WAG OP DIE HERE SE BELOFTES


Het jy tyd om hierdie volgende halfuur opsy te sit? Kan jy vir 30 minute rustig kom sit in die Here se teenwoordigheid? Of is daar net nie tyd nie?

Ons leef in 'n kitslewe: kitskos, kitskoffie, kits-stiltetyd, kits-gesprekke, kits-kommunikasie. Alles en almal moet beweeg as ons 'n sekere behoefte het. Verkeer moet beweeg. Alles moet NOU gebeur. Ons het verleer om te wag … ons kan net nie meer wag nie.

En so kan ons ook nie meer wag op die Here nie. Ons kan ook nie meer wag op die beloftes van die Here nie. Ook die Here beweeg nie meer vinnig genoeg vir ons nie. Kan JY wag op die Here? En vir hoe lank sal jy kan wag? Glo jy dat 'n belofte wat jy miskien lank terug van die Here ontvang het, nie vergete is nie?

Gen 17:1-9 Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: "Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg! Ek sal my verbond met jou sluit en baie, baie mense uit jou laat voortkom." Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom: "Dit is my verbond met jou: jy sal die vader wees van 'n menigte nasies; jy sal nie meer Abram genoem word nie, jou naam sal Abraham wees, want Ek maak jou die vader van baie nasies. Ek sal jou baie vrugbaar maak, Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom. "Ek bring 'n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is 'n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as 'n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees." Verder het God vir Abraham gesê: "Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte."

Sjoe, seker die moeilikste belofte waarvoor iemand ooit moes wag. God maak hierdie belofte met Abram vas toe hy 99 jaar oud was - 'n stokou man, met 'n stokou vrou .. en hy moes wag vir die vervulling daarvan. Hoe lank wag jy al?

Dalk wag jy ook al lank vir 'n baba, of 'n werk, of vir die herstel van 'n verhouding? Dalk het jy 'n belofte van die Here gekry dat Hy jou omstandighede gaan verander. Dalk wag jy al baie lank vir vertroosting, om óór 'n verlies te kom …. Maar dit gebeur nie. Hoe weet mens hoe lank jy nog moet wag?

Gen 21:1-7 Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het. Hy het sy belofte aan haar nagekom. Sy het swanger geword en in Abraham se ouderdom vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Dit het gebeur op die tyd wat God vir Abraham beloof het. Hy het die seun wat vir hom gebore is, die een wat deur Sara in die wêreld gebring is, Isak genoem. Soos God vir Abraham beveel het, het hy vir Isak besny toe hy ag dae oud was. Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak gebore is. Sara het toe gesê: "God het gemaak dat mense vir my lag: elkeen wat van Isak hoor, sal vir my lag." Sy het verder nog gesê: "Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara seuns aan haar bors sal voed? Ek het in sy ouderdom 'n seun in die wêreld gebring."

"Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het". Die Here het nie vergeet nie! Hy dink altyd weer terug aan Sy beloftes. Ek dink die groot probleem is dat ons nie meer weet hoe om te wag nie, en ons probeer om die Here is ons gejaagde lewe indruk. Dan sê ons maklik: "Die Here hoor nie my gebed nie", of: "Die Here het seker nee gesê". Die Here vergeet nie sy beloftes nie. Ons vergeet miskien SY beloftes, dan probeer ons oorhaastig, self 'n plan maak. Dalk moet ons nóg 'n rukkie vasbyt, nóg 'n rukkie geduldig wees, nóg meer op die Here vertrou … of dalk net alles heeltemal in die Here se hande los.

Wat maak ek intussen, terwyl ek wag op die Here se beloftes?

Matt 11:27-30 (Die Boodskap): Daarom wil Ek julle uitnooi: voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek. Kom luister na wat Ek jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê. Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef. Dis nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees.

Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is. Jy sien, soms verwag ons 'n ander uitkoms as dit wat God in gedagte het. Dalk moet ons soos in vers 30 net besef hoe goed die lewe regtig is, ten spyte van omstandighede. Ons spartel soms só met hierdie lewe, en worstel om dinge anders te hê, en ons glo vas dat alles sleg is, dat ons uiteindelik die lewe mis, en al die goeie dinge wat uit die hand van God kom, miskyk. Miskien wag ons vir 'n ander belofte as dit wat God gegee het, dalk moet ons net nog so 'n klein rukkie wag, so 'n bietjie vasbyt, miskien net roekeloos vertrou dat die Here met iets goeds in ons lewe besig is. Miskien moet ons ophou vir ander mense te luister en nie al hulle interpretasies glo nie. Miskien moet ons net by Jesus se voete gaan sit en wag … terwyl ons net op Hom vertrou.

Klaagl 3:21-30 Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir 'n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig - miskien is daar hoop - laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.

Kyk net al die beloftes:
Ten spyte van slegte omstandighede:
· deur die liefde van die Here het ek nie vergaan nie
· daar is geen einde aan Sy ontferming nie
· elke more is nuut
· Sy trou is groot
· die Here is my lewe, DAAROM kan ek my hoop op Hom plaas
· die Here bly goed vir dié wat op Hom hoop
· bly geduldig
· verootmoedig jou voor God
· … miskien is daar hoop

Abram en Sara het baie jare lank gewag, en God het Sy belofte nagekom. Job het baie verduur, maar hy het besluit dat hy God nie sal vervloek nie. Jesus het "ter helle neergedaal" en baie, baie swaar gekry, bloed gesweet, maar Goddank, Hy het vasgehou aan die Vader se beloftes.

As die Here vir jou gesê het dat Hy die uitkoms gaan bring, dan sál Hy… Wag nog 'n rukkie, bly nog geduldig … dis die moeite werd om te wag op die beloftes van die Here.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)