|
|
|
WAAR
DIE TEKKIE DIE TEER TREF – 18 November 2009 Ek hoor een
Sondag 'n boodskap – eintlik die plan - van 'n jong man wat 'n
jeugwerker in 'n gemeente is. Hy ry onlangs deur Sunnyside en besluit daar
en dan dat hy 'n jaar daar moet gaan bly. Tussen verval, prostitusie,
tussen misdaad, tussen armoede en swaarkry. Vele mense sę vir hom hy moet
gek wees, maar hy het gevoel hy kan nie mense bedien as hy nie hulle
situasie verstaan nie. Nou
wil ek vir jou vra: Kan ons vir ons stad en land bid, die werk van
die Here doen en 'n verskil maak as ons nie verstaan nie? Ek raak so
ontsteld en opstandig oor teologiese strominge wat deesdae so flink
opskiet soos paddastoele. EK verbeur seën omdat EK nie dit en dat doen
nie, en omdat EK nie sus of so glo nie, en omdat EK nie sus of so saai
nie. En EK moet gou-gou tot bekering kom, want die eindtye is nou hier. En
EK word siek en bly arm omdat EK nie hierdie of daardie rituele uitvoer
nie, en EK word teruggehou omdat daar iewers 'n beeldjie in my laai lę.
En dis natuurlik ook hoekom EK die een kwaal op die ander kry, En ja, my
voorouers wat aan snaakse goeters behoort het, maak dat EK nie vooruitgaan
nie. EK EK EK. MY finansies. MY gesondheid. Ja wel, sommige
van hierdie goed hou 'n element van waarheid in, maar dit klink so bietjie
na hierdie eie-ek-teologie. Kom ek deel hierdie deel met jou wat Jesus se
hart weerspieël. Jesus-teologie... Matt 25 : 31 –
46"Wanneer die Seun van
die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy
koninklike troon gaan sit. Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring
word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos 'n wagter die skape van die
bokke skei. Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan.
"Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sę: 'Kom, julle wat
deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die węreld
af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit,want Ek was honger,
en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets
gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek
was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My
verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.' Dan sal dié wat die wil
van God gedoen het, Hom vra: 'Here, wanneer het ons U honger gesien en U
gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U 'n
vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee?
Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?' En die Koning
sal hulle antwoord: 'Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een
van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan
My gedoen.' "Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sę: 'Gaan
weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die
duiwel en sy engele voorberei is, want Ek was honger, en julle het My niks
gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink
nie; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder
klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle
het My nie versorg nie.' Dan sal hulle ook antwoord: 'Here, wanneer het
ons U honger of dors of 'n vreemdeling of sonder klere of siek of in die
tronk gesien en U nie gehelp nie?' En Hy sal hulle antwoord: 'Dit verseker
Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen
het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.' En hierdie mense sal
die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die
ewige lewe." DIT... is waar
die tekkie die teer tref. Die basiese. Jesus-teologie. Back to basics,
daar waar dit regtig saak maak. In hierdie gedeelte lees ons van die
plekke waar Jesus uitgehang het. Tussen die tollenaars en die armes. Die
siekes en die prostitute. Daar waar mense swaar kry in die tronk. DIT was
vir Jesus belangrik. Nie hoeveel van hierdie nuwerwetse rituele jy uitvoer
nie. Nie hoe jy sekere dinge vier nie. Of NIE vier nie. Nee, Jesus praat
hier van dié wat honger en dors is, van die wat arm en siek is. Van die
dakloses en dié in die tronk. So in 'n neutedop:- die uitgeworpenes. Nou
verstaan ek hoekom Ryno in Sunnyside wil gaan bly. Om te VERSTAAN hoe dit
is waar die nood op sy hoogste is. Ons is betrokke
by die vrouegevangenis. Dikwels kom mense by ons en vra om toegang tot die
gevangenis te kry, want hulle wil vir die mense daar gaan bid, en hulle
beraad en ophef, en goetertjies invat om hulle lewe beter te maak. Dan sę
ons dis reg, maar jy moet eers vir 'n tydperk vir 'n gevangene skryf en so
nou en dan vir haar gaan kuier, sodat jy kan verstaan hoe dit daar is.
Dan... poef ... verdamp hulle soos mis voor die son.
Want dit is mos nou nie “glamorous” genoeg om net vir iemand te
skryf nie, wie wil nou net DAARVAN getuig? Jy ken mos die sęgoed
soos, sluit hulle toe en gooi die sleutel weg!!! Dis mos in elk geval 'n
vyfster hotel. Ja, totdat jou kind of jou ma daar beland. Dan sing mense
vinnig 'n ander deuntjie. Gebeur gereeld hoor! Kan met jou ook gebeur. Waar hierdie
persoon dan nou vra:- Wanneer was U honger, of dors, of 'n vreemdeling?
Dan sę Jesus:- “Sover jy dit aan die geringstes gedoen het...”. Matt 5 : 13
“Julle is die sout vir die aarde...”. Sout, wonderlike smaakmiddel.
Maar sout wat in 'n soutpot bly beteken absoluut NIKS. Dis eers waar dit
so bietjie uit sy dop kruip dat dit iets beteken.
Hier is vir jou 'n uitdaging:- Is jy bereid om
net vir een uur van jou lewe tyd en moeite op te offer, om te gaan doen
wat Jesus gedoen net? Sal jy 'n paar vriende bymekaarkry en een aand deur
die middestad gaan loop en “prayerwalking” doen? Gaan stap in
Pretorius straat verby die RGN gebou, en kyk hoe die mense soos
sardientjies ingepak op die sypaadjies slaap. Hy rol homself saam met sy
persoonlike besittings in 'n kombers toe, en dan in 'n stuk plastiek, en
so slaap hy op die sement. Hoekom? Want daar is geen ander plek nie. Of, gaan stap in
Esselenstraat of Kerkstraat in Arcadia waar die prostitute besig is. Jong
meisies wat hulle liggame verkoop. Pragtige jong meisies met ongelooflik
baie potensiaal. Miskien kry jy die moed bymekaar om vir een te vra hoekom
sy dit doen. Oppas net vir die antwoord!!! Dalk sę sy vir jou iets soos:-
“Ek het nog nooit in my lewe liefde geken nie. My ouerhuis is 'n gemors.
Al wat ek ooit van my ouers gekry het was geld. Ek het verslaaf geraak aan
dwelms, en nou besit die Nigeriërs my. EK HAAT ELKE OOMBLIK VAN HIERDIE
AFBREKENDE, SINNELOSE BESTAAN, en oorweeg elke dag selfmoord”. Wat sou Jesus
doen as Hy so deur die stad sou stap? Sou Hy hulle verwerp en Sy rug
draai? Of sou Hy met deernis na hulle toe uitgereik het? Dis dalk van
hulle wat Hy sę:- “Ek was honger, dors, eensaam, siek, uitgeworpe, en
julle het NIKS gedoen vir My nie”. Sover julle dit aan een van hierdie
geringstes gedoen het... Jy sien, Jesus se
voorskrifte sluit bitter min van hierdie “eie ek” dinge in. Al hierdie
wettiese, godsdienstige reëls wat ons deesdae so baie van hoor. Dis nou
as jy die DVD gekoop het. Alles tot voordeel van my eie voorspoed… ? Ek dink Jesus
soek ons so nou en dan daar by Sy werkplek, daar tussen die gebrokenes.
Daar by Sy kinders wat so oneindig swaarkry en gebuk gaan onder die
slegste denkbare omstandighede. 'n Lamp onder 'n emmer kan net sowel
afgeskakel wees, en sout in 'n soutpot kan net sowel sand wees, dit
beteken NIKS!!! Jy sien my
vriend, ons kies graag om eerder te veroordeel wanneer ons met hierdie
realiteite gekonfronteer word, want dan hoef ons niks te doen nie. Maar
Jesus het dit nie EEN keer gedoen nie. Hy het altyd uitgereik, genees en
graag die mense aangeraak. Selfs die melaatses. Jesus het ware
Christenskap uitgeleef deur DAAR te wees. Hy het nie langafstand (per
e-pos) bedien nie, Hy was daar. Ons, daarenteen,
verkies nogal graag 'n lekker gemaklike vorm van Christenskap, wat tot ons
eie voordeel moet meewerk. Ons vertel mekaar hoe ons ons regte moet opeis,
en goeie goed oor onsself moet uitroep, en ons wil gereeld vir die Here
aan Sy beloftes herinner om ons nog bietjie meer te seën. So asof ons nie
al trommeldik geseën is nie!!! Wil jy weet
HOEVEEL seën jy het? Gaan loop dan so bietjie tussen mense met wie dit so
'n porsie slegter as met jou gaan. Het jy geweet dat bykans die helfte van
die węreldbevolking nie permanent toegang het tot 'n toilet nie?
Ek is bevrees dat godsdienstige rituele en gelofies besig is om ons
Christenskap te defineer, en ons mis die punt. |