VRIENDSKAP


Ons het by 'n vorige geleentheid gepraat oor liefde - Hoe weet jy dat iemand jou liefhet? Onvoorwaardelik liefhet. Vandag wil ek dit verder vat en praat oor vriendskap. Ware, opregte vriendskap. Daardie band wat jy met iemand het wat jou onvoorwaardelik ondersteun en bystaan, deur dik en dun.

1 Sam 18 : 1 - 5
1 Nadat Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan baie geheg geraak aan Dawid en hom liefgekry soos homself.
2 Dieselfde dag nog het Saul vir Dawid saamgevat huis toe en hom nie toegelaat om na sy pa se huis toe terug te gaan nie.
3 Jonatan en Dawid het 'n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself.
4 Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel.
5 Dawid het toe opgetrek teen elkeen teen wie Saul hom uitgestuur het. Hy was suksesvol, en Saul het hom oor die soldate aangestel. Die hele volk en Saul se amptenare het dit goedgevind.

Ons lees van 'n besondere band tussen twee vriende. So entjie verder lees ons hoe Jonatan vir Dawid gaan intree by Saul. Daar staan eintlik, "Jonatan pleit by Saul vir Dawid". En so het elkeen van ons vriende in ons lewe nodig. Ek hoop regtig jy het ook sulke vriende. Steunpilare wat jou gebou bo hou as daar storms kom.

Kom ons vra vandag die vraag: "Hoe weet iemand dat jy hom/haar liefhet?" Het jy al 'n goeie vriend verloor? Of deur die dood, of selfs net deur afstand? Iemand wat dalk die land verlaat het? Dan kom mens eers vir die eerste keer tot die besef wat daardie persoon vir jou beteken het. 'n Goeie vriend is natuurlik ook 'n mentor en 'n klankbord. Iemand met wie jy enige tyd 'n saak kan toets of dalk net jou hart uitpraat. Dit is baie nodig om goeie vriende te hê.

Prediker 4 : 9 - 12
9 Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets.
10 As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.
11 As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word?
12 Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie.

· Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. Dis eintlik so mooi gestel - hulle inspanning kom tot iets. Dit wat hulle aanpak, het krag. Tog so jammer dat 'n verhouding soos dit so dikwels suur raak as geld betrokke raak. Het jy al gehoor iemand sê: "sjoe, hierdie vennoot van my het my befoeter en bankrot agtergelaat, en dan was hy nogal my vriend?" Nou ja, tog so snaaks dat mens altyd net die goeie party (die onskuldige) ontmoet. Ek het nog nooit gehoor dat iemand vertel dat hy die ander een so lekker verneuk het nie. Snaaks. Altyd dieselfde storie. Amper soos tweedehandse karre: hulle het mos almal aan ou tannies behoort. Die Prediker sê egter dat in ’n goeie gesonder vriendskapsverhouding kom dinge tot iets, dit het ’n voordeel vir beide partye.
· As een val, kan die ander hom ophelp. Het jy al drie-been resies gehardloop? Twee persone met drie bene vorder baie vinniger as een persoon met 'n afbeen. In die weermag het ons gepraat van “buddie-buddie” as ons mekaar geabba of gedra het.
· Twee broei mekaar warm. Elkeen het tog sy eie hitte, maar twee langs mekaar broei baie warmer. Nogal lekker om so styf agter vroulief se lyfie in te kruip (dis nou jou eie liefie se lyfie!) Maar o koek, as daai yskoue voetjies hier teen jou maermerries druk, is dit niks pret nie.
· Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. Nogal moeilik om iemand se rug by te kom as die ou se vriend rug aan rug staan en vir jou kyk. Tog so jammer dat vriende mekaar so maklik in die rug steek.

'n Drie-dubbele tou breek nie maklik nie. Is jy dalk dáár as deel van 'n drie-dubbele tou vir iemand?

Dan is daar dié mense wat kies om niemand deel van hulle lewe te maak nie:

Pred 4 : 7 - 8
7 Ek het in hierdie wêreld nog meer gesien wat tot niks kom nie:
8 daar was 'n man wat alleen was, sonder seun of broer. Tog was daar nie 'n einde aan al sy inspanning nie en was hy steeds op soek na meer rykdom. Hy moes later sê: Vir wie sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge? Ook hier kom dit tot niks. Dit bly 'n harde saak.

Hierdie persoon het besluit om alles en almal om hom te verruil vir rykdom en gejaag. Hy moes later sê: "Vir wie sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge". Ken jy ook so iemand? Kan nooit 'n uitnodiging aanvaar nie, want hy is te besig (om geld te maak).

Spr 23 : 6 - 7
6 Moenie by 'n suinige mens gaan eet nie, moenie sy lekker kos begeer nie,
7 want hy bly uitreken hoeveel dit hom kos. Dit is hoe hy is. Hy moedig jou aan om te eet en te drink, maar hy bedoel dit nie.

Sjoe, wat kan mens meer sê...  Ek wil nie graag in 'n drie-dubbele tou gebind wees met iemand wat dit net doen ter wille van sy eie voordeel nie.

So baie mense wat rykdom so najaag het naderhand geen vriende oor nie. Net geld, en dan ook maar nooit genoeg nie.

Spr 17 : 17 "Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken, jou broer is daar met die oog op jou nood". Nee wat, 'n opregte vriend is meer werd as baie geld.

Spr 27 : 10 "Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie. 'n Buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat vêr is."

Spr 24 : 26 "Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend."

Spr 18 : 24 "Maats kan jou breek, maar daar kan 'n vriend wees wat nader is as 'n broer."

Spr 22 : 11 "Wie daarop prys stel om opreg te wees en vriendelik te praat, het selfs die koning tot vriend."

Spr 27 : 17 "Yster slyp yster, vriende vorm mekaar." 

Spr 27 : 6 "Op 'n vriend wat jou seermaak, kan jy reken, iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene."

Spr 27 : 9 "Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry."

Spr 19 : 6 "Almal soek die gesindheid van 'n man met mag, elkeen is die vriend van iemand wat geskenke uitdeel."

Spr 16 : 28 "Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende."

Kom ons pas ons vriendskappe goed op, sodat daar iemand is waarop jy kan reken. Hoeveel mense kan jy nóú bel as daar moeilikheid is? Hoeveel mense kan jou bel as hulle in die moeilikheid is. Niemand wil ’n mooiweersvriend hê nie!

Laastens: as daar dalk 'n vriend is waar die verhouding bietjie skeef geloop het, gaan maak dit vandag reg. Moenie uitstel nie.

Geniet jou vriendskappe, dis lekker vir mense om te weet dat jy omgee.


 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)