|

VYF KLIPPIE-GELOOF – 30 Maart 2009
Besige tye, swaar
tye, uitdagings …. Dit vra nogal vernuftigheid en beplanning, of hoe?
Hoe groter die uitdagings, hoe groter die planne. Hoe groter die golwe,
hoe groter moet die boot wees. Hoe groter die leeu, hoe groter die geweer
se kaliber. Hoe groter die berg, hoe groter die pakkaas wat ons saamdra om
daaroor te kom. Klink dit vir jou so bietjie bekend? Verlede jaar op die
Mighty Men Konferensie sê Angus vir die besigheidsmanne: “Ouens, as dit
moeilik gaan, hou op planne maak, vertrou die Here”. Dit klink
sinneloos, of hoe? Natuurlik moet ek vernuftig besigheid doen, meer
risiko’s neem, ander uitoorlê sodat die kompetisie minder raak – ja,
dis nou maar eenmaal die mens se reaksie: hoe groter die probleem, hoe
groter die planne. Aan die een kant is dit reg, maar in geestelike terme
lyk dit of ons soms die onlogiese moet doen. Het jy geweet Christenskap is
nie logies nie? Jy glo bv in Iemand wat jy nie kan sien nie. Jy veg
heeldag teen jou ingebore emosies: woede, begeertes, ens. En dan wil jy
verlossing hê sonder om iets daarvoor te doen. Nog ander onlogiese goed
is om die ander wang te draai as iemang jou klits. Jy moet vir jou vyand
bid, jy moet hulle selfs seën. Dit lyk asof Christenskap nie sin maak
nie!
Nou ja, al
hierdie goeters hang aan een haak, en dis die haak van geloof. Wel, almal
glo iets. En hier is nog iets wat nie sin maak nie. Ons wil sê: “Hoe
groter die probleem, hoe groter moet die geloof wees”. Daarom glo ons in
‘n groter boot vir die storm, en ‘n groter kanon vir die oorlog. Dit
lyk my egter die Here werk anders.
1 Sam 17:38-50
Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek: hy het 'n bronshelm
op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek, en
Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon nie
loop nie, want hy was dit nie gewoond nie. Dawid sê toe vir Saul:
"Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie."
En Dawid het dit uitgetrek.
Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit
uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy
slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop.
Die Filistyn het al hoe nader gekom na Dawid toe, terwyl sy skilddraer
voor hom was.
Toe hy vir Dawid sien, het die Filistyn hom met minagting aangekyk omdat
hy jonk was, met 'n rooi gelaatskleur en 'n mooi voorkoms.
Die Filistyn het vir Dawid gesê: "Is ek 'n hond dat jy met kieries
na my toe kom?" Hy het Dawid toe in die naam van die Filistynse gode
vervloek.
Verder het die Filistyn vir Dawid gesê: "Kom 'n bietjie hier dat ek
jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee."
Maar Dawid sê vir die Filistyn: "Jy kom na my toe met 'n dolk en 'n
spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die
Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.
Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou
kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse
laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld
kan besef dat Israel 'n God het.
Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies
verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in
ons mag oorgee."
Toe die Filistyn regmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid die
Filistyn vinnig op die vegterrein tegemoet gehardloop.
Toe steek Dawid sy hand in die sak, vat 'n klip daaruit, gooi met die
slingervel, en tref die Filistyn teen die voorkop. Die klip het in sy
voorkop ingedring, en hy het vooroor geval op die grond.
Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom
verslaan en doodgemaak. Dawid het nie eens 'n swaard by hom gehad
nie!
‘n Bekende
stukkie geskiedenis van Dawid en Goliat. Kan jy glo dat Saul hierdie geveg
toelaat? Hy gaan kies nie die grootste kryger in sy leër nie. Hy laat toe
dat hierdie jong seun die reus gaan aandurf. Ek dink dit het ook nie vir
hom sin gemaak nie. Hy gee egter vir Dawid sy bronshelm, harnas en swaard.
Maar Dawid voel toe anders. Hy voel dis so ‘n bietjie van ‘n
“overkill”. Dawid het seker so by homself gedink: “Hemel ouens, dis
net EEN mens. Ek hoef net op een Persoon te fokus. Ek hoef net op een
Element te konsentreer, en as ek op die een Element fokus, gaan ek reg
wees” En daardie Element was nie Goliat nie! Daarom vat hy die
slingervel en vyf klippies. Hy kies nie die swaard-opsie nie. Dawid fokus
nie op die reus nie. Hy sê:
1 Sam 17:45-47
Maar Dawid sê vir die Filistyn: "Jy kom na my toe met 'n dolk en
'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here
die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.
Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou
kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse
laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld
kan besef dat Israel 'n God het.
Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies
verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in
ons mag oorgee."
Dawid fokus op
die Here. Toe Dawid se probleem groter word, toe word sy toerusting
kleiner, want sy geloof was nie in sy toerusting nie, maar in die Here. Jy
sien, Dawid was dalk heimlik bly dat Goliat so groot was; dalk het hy in
sy gedagtes gedink: “Mens, ek is so bly jy is so groot, want nou kan ek
jou nie mis nie! Dis dalk moeilik om ‘n voëltjie met ‘n slingervel
dood te gooi, maar Goliat, dankie dat jy so ‘n groot teiken is!”
Groot geloof vra
nie groot “tools” nie, al is dit wat ons wil doen. Ons wil ‘n groter
boot hê as die golwe groter word, en die wind sterker word. Lyk my egter
met die Here aan jou sy moet jy altyd die onlogiese aanvang.
Matt 14:22-32
Net daarna het
Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar
na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan.
Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om
te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.
Die skuit was reeds 'n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe
geteister, want die wind was van voor.
Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop
gekom.
Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en
gesê: "Dis 'n spook!" Van angs het hulle hard begin skreeu.
Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: "Wees gerus, dit
is Ek. Moenie bang wees nie."
Toe sê Petrus vir Hom: "Here, as dit regtig U is, beveel my om op
die water na U toe te kom."
"Kom!" sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water
begin loop en naby Jesus gekom.
Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin
sink en uitgeroep: "Here, red my!"
Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê:
"Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?"
Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê.
Kan jy sien wat
Jesus doen met sy dissipels? Toe die wind sterk was, tower Hy nie vir
hulle ‘n groter boot op nie. Nee, Hy loop sommer net na hulle toe op die
golwe, en Hy nooi toe selfs vir Petrus om dit te doen, en Petrus glo só
sterk, dat hy die uitdaging aanvat. Hy loop bo-op die water, totdat hy op
die wind fokus en nie op die Here nie. Eers toe sink hy. Nou vra ek vir
jou: “Hoe het hy teruggekom in die boot?” Het Jesus hom gedra? Het Hy
geswem, of water getrap, of het hy dalk op die water geloop saam met
Jesus? Ek glo hy het geloop, want sy redding was nie gesetel in die
grootte van die boot nie, maar om “sinneloos” te glo.
Matt 14:15-21
Toe dit al aand
begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: "Dit is 'n afgeleë
plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle
kan gaan kos koop in die dorpe."
Maar Jesus sê vir hulle: "Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle
vir hulle iets om te eet."
Hulle sê toe vir Hom: "Ons het hier net vyf brode en twee
visse."
"Bring dit vir My hier," sê Hy.
Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe
neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die
seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en
hulle het dit aan die mense gegee.
Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies
vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het.
Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens
en kinders.
Net vyf brode en
twee vissies, en die Koning van die konings.
Vreemde ding,
hierdie geloofstorie. Niks maak sin as mens met menslike oë hierna kyk
nie. My vriend, as dit gewerk het soos ‘n mens se brein werk, het jy nie
vir God nodig gehad nie. Kan jy sien dat jy vyf klippie-geloof, vyf
broodjie-geloof nodig het? Mosterdsaadjie-geloof?
Loop-op-die-water-geloof?
Hoe lyk jou
uitdaging in hierdie tyd in jou lewe?
o
Voel dit vir jou of die reus besig is om op jou af te storm?
Met ‘n swaard en ‘n spies en ‘n lans? Dryf dit jou rasend dat jy nie
genoeg toerusting bymekaar het nie?
o
Voel dit vir jou of die golwe jou boot gaan omgooi, omdat
die branders hoër is as die boot se kante, en omdat jou boot al hoe
kleiner lyk teen die storm?
o
Voel dit vir jou of jou twee brode nie eers een dag ver gaan
strek nie, wat nog van om 5000 te voed?
Wel, as dit waar
is, het ek net een stukkie raad vir jou: loop die onlogiese pad wat
hierdie gelowiges voor jou gestap het: los die swaard en die borsharnas,
klim uit die boot uit en loop op die water. Gebruik wat jy het. Hier is
die resep:
1)
Stap spruit toe, en kry vir jou vyf klippies
2)
Trek jou skoene uit vir gemaklike waterstap
3)
Vat nét die broodjies en vissies in jou huis.
Dis die
bestanddele. Die metode is as volg:
Draai alles toe in ‘n klein bietjie mosterdsaad-geloof. Moenie meer as
dit gebruik nie. En dan: wag! Jy prop nie ‘n koek in die oond en pluk
hom dadelik weer uit nie. WAG.
Jy sien, die Here
werk nie soos ons nie. Hy werk anders, menslik gesproke onlogies en
sinneloos. Dawid het ‘n koning geword, Petrus ‘n prediker van formaat,
die volk is gevoed. En jy? Jy word ‘n wenner.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|