Ons kyk soms op na mense
oor hulle Geestelike posisie. Dalk wil baie van ons Billy Graham’s wees,
of Joyce Meyer’s. Dit is so dat daar mense is wat ons gemiddelde pleps
maar vaal laat lyk. Maar … dit vraag is: in wie se oë? Ek dink ons wil
maar almal voel soos voorwerpe wat vir besondere gebruik gemaak is. Voel
jy ook so? Ons wil dalk graag so kundig klink soos sus en so, of, as ek
maar net kon bid soos die en daai, of, sjoe, sy het darem maar altyd ‘n
gepaste woord vir iemand, of, hy stap so naby aan die Here, of, sy het so
baie gawes … Ek dink net ons verstaan nie ons rol so mooi nie – ek glo
die Here het ons elkeen met ‘n bepaalde doel, vir ‘n bepaalde gebruik
op ‘n spesifieke plek geskep. Aanvaar jy jou posisie? Het jy jou plekkie
al ontdek? Sien jy die belangrikheid van jou rol raak? Elkeen van ons is
‘n voorwerp vir besondere gebruik. Ons moet net aanvaar dat God nie
foute maak nie. Niemand kan met Hom redeneer nie: Rom 9:19-23 Sien jy, God doen
wat Hy wil, met wie Hy wil. Hy het elkeen van ons geskep soos Hy wil, vir
die doel waarvoor Hy wil. Ek dink net ons as kleistukke probeer vir die
Pottebakker vertel wat Hy moet maak. Miskien is dit hoekom ons so
ontevrede en onvergenoegd is? 2 Tim 2:20-21 Voorwerpe van goud en silwer, hout en klei – let wel, iets van alles. Hierdie gedeelte leer ons iets van God se soewereiniteit, die feit dat Hy besluit wat Hy doen, sonder om aan die mens verantwoording te doen. As dit dan waar is, behoort ons onsself volledig aan God te onderwerp. Die Pottebakker is immers die Pottebakker en die klei is net die klei. Die Pottebakker is in beheer, en die klei word dít wat die Pottebakker vir hom bedoel het om te wees. ‘n Skilder maak nie sommer net ‘n klomp kwashale nie, en ‘n pottebakker vorm nie iets wat hy nie eers haarfyn beplan en ontwerp het nie. So is ek en jy nie net halfgevormde, nuttelose stukke klei nie – jy en ek is kunswerke van God … sommige van goud, ander van silwer, ander van hout, ander van klei. Kan jy dit aanvaar? ‘n Voorwerp vir besondere gebruik is iemand wat vormbaar is, ‘n leerbare gees het, diensbaar is en gewillig om te doen wat die Skepper vir hom of haar bedoel het – sonder om te vergelyk, of te kompeteer, of homself gering te skat. ‘n Handgevormde pot is altyd besonders en uniek. Omdat ‘n masjien nie die pot gevorm het nie, lyk hy anders as al die ander potte. God maak nie mense soos ‘n masjien nie, Hy vorm elkeen uniek en besonders, met ‘n plan en nut in gedagte. Daarom kan ons verseker weet dat ons uiterlike niks te doen het met ons bruikbaarheid nie. As die pottebakker besluit om die pot onaansienlik te maak, dan maak Hy so as Hy wil – maar die pot kan steeds ‘n unieke doel hê. As God jou met ‘n gestremdheid geskep het, is dit omdar Hy jou só wil gebruik. Jy is steeds Sy pot, vir besondere gebruik. As jy dalk nie baie besittings het nie, sukkel met geld, sukkel met gesondheid, maak dit hoegenaamd geen verskil aan jou funksionaliteit nie, en ook geen verskil aan die Pottebakker se liefde vir jou, Sy pot, nie. Glo jy dit? Onthou daar is
‘n verskil tussen ‘n ornament en ‘n instrument. Die een moet net
mooi lyk, maar hoef geen nut te hê nie, die instrument daarenteen, kan
bruikbaar wees al lyk hy hoe – ‘n voorwerp vir besondere gebruik ! Hoe kan ek ‘n
voorwerp van besondere gebruik wees? 2 Tim 2:21 “As
iemand hom van die kwaad gereining het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere
gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees,
voorberei vir enige goeie diens” Hierdie deel sê
dit so eenvoudig: Die Here weet wat Hy doen en wat Hy met my en jou beplan het – gaan wees ‘n voorwerp vir besondere gebruik in die hand van die Pottebakker.
|