|
|
|
WAAR WAS GOD? Waar was God toe dit goed gegaan het? Nee, die vraag is nie verkeerd gevra nie! Onthou jy 11 September 2001? Wie sal ooit vergeet. Een van die grootste terroriste dade ooit word gepleeg en baie onskuldige mense sterf. Na die grootste skok verby is, begin die mense soek na antwoorde, en dan kom die vraag: Waar was God? Hoekom laat Hy dit toe? Een van daai vrae wat nie regtig 'n antwoord het nie. Net soos ons vandag presies dieselfde vra as dinge verkeerd gaan. En dinge gaan verkeerd:- misdaad, siekte toestande, bedrog, baie goed. En as ek sou vra of jy al deurgeloop het, sou jy sekerlik ook "ja" sê. Dan kom die vraag onwillekeurig by mens op "Waar is die Here dan?" Luk 17 : 11 - 19 En hier kom die vraag na die ander kant toe. Waar was Jesus toe dit goed gegaan het? Soos gister, laas week, vanoggend, nou die dag toe jy sommer so vanself gesond geword het. Of toe daardie finansiële meevallertjie verbygekom het. Ja, dit is so dat baie slegte goed verby kom, maar hoeveel goeie dinge sien ons raak? Hoe gereëld sê ons dankie vir al die goeie dinge? Ons het al so verleer om dankbaar te wees, dat ons al alles vanselfsprekend vat. Waar is God as dit die dag goed gaan? Die vraag wat ons eerstens vir onsself moet vra is: "Wat skuld die Here ons?" Waarop kan ek regtig staatmaak en wat kan ek vir myself toe-eien? Wel, teoreties skuld die Here my absoluut niks, ek kan nie regtig op enig-iets aanspraak maak nie, en alles wat ek het is genade. Die lied "Gebed" sing : "Wat ek is, is net genade, en wat ek het, is net geleen." Ons probleem is, ons weet nie wanneer genoeg genoeg is nie, en ons sien nie meer seëninge raak nie. Dis tog interessant dat mense wat deur erge beproewing gaan, agterna die klein lekker goedjies in die lewe raaksien. In hierdie gedeelte wat ons gelees het, kom die mens se natuur so duidelik na vore. Tien mense kom smeek vir 'n wonderwerk, iets wat so onwaarskynlik is, dat dit waarskynlik met ongeloof gevra is, maar tog word hulle gesond. Al tien. Maar net een kom terug om dankie te sê. 'n Wonderwerk gebeur wat hulle lewens dramaties verander, maar selfs dit is nie genoeg om hulle dankbaar te maak nie. En net so is dit met ons, daar is soveel goeie goed wat gebeur, maar selfs dit is nie goed genoeg nie. Hoe moeilik is dit nie om by die punt te kom dat ons kan sê: "Ek is nou tevrede" nie. En dan vir die Here die eer te gee daarvoor, en vir alles meer nie. Die Here sê: "Ek sal vir jou sorg", maar ons soek nie 'n kothuis nie, ons soek 'n paleis lewe, en as ons dit kry, is ook dit nie genoeg nie. Spreuke 30 : 7 - 9 Genoeg is goed genoeg, maar wat is genoeg? Waar was God toe dit goed gegaan het? Ons probleem is dat ons teen die verkeerde maatstawwe meet. Daarom sien ons nie meer voorspoed raak nie. Want ander se voorspoed lyk beter. Die gras lyk mos maar beter aan die ander kant. Kom ons toets net so 'n bietjie ons seëninge: · Het jy vanoggend iets om te eet?
As jy het, is jy beter af as meer as miljoene - ja, miljoene mense op
aarde, wat niks het om vanoggend te eet nie. Nog erger, daar is soveel
moeders wie se kinders vandag van honger voor hulle oë sal doodgaan. Ag, en so kan ons seker vir die hele dag aangaan. Ons sien net nie meer seën raak nie. Weet jy, die Here verwag nie regtig iets terug vir al die goeie wat ons uit Sy hand ontvang nie. Dalk wil Hy hê ons moet net ophou kla. En dalk wil Hy net hê ons moet besef dat die lewe gaan oor dit wat nà hierdie lewe kom. Dalk moet ons net so bietjie besin oor wat dit Hom gekos het. Joh 10 : 7 - 10 Hoe maklik kom eien ons Joh 10 : 10 vir onsself toe vir materiële voordeel. Dis nie wat hier staan nie. Hierdie lewe is gerig op die lewe hierna. Ons hoef niks te doen om dit te kry nie, net glo. En omdat dit vir ons gegee is, hoef ons net dankbaar te wees. Kom ons konsentreer bietjie op al die goeie en lekker wat so onverdiend op ons pad kom. Kom ons leer om dikwels deur die dag vir die Here dankie te sê vir alles wat goed is. As jy iets lekker geëet het, of as jy jou salaris kry, of dalk as jou verkoue verby is. Besef die genade as jy in 'n goeie huwelik is, of as jou kinders die lewe oorleef. En ja, as die slegte verbykom, weet dan dat dit nie vir altyd aanhou nie. Wees dankbaar dat die Here ook dan by jou is. Want wie anders is daar om aan vas te hou? Mag negatiwiteit nie ons verblind vir al die goeie en lekker van die lewe nie. Kom ons leer dit aan om uit dankbaarheid te leef. Gesegde:- "The worst time for an atheist come, when he's thankfull, but there is no one to thank".
|