|
|
|
Ons het by 'n vorige geleentheid gepraat oor liefde - Hoe weet jy dat iemand jou liefhet? Onvoorwaardelik liefhet. Vandag wil ek dit verder vat en praat oor vriendskap. Ware, opregte vriendskap. Daardie band wat jy met iemand het wat jou onvoorwaardelik ondersteun en bystaan, deur dik en dun. 1 Sam 18 : 1 - 5 Ons lees van 'n besondere band
tussen twee vriende. So entjie verder lees ons hoe Jonatan vir Dawid gaan
intree by Saul. Daar staan eintlik, "Jonatan pleit by Saul vir
Dawid". En so het elkeen van ons vriende in ons lewe nodig. Ek hoop
regtig jy het ook sulke vriende. Steunpilare wat jou gebou bo hou as daar
storms kom. Prediker 4 : 9 - 12 · Twee vaar beter as een. Hulle
inspanning kom tot iets. Dis eintlik so mooi gestel - hulle inspanning kom
tot iets. Dit wat hulle aanpak, het krag. Tog so jammer dat 'n verhouding
soos dit so dikwels suur raak as geld betrokke raak. Het jy al gehoor
iemand sê "sjoe, hierdie vennoot van my het my befoeter en bankrot
agtergelaat?" En dan was hy nogal my vriend. Nou ja, tog so snaaks
dat mens altyd net die goeie party (onskuldige) ontmoet. Ek het nog nooit
gehoor dat iemand vertel dat hy die ander een so lekker verneuk het nie.
Snaaks. Altyd dieselfde storie. Amper soos die tweedehandse karre. Almal
aan ou tannies behoort. Maar in 'n goeie gesonder vriendskapverhouding,
sê Prediker, kom dinge tot iets. 'n Drie-dubbele tou breek nie maklik nie. Is jy dalk daar as deel van 'n drie-dubbele tou vir iemand? Dan is daar diè mense wat kies om niemand deel van hulle lewe te maak nie: Pred 4 : 7 - 8 Hierdie persoon het besluit om alles en almal om hom te verruil vir rykdom en gejaag. Hy moes later sê, "Vir wie sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge". Ken jy ook so iemand? Kan nooit 'n uitnodiging aanvaar nie, want hy is te besig (om geld te maak). Spr 23 : 6 - 7 Sjoe, wat kan mens meer sê... Wil nie graag in 'n drie-dubbele tou gebind wees met iemand wat dit net doen ter wille van sy eie voordeel nie. So baie mense wat rykdom so najaag, dat hulle naderhand geen vriende het nie. Net geld, en dan ook maar nooit genoeg nie. Spr 17 : 17 "Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken, jou broer is daar met die oog op jou nood". Nee wat, 'n opregte vriend is meer werd as baie geld. Spr 27 : 10 "Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie. 'n Buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat vêr is." Spr 24 : 26 "Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend."!!! NB Spr 18 : 24 "Maats kan jou breek, maar daar kan 'n vriend wees wat nader is as 'n broer." Spr 22 : 11 "Wie daarop prys stel om opreg te wees en vriendelik te praat, het selfs die koning tot vriend." Spr 27 : 17 "Yster slyp yster, vriende vorm mekaar." Spr 27 : 6 "Op 'n vriend wat jou seermaak, kan jy reken, iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene." Spr 27 : 9 "Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry." Spr 19 : 6 "Almal soek die gesindheid van 'n man met mag, elkeen is die vriend van iemand wat geskenke uitdeel." Spr 16 : 28 "Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende." Kom ons pas ons vriendskappe goed op, sodat daar iemand is waarop jy kan reken. Hoeveel mense kan jy nou bel as daar moeilikheid is? Hoeveel mense kan jou bel as hulle in die moeilikheid is. Mooiweersvriende? Lelike goed. Laastens - As daar 'n vriend is waar die verhouding bietjie skeef geloop het, gaan maak dit vandag reg. Geniet jou vriendskappe, dis lekker vir mense om te weet dat jy omgee. |