|
|
|
WAAR
WOON DIE LIEFDE? – 8 Julie 2009 Waar woon die
liefde? Wat is liefde? Hoe kan dit beskryf word? Kan jy daaraan raak? Kan
jy die liefde sien? Ruik? Hoor? Liefde … ‘n wonderlike ding. Almal
praat daarvan. Smag daarna. Hunker daarna. Baie flieks word daaroor
gemaak. Mmm … klink so lekker op die tong. Die liefde. Maar, waar is
dit? Loop jy in ‘n vertrek by jou huis in – dis nie dáár nie. Ry jy
in die straat – dit ontbreek ook daar. Selfs langs die stille
rivierstroom, daar is niks liefde te vind nie. Klim jy op die hoogste berg
en kyk na benede, sien jy niks liefde nie. In die mooiste natuurskoon,
waar ‘n sagte briesie waai, en die heerlikste aroma amper tasbaar is, dáár
is ook niks liefde nie. Klim in ‘n vliegtuig en kyk verby die aarde se
rondings – dis ook liefdeloos. Tuur met ‘n teleskoop in die buitenste
ruimte in, sien die planete se pragtige ringe, die mees kleurvolle
gasstapels wat miljoen ligjare toring – jy soek verniet hier na liefde.
Ja, selfs in die mikroskopiese organismes wat volmaak georganiseer is, is
daar niks, heeltemal niks liefde nie.
Die liefde kruip nie in ‘n stoorkamer weg nie, lê nie in die
woorde van boeke opgesluit nie, nie in die prag van goud en edelgesteentes
nie. Dit lyk my die liefde het ‘n manier om sy lyf skaars te hou as jy
op die verkeerde plek kyk. Steek iemand dit dan weg? Kry jy daarvan in
‘n vinnige motor? Is dit miskien verborge in ‘n banknoot? Of kan jy
dalk selfs bietjie daarvan koop met jou kredietkaart? Waar op aarde is die
liefde?? 1 Kor 13 Wow, een van die
mooiste gedeeltes in die Bybel. Die Bybel … God se liefdesbrief aan jou
en my. … En die grootste hiervan is die LIEFDE! Hoe hard ek ookal
deur hierdie gedeelte gelees het, hoe goed ek dit ookal bestudeer het, ek
kon niks daarvan kry wat ons netnou genoem het nie. Ja, my hond, Lullu, is
baie liefderik … maar dis ook al. Selfs in 1 Kor 13 kry ek steeds nie
‘n greep op hierdie ding wat ons liefde noem nie. Ek wil só graag
“liefde” aan sy handvatsels beetkry en dit beskou, daaraan ruik, in my
hande ronddraai, daarmee speel soos met ‘n bal – maar ek kan nie! Lyk
my die liefde is nou maar eenmaal ontasbaar, onruikbaar, onsigbaar. Wat is
dit dan? As ek dan nie 1 kilogram liefde kan bekom nie … waar gaan ek
dit dan kry? Waarvoor sal ek vra? Waar sal ek daarvoor vra? Vir wie? Waar
is die liefdeswinkel? Sjoe … ek kan amper vra: “bestaan die ding
ooit?” Moet wees, want die Bybel sê so. 1 Kor 13:4-7: “Die liefde
is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie
grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie,
soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die
kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die
waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Paulus
beskryf dit as ‘n entiteit as hy die liefde “DIT” noem. So kom ek by
die ontdekking dat jy liefde net op twee plekke gaan kry, en dis in God (1
Joh 4:8: “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God
is liefde”) en in die mens. Jippie! Daar
ontdek ons die bron en die stoorplek – dit is in God en in die mens se
hart. Nou kan dit letterlik die wêreld vol loop. Waar daar mense is, sal
jy liefde vind. Op die hoogste berge, in die diepste dal, by die mooiste
watervalle, fonteine, stroompies … maar ook in die gevangenis en op die
oorlogsfront - daar sal jy liefde vind. Die mens is ‘n wonderlike
stoorkamer van liefde. Matt
22:34-40 Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Elke mens op aarde het liefde – selfs die mees geharde misdadiger sal waarskynlik sy ma of sy kind liefdê. Ons kan vra: “Hoe kan iemand dit of dat doen as hy liefde in hom het?” Goeie vraag. Maar weet jy, ons almal is maar geneig om die liefde-stoorkamer soms gesluit te hou. Miskien ken jy
hierdie lawwe storie:- Hoe weet jy of jou hond of vrou vir jou die liefste
is? Jy maak hulle saam in die kattebak van die motor toe vir ‘n uur of
twee. Wanneer jy oopmaak, kyk jy wie die blyste is om jou te sien. Mmm…
besluit maar self of dit ‘n weerspieëling van liefde is!!! Weet jy, dit lyk
partykeer vir my of daar mans is wat hulle honde liewer het as hulle
vrouens; hulle kraak hulle kinders meer af as hulle hond; die hond
kry meer aandag as die gesin. Siestog man, en die hond gaan nie eens saam
met jou oud word nie – hy leef net so 14 jaar … miskien. Ons raak soms
bietjie verward met die konsep “liefde”. Ek vra baie keer op
mannekampe vir die ouens: “Wie is lief vir hulle vrouens?”. Dan steek
almal hulle hande op. As ek dan vra: “Wie hou van hulle vrouens?”, dan
kom baie minder hande op. Jy sien, 1 Kor 13 sê mooi goete. Vers 5 sê:
“Hou nie boek van die kwaad nie” - al gehoor van ou koeie? “Is nie
afgunstig nie” – al gehoor van jaloesie? “Soek nie sy eie belang
nie” – al gehoor van eie ek? Liefde bedek alles, glo alles, hoop
alles, verdra alles. Watter woorde
klink mooier as: “Ek is lief vir jou”? Kry jou hart dit nog reg om jou
lippe te oortuig om dit uit te spreek? Kan jou oë dit nog regkry om
daardie spesiale laserstraaltjies uit te skiet? Kan jou hande dit nog
regkry om met ‘n byna magiese aksie iemand te oortuig dat hy/sy spesiaal
is? Dra jou lyftaal en aksies nog daardie spesiale aroma deur die lug wat
sê: “Hierdie persoon vind my spesiaal”? Is daar ‘n liefdeslied in
jou psige wat hoorbaar is sonder dat klankgolwe iemand bereik. Daar is
soveel sekuriteit in dit, meer as in miljoen rande. Daar word soveel vrede
daardeur uitgedra, ja, ek glo selfs genesing. Wat kan mens lekkerder laat
slaap as die wete dat daar mense is wat hierdie onbeskryflike element op
jou uitstort. Sonder dat hy eintlik eers daarvan bewus is. Iemand is lief
vir jou, weet jy? Al dink jy nie so nie. Ja, die Here is onbeskryflik lief
vir jou, dit kan jy maar glo. Maar Hy het ook ‘n stukkie van Sy wese in
ander se hart uitgestort, wat dit weer op jou uitstort. En so begin die
Here ‘n kettingreaksie, en skep een geslag na die ander van
liefdes-stoorkamers, om iets van Sy wese oor te dra. Ek hoop jou deur
staan oop om te ontvang, en om te gee. Kom ek daag jou uit: vat jou selfoon, telefoon of epos en sê vandag vir ‘n paar mense: “Ek is lief vir jou”. Dit sal lekker wees. Vir jou EN vir hulle. |