|
|
|
WAT DINK GOD VAN MY? Ons almal het 'n bepaalde gevoel oor onsself, en 'n gevoel wat ons dink ander mense oor ons het. Nog verder, die gevoel wat ons dink die Here oor ons het. Baie insidente wat daagliks oor ons pad kom beïnvloed ons denkpatrone en konstante negatiewe invloede begin uiteindelik om ons langtermyn selfwaarde te bepaal. Ongelukkig is die mens nou maar eenmaal 'n wese wat baie maklik negatief reageer op die reaksie van ander, en dan begin daar dikwels ongemaklike selfgesprekke wat lei tot 'n gebrek aan selfbeeld, of 'n lae selfbeeld. Moet sê, tieners in die huis dra nou ook nie altyd by tot 'n verbetering in hierdie gevoel nie. Hoe voel jy oor jouself? As jy jou gevoel oor jou sou klassifiseer op 'n skaal van 1 - 10, waar lê jou punt? En as jy dieselfde skaal sou gebruik in wat jy dink ander van jou dink, waar lê hierdie punt? En as jy dan sou dink wat die Here van jou dink, waar dink jy is die punt dan? Ek wens so ek kan elkeen wat nou luister se punt sien op laasgenoemde. Dit wat jy dink die Here van jou dink. As hierdie punt maar aan die lae kant is, dink ek dis dalk een van die volgende redes: 1. Ons dink dis arrogant om 'n hoë
punt te gee. Ps 139 : 1 - 6 Ps 139 : 13 - 18 Dit is so 'n ongelooflike Psalm en dit beskryf op 'n wonderlike manier hoe goed die Here ons ken, en oor ons voel. Het jy al ooit iets gemaak, met jou hande, houtwerk, staalwerk, 'n rok, 'n koek, iets waarop jy baie trots gevoel het omdat dit so goed gedoen is. Nou, die Here voel 'n miljoen keer beter oor jou as daardie ding wat jy gemaak het, want Hy is lief vir jou. Weet jy hoe trots is die Here op jou omdat Hy jou goed gemaak het, daar in die moederskoot. Het jy al jou kinders so onderlangs dopgehou, so skelmpies, en dan so lekker oor hulle gevoel? Soveel te meer voel die Here goed oor ons, omdat Hy 'n stukkie van Homself in ons ingebou het. In 1 Joh 4 : 8 staan "God is liefde". Liefde - Dis nie 'n karaktertrek van Hom nie, of 'n kwaliteit nie, of net iets waarmee Hy goed is nie. Sy wese is liefde!! En Hy het daarvan (tonne daarvan), in ons ingebou. Nou ja, ek glo nie dat jy kool in sjokoladekoek gaan gooi, as jy kool haat nie. So bou God ook nie liefde in iets waarvan Hy nie hou nie. God is mal oor jou!! Ps 8 : 6 "U het hom net bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak, en hom met eer en heerlikheid gekroon." Jy is 'n spesiale skepsel!! Die Here is lief vir jou, ongeag of jy vir Hom lief is, of vir jouself lief is. Hy het jou ook as 'n voorwerp vir besondere gebruik gemaak. Weet jy wat? Hy het jou gemaak net soos Hy jou wou gehad het. Daarom kan ons vrede maak met hoe ons voel, hoe ons lyk, ons persoonlikheid, ons hele wese. Matt 10 : 30 "Van julle is
selfs die hare op julle kop almal getel". En ja, daardie hare wat
so na 'n harewas in die wasbak agterbly, Hy weet daarvan ook - Hy het dit
klaar afgetrek van die som wat Hy gisteraand gemaak het! God is 'n
uitmuntende rekenmeester. Die volmaakte CA. Dis nou nie chartered
accountant nie, CA staan vir Christ Almighty.
|