Merke,
gereed, gaan! En daar gaan jy! Hardloop, so vinnig as wat jy kan. Jy
sien hoe die mense langs jou al hoe vinniger hardloop en jy haal
alles uit wat jy kan. Paniekbevange gaan krap jy vir elke stukkie
energie wat in jou is, al jou oefening, al jou afrigting begin
inskop. Die wetenskap van hardloop – wat jy so goed opgeswot het –
kom in jou gedagtes. Jy weier om toe te gee aan jou liggaam wat
skreeu vir rus. Nog, nog …! En dan kyk jy voor jou uit, maar sien
geen wenstreep nie. Dan sien jy die ander mense om jou hardloop nie
eens in dieselfde rigting nie. Party hol dié kant toe, en ander daai
kant toe. Party stop sommer. Soms is jy alleen, ander kere weer in
‘n bondel. Ai tog, wat gaan aan in hierdie wedloop?
My vriend, nou vra ek jou vandag: is dit hoe jou
lewenswedloop lyk? Waarheen hol jy? Hardloop jy deur hierdie lewe,
sonder ‘n doel, sonder oefening, sonder ‘n wenstreep, sonder rigting?
Almal hardloop. Sommige is nét in ‘n rat race. Ander hardloop so
vinnig in die rondte, dat hulle soms van agter af in hulleself
vashardloop! Hulle word net al hoe moeër en kom nêrens nie. Hoe lyk
die lewenswedloop waarin jy jouself tans bevind? Toe daai skoot
vanoggend geklap het, en jy het begin hol … het jy ‘n wenstreep
waarheen jy op pad is? Of voel jy soos ‘n klomp muise in ‘n hok wat
net heen en weer hol? Of spring jy soms in jou hamster-wieletjie en
hardloop teen ‘n enorme spoed, net om nêrens te kom nie.
1 Kor 9:24-27 Weet julle nie dat atlete wat aan 'n
wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys
ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat
aan 'n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen
dit om 'n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons 'n
onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel
onseker is nie; ek slaan soos 'n bokser wat nie in die lug slaan
nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek
nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.
Pragtige stukkie, né? Almal hardloop, maar net party
gaan dit maak. Almal ontsê hulleself allerlei dinge, almal doen dit
vir ‘n oorwinnaarskroon, maar net party sal die onverganklike
oorwinnaarskroon kry. Hierdie Bybel gedeelte praat nie van die “rat
race” nie, dit praat van die uiteindelike wenstreep by Jesus.
Maar … die rotresies verwar ons in ons wedloop, want
dit vat ons fokus weg van die Here af. Dit verwar ons, deur vir ons
die voorkoms van die wedloop te verdraai en te verwring. Mense
hardloop saam met ons wat nie opregte atlete is nie, ons noem hulle
vals profete. Hulle lyk soos regte egte atlete, dra die regte
uitrustings, kom professioneel voor, maar trek ons so stadig maar
seker in die verkeerde rigting, tot ons naderhand heeltemal af van
die regte pad af is.
Terug by die rotresies. Jy mag dalk wen, maar jy bly
steeds ‘n rot!
Ons moet hardloop, want atlete wat nie deelneem nie,
kan nie kwalifiseer nie. Vers 27 sê “Maar ek oefen my liggaam en
bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en
self nie kwalifiseer nie”. Hardloop jy vir ‘n verganklike of
onverganklike kroon?
2 Tim 4:1-8
Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en
die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy
koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig;
weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want
daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal
verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle
leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.
Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels
wend. Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen
jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van
jou bediening uit. Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer
uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie
wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit
volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op
die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit
vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met
verlange uitsien na sy koms.
Mense sal vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat vir
hulle sal sê net wat hulle wil hoor... Hier hardloop jy, en ‘n ou
skuif langs jou in, en jitte, die ou lyk professioneel hoor. In die
hardloop praat hy met jou, hy klink só kundig, en jy luister só
aandagtig, dat jy naderhand nie besef jy is skoon van koers af nie.
Daar is twee tipes van hierdie “vals profete”. Die een groep sal vir
jou vertel die wedloop lei na nêrens nie, jy mors jou tyd, daar is
geen wenstreep nie, jy kan net sowel stop – dis die ongelowiges. Dis
heel maklik om hulle raak te sien as jy ‘n Christen is. Dan is daar
die ander groep wat véél gevaarliker is. Hulle maak al die regte
klanke, lyk net soos jy, dra presies die regte klere, lyk vreeslik
gedetermineerd, haal Bybelverse wild en wakker aan … maar iets is
fout, dis daardie “iets” waarvan vers 3 praat: “mense sal die
gesonde leer nie meer verdra nie”. Hierdie ou sal vir jou vertel dat
jy nooit die eindstreep gaan sien as jy nie eers dit of dat gedoen
het nie. Jy sien, dis Jesus plus … Jesus én reg sing, Jesus én
sekere rituele, Jesus én sekere manifestasies, en dan vertel hy nog
boon-op vir jou dat die duiwel jou om elke hoek en draai gaan vang.
Duiwel se kind gaan oor die volgende hoogtetjie in jou hart inglip.
Kom ons noem dit wedloop-konsultante. Hulle is volop – maar vriend,
wees versigtig vir wie jy luister. Moenie enige konsultant glo nie.
Dis nét Jesus by die wenpaal.
Kom ons kyk bietjie na ‘n paar goeie reëls vir die
wedloop:
1) Ken die wenstreep, en weet waar hy is.
Konsentreer op jou baan, en hou die wenpaal in die oog.
2) Enige atleet volg ‘n gesonde dieet. Hy vind
die balans waar alles in goeie energie omgesit word. Moenie alles
vir soetkoek opvreet wat hierdie wêreld vir jou opdis nie. En as ‘n
ander ou vir jou sê hy is ‘n dieetkundige, ondersoek eers sy
kwalifikasies. Voed jouself met gesonde leer … die Bybel het alles
wat jy nodig het; lees dit SELF.
3) Oefening – dis mos baie, baie belangrik.
Paulus sê: “Ek slaan nie soos ‘n bokser wat sommer in die lug rond
slaan nie”. Doen gebalanseerde oefening. Volg ‘n goeie oefenprogram.
Woon Bybelstudies en seminare en kampe by, Gaan word stil by die
Here, gaan maar gerus kerk toe, doen iets vir ander. Sonder hierdie
soort oefening sal jy sommer vinnig uitsak.
4) Stop beslis ook by die waterpunte – skep asem,
drink by die fontein van lewende water. Gebruik die stilhou-tyd om
te oordink, selfondersoek te doen, weer gemotiveer te word.
5) Afrigting is belangrik. Laat die Meester van
wedlope jou self leer. Jesus het enduit gehardloop en gewen. Omdat
Hy gewen het, het jy reeds gewen toe jy weggespring het in die
wedloop! Koebaai mnr. Wedloop Konsultant, koebaai mnr. Vals Profeet!
– ek het julle nie nodig nie, ek het klaar gewen. Nou gaan ek by die
wenstreep net my oorwinnaarskroon in besit neem!
|