|
|
|
Waar woon die
Here? Waar is Sy huis? Sy hoofkwartiere? Waar beplan Hy Sy strategie? Hoe
lyk Sy kantoorure? Het Hy 'n oopdeur-beleid? Het Hy 'n klompie raadgewers
nodig om Hom by te staan met besluite? Wel, ek dink ons
as mense lei nogal aan hierdie ding dat ons glo ons kan die Here beperk
tot 'n plek, 'n denkrigting, 'n seker metodiek, 'n vaste uitkyk op die
lewe. Ons probeer die Here so maklik beperk tot ons gedagte wereld.
Maar... waar is Sy huis? 2 Sam 7:1–11 Lyk my Dawid het
met dieselfde ding gesukkel. Hier lê Dawid een aand knus in sy bed en
wonder so oor al die weelde van sy bestaan, en rus na 'n stywe dag by die
werk. Klink of hy 'n lekker sarsie oorlog gevoer het en heerlik uitrus na
so 'n paar swaardgevegte. Toe dink hy so by
homself:- “My jitte, hier lê ek in my huis (paleis), versier met
sederhout, maar die Here moet tevrede wees met 'n plekkie in 'n yskoue,
onpersoonlike tent. En woeps, daar kom die skuldgevoelens. Ek in my
paleis, God in 'n tent. Tipies koning Dawid, besluit hy sommer daar en dan
dat hy gou 'n plan sal maak, sal sommer dadelik die planne optrek. Plaas
dat hy daaraan dink om die Here in sy eie huis (of hart) innooi, wil hy
Hom as buurman hê. Ek wonder nogal presies wat hy in gedagte gehad het.
Moes die huis dan nou groter, en weelderiger wees as sy eie huis, of min
of meer dieselfde? 'n Groot huis met die verbondsark in. Lyk my hy het so
half gedink die Here se bestaan is beperk tot die verbondsark. Waar woon die
Here? Toe Dawid nie mooi weet wat om te doen nie, wend hy hom tot die
profeet Natan. En Natan, soos talle sogenaamde “profete” vandag, sê
sommer die eerste ding wat in sy kop opkom. “Doen gerus alles wat u in
gedagte het, die Here is by u”. Klink tog so bekend, of hoe? Mense gee
so maklik ondeurdagte raad wat goed sal klink in 'n bepaalde situasie,
sonder om te gaan hoor by die Here, sonder om te gaan bevestig. Terwyl
Dawid so lê en planne bedink, gebeur 'n snaakse ding. Die Woord van die
Here kom tot Natan in sy slaap. (2 Sam 7:4-5) Toe Natan stil word voor die
Here, en homself instel op die stem van die Here, toe hoor hy dit,
Stilword, wag, luister. Net so moet iemand waar waarlik die gawe van
profesie het, gaan bevestig of sy gedagtes van die Here kom. Bevestig by
die Here, bevestig by ander mense, bevestig in die Skrif. Toe besluit die
Here Hy gaan vir Dawid iets mooi laat verstaan; Hy woon beslis nie in 'n
tent nie, of in die verbondsark nie! Hy is nie beperk tot strukture nie.
Hy woon in en by Sy kinders. Hy het saam met hulle
rondgeswerf in die woestyn. Hy was heeltyd daar. Hy sê in vers 6:- “Ek
het nog nooit in 'n huis gewoon nie”. Hy woon in ons, en ons in Hom. Vir
altyd. Waar woon die
Here? In Sy kinders, en hulle in Hom.
Vers 9 sê :- “Orals waar jy gegaan het, was Ek by jou”.
Eintlik nogal vreesaanjaend as mens so daaraan dink. Dawid, die Here was
by die Israeliete in die woestyn, Hy was by die Israeliete in die oorlog,
elke oomblik. Dawid, Hy was by jou toe jy op die balkon vir Batseba
afgeloer het. En ook toe jy haar in jou kamer ingebring het. Hy was by jou
toe jy vir haar met wellus gestaan en bekyk het. Hy was verseker nie in
die tent toegezip nie. Hy was by jou Dawid, selfs toe jy haar man laat
vermoor het. As ons werk toe gaan, en as ons daar droogmaak, Hy is daar.
Sien alles, beleef alles, hoor alles, alomteenwoordig!!! Hy is nie beperk
tot 'n plekkie waar Hy toegemaak kan word nie. Orals, altyd, en ja,
natuurlik het sy tempel, die kerk, 'n besondere plek in ons Geestelike
lewens en Geestelike groei. Dis 'n spesiale plek vir aanbidding met mede
gelowiges, plek vir koinonia met ander Christene. Maar... dis nie ons primêre
ontmoetingsplek met die Here nie. Ons kan Hom nie Sondae agterlaat in die
kerk, die deur toesluit, en doen wat ons wil nie. Ps 84:1–6 Wonderlike plek,
of hoe? Waar woon die
Here? In ons en by ons, altyd, ten spyte wat omstandighede. Dawid wou vir
die Here 'n huis bou, maar in vers 27 staan daar:- “Here, Almagtige,
God van Israel, U het nadruklik vir U dienaar gese:- “Ek sal vir jou 'n
koningshuis vestig, en daarom het U dienaar die vrymoedigheid gehad om
hierdie gebed tot u te rig”. Dawid het nie vir
die Here 'n huis opgerig nie, die Here het vir Dawid 'n koningshuis
opgerig. Net so is die Here
se woonplek vandag steeds in ons. Waar Hy gaan, sal ek gaan, wat ek doen
sal Hy sien, wat ek dink, sal Hy weet. Dan gee Hy
spesifieke opdragte van wat Hy verwag: 1 Kor 3:16–17 Ek dink die
gedeelte in 2 Sam sê vandag vir ons:- Moenie My jou buurman probeer maak
deur my in 'n ander huis langs jou te laat woon nie. Ek sal sommer in jou
hart My intrek kom neem, Ek is nie ver nie, Ek is by jou en in jou, selfs
in jou woestynpad, en in jou oorlog, jou swaarkry en jou moedeloosheid. Ek
wil die Eregas wees in jou tempel. As jy My soek, soek in jou hart, en as
jy My nie daar kry nie, doen wat Openbaring 3: 20 sê:- “Kyk, ek
staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor, sal Ek by Hom ingaan
en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My”. Daar by die kerk
sal ons Hom kry, saam met ons medegelowiges. In die tempel het Jesus,
Petrus, Paulus en ander dissipels die mense gaan leer. Die kerk is 'n
wonderlike plek, dis 'n plek vir saambid, dis die plek waar ons lofsange
weerklink. Ps 22:4 sê:- “U
is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink”.
|