|
|
|
Wie is die beste Eerste Minister / Staatspresident was ons nog gehad het? As ek jou sou vra of Pres Zuma goed is, sou baie mense sê nee, Mbeki was beter. In Mbeki se tyd het mense gesê Madiba was beter. In Madiba se begin-dae het party van ons dalk gevoel dis nou alles verlore, want FW was mos beter, en in FW se tyd het ons weer gedink PW was beter, en voor hom Voster, Malan, Verwoerd, ens. So ploeg ons die heeltyd agtertoe, heeltyd aan die omkyk na die verlede, en tye wat kwansuis beter was. Dis selde dat mense vorentoe hunker na beter dae. Die gemiddelde mens sien nie uit na die toekoms nie. Ons sien gewoonlik uit na die verlede .... sjoe, nee, dit maak nie sin nie. Tog praat ons altyd van die “goeie ou dae”. Is vandag regtig slegter as 40 jaar gelede? So kom dit deur dit geskiedenis .... Ek dink dit gaan miskien oor vrees. Ek dink ons ou Afrikanervolkie is ook maar skuldig aan die terugkyk-ding, alhoewel ons boere voorvaders die moed gehad het om te sê: “Nee, genoeg van hierdie verdrukking – ons gaan die Drakensberge oor” ... vorentoe na ‘n beter lewe toe. Maar deesdae lyk dit vir my of ons wil agtertoe ... na ‘n beter lewe toe. So asof die Here meer effektief in die verlede is as in die toekoms, asof Hy meer in beheer is agter ons as voor ons. Kan jy regtig sê dat jy uitsien na ons volgende President se koms? Of na die ekonomie van volgende jaar? Eks 13:17-22 So vind die “Groot Trek” plaas. Egipte na Kanaän ... 40 jaar lank. Weet jy hoe ver is dit? Kom ons sê die mense het ‘n slakkepas van so 5 km per dag beweeg, dan was dit 25 km in ‘n week (naweke uitgesluit), 1 300 km in ‘n jaar, 13 000 in 10 jaar, en dus so 52 000km (teen ‘n baie stadige pas!) in die 40 jaar. Dit is een en ‘n half keer om die aarde! Maar ... die afstand wat hulle afgelê het was slegs 400km, as hulle die korste pad sou neem. Die Here het egter vir hulle ‘n verder pad laat trek wat veiliger was, so amper 800 km ver. Dit moes hulle enkele maande geneem het. So om en by Margate toe van hier af. Toe neem dit hulle veertig jaar! Hulle was skaars weg uit Egipte uit, toe is die Farao spyt, want toe is hy hulle dienste kwyt. En nét daar en dan is die Israeliete spyt, want hulle is toe die kospotte van Egipte kwyt. Eks 14:10-14 Moses sou later baie dikwels hierdie woorde gebruik: Moenie bang wees nie. Ons ken die uiteinde van die uittog. Veertig jaar later sou hulle die een stad na die ander in Kanaän verower. Ons spog graag met ons Here wat vir hulle die land van oorvloed gee, en ons haal graag Sy versorging en grootheid aan. Maar dan steek ons self in die woestyn vas. Lot se vrou verander in ‘n soutpilaar, omdat sy omkyk tydens die slagting in Sodom en Gomorra. Hoekom het die Here dit gedoen? Miskien omdat Hy geweet het wat in haar kop aangaan. Terug Sodom toe, terug Egipte toe, net nie Ninevé toe nie – klink bekend. Daardie klomp in die Bybel is maar net soos ons. Terug na Verwoerd en Hertzog se tyd, net nie more nie. Dit lyk my dat die grootste probleem van die Israeliete hulle vrees was, en hulle gebrek aan vertroue op die Here. Here, bly liewer hier by ons in die woestyn, die reuse gaan ons vang. Ek dink hulle het net na die warm woestynsand gekyk, en nie probeer om Kanaän op die horison te sien nie. Liewer manna en kwartels, as melk en heuning. Liewer ‘n tent van ontmoeting as ‘n tempel. Liewer agtertoe sonder die Here as vorentoe met Hom. Hulle sou later verstom staan oor die krag wat in hulle opgesluit was toe hulle die een stad na die ander verower. Jy weet, hierdie Israeliete sien die een wonderwerk na die ander. Die see kloof oop, water kom uit die rots, manna val uit die hemel, hulle skoene verslyt nie, maar terug wil hulle terug. En ek en jy? Dink gou bietjie of jy een of ander bo-natuurlike goed beleef het die afgelope 10 jaar? Goed wat jy wonderwerke kan noem. Versorging, genesing, ‘n langverwagte werk, nuwe band met die Here, herstelde verhoudings, ‘n klompie geld uit ‘n vreemde oord. Dink jy dis jou eie oulikheid? Nee, dis die Here aan die werk. Daarom kan ek en jy vorentoe beur, oor die Drakensberg met ‘n ossewa, deur die woestyn te voet, Kanaän toe. Moenie te veel dink aan gister nie, gister was in elk geval die dag wat eergister so verskriklik gelyk het. Die Here is lief vir hierdie land, dis verseker. Hy is lief vir ons ou aardetjie, beslis. Hy het NIE onttrek nie. Hy stap saam vorentoe, elke dag. Kom ons hou op om die toekoms te vrees, dis onnodig. Hou op om terug te kyk, dis verby. Begrawe die verlede, omhels die toekoms. Sien uit na die sonsopkoms. Gryp die nuwe dag aan, dalk is volgende jaar jou genade jaar, miskien is die deurbraak voor die deur. Stap, vinnig, voordat die melk en druiwe suur is, of die heuning sandsuiker is. Miskien kom daar nog oorloë, soos vir die Israeliete, maar hulle het oorwin. en jy sal ook. Voorwaarts Christen stryders.... |