|
|
|
WAARHEEN IS JY OP PAD? Op pad na êrens? Of op pad na nêrens? Waarheen is jy op pad? Lyk jou lewe soos hierdie draaiwiele in 'n speelparkie? Die wat jy so al in die rondte spin - dan spring jy op en draai draai draai, tot jy dronk in die kop is? Baie beweging, groot spoed, maar die wiel bly net waar hy is? Op pad na nêrens. Of is jou lewe dalk soos 'n foefie-slide? So bietjie lekker opwinding. Gaan vorentoe, vang spoed, more 'n bietjie verder as wat jy vandag is? En dan die lekkerste, as dit met bietjie pret gepaard gaan. O jitte, dan is daar nog 'n groep!! Daar is geen beweging nie, nie vorentoe, of agtertoe, of selfs net in die rondte nie. Passief, vervelig, geen opwinding, geen uitdagings, niks. Haal asem, soms!! Sjoe, lyk my die lewe kan soms maar 'n straf wees. Ons almal lewe sekerlik verskillend. Punt is, ons het almal so 80 jaar om iets van die lewe te maak, almal het dieselfde aantal ure. Die meeste van ons het toegang tot hulpbronne, party baie geld, party min. Maar ek glo ons bepaal grootliks ons eie lewensstyl. Prediker 9 : 1 - 12 Soms is ons bewegingloos, nêrens op pad heen nie. Lewer geen bydrae tot die gemeenskap nie. Pred 9 : 4 "'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is." Ons leef soos 'n screensaver, as jy lank genoeg stilsit, kom iets aan wat darem wys dat jy lewe. As iemand na jou kyk, is dit soos in 1975 toe TV op die mark gekom het. Sit die TV aan, bring jou choclates en biltong en neem met afwagting plaas voor die TV, en kyk vir ure na die toetsbeeld. Nutteloos en sinneloos. Ons voel vernaam so in die aande as ons moeg by die huis kom. Dis soos om na 'n skildery te kyk, net om agter te kom dis net 'n afdruk wat geraam is. Lyk goed van ver af, maar die ding praat nie met jou nie. 'n Nuttelose lewe, op pad na nêrens. Vir opwinding kyk jy hoe die brood uit die toaster spring. En as jy praat, is dit oor die depressie van 1933 - wat vir jou nog nooit opgehou het nie. Jitte, ons verval so maklik in 'n lewe van volslae passiwiteit, en nutteloosheid. Nie vorentoe of agtertoe nie. Leef ernstig in verlede tyd, kry nie klaar met vervloë dae nie. Kan ook nie enige verandering verdra nie, en raak skoon oorhoops as dinge neig om af te wyk van die bekende. Dis nie 'n lekker lewe nie. As dit so met ons gaan, beskuldig ons altyd iemand anders vir alles wat sleg gaan in my lewe. Ons dra ook geen verantwoordelikheid nie. Wel, ons kan nie, ons doen dan niks. Nee wat, hierdie is op pad na nêrens!! Soos om die lewe in 'n spieël te bekyk. Sien niks vorentoe nie. Net so bietjie van gister. Dis soos om in 'n papiersak asem te haal. Op pad na êrens, of op pad na nêrens? Die volgende groep wat ons kry, is ook op pad na nêrens, maar boetie, hulle is aan die beweeg. Heeldag, hoë spoed, op pad na nêrens nie. As jy so 'n uur stilstaan, kom hulle so twintig keer verby, die poniestert staan stokstyf hier agter die kop, soos 'n windhond se stert. Besig, baie baie besig, met iets!! Nuttelose goed, hol van bakboord na stuurboord, maar al in die rondte. Ons hol, maar ons kom nêrens, besig, maar vermag niks. Dieselfde goed oor en oor. Ons noem dit die rotresies!! Johannesburg toe en terug. Aanmekaar. Uit die bed, in die kar, uit die kar in die bed. Maak nie tyd vir nuwe uitdagings nie, doen niks wat lekker of bevredigend is nie. Het nooit tyd nie. Daar is nie nou meer 'n toetsbeeld op die TV nie, dis nou Grand Prix, al in die rondte, die lewe is 'n "blur", en die wenstreep kom keer op keer verby. Hierdie lewe raak net so vervelig, want daar is nie uitdagings nie, ons soek nie nuwe horisonne nie. Die gejaag na nêrens word 'n "comfort"-zone, en leef vir hierdie euforie van 'n eendag wat ons op pensioen gaan. Dan gaan die lewe mos begin!!! Nee wat, hierdie lewe is ook op pad na nêrens. Tagtig jaar, waarvan 60 jaar al in die rondte gejaag is, net om met teleurstelling op 'n hopie te gaan sit. Toe die hond die bus vang, toe weet hy nie wat om daarmee te maak nie. Op pad na nêrens, of op pad na êrens? Dan kry jy mense wat ernstig op pad is, na êrens. Mense wat so bietjie uitwaag, dalk so 'n bietjie risiko's neem, wie se lewe vorentoe oopmaak. Mense wat uitdagings skep, en aanpak. Pred 9 : 7 - 10 Ja man, lewe. Lewe die einde tegemoet, moenie 30 jaar te vroeg vrek nie. Nee, geniet dinge. Ja, gaan werk toe, maar moenie dat die lewe daar eindig nie. Ry daardie foefie-slide. Hoe verder jy gaan, hoe meer jil jy van pure plesier. Leef met blydskap, en doen elke dag iets lekkers, so tussen die gejaag vir die baas deur. Begin 'n lekker stokperdjie, werk minder oortyd. Geniet die gesin. Verander dalk van werk. Begin so stadigaan in jou vrye tyd 'n besigheidjie, wat vir jou na pensioen kan besig hou en sommer so 'n paar bokke inbring. Raak betrokke by die kerk en gaan bedien ander, voeg waarde toe aan ander se lewens, gee om!! Gaan soek vir jou so 'n lekker projekkie!! En dan, kry vir jou langtermyn doelwitte (goed wat lekker is). Laat elke dag iets goeds na, en pak elke dag aan asof daar nog nooit so dag was nie. Laat more nie maar net nog 'n gister wees nie. Oorwin negatiwiteit, oorwin die verkeerde goed in jou lewe. Maak soos Paulus - "Laat agter wat agter jou is, en strek jou uit na wat voor is". Ag, en weet jy wat is nogal lekker, doen soms sommer iets simpel, waarvoor jy kan lag. Lag vir jouself, ag hemel tog, en hou tog van jouself. Gaan êrens heen in die lewe. Gaan vorentoe. Moenie leef om dood te gaan nie, leef tot jy dood gaan.
|