|
Terug
na HOOFBLAD
WAT EK IS, IS NET
GENADE..
WAT EK HET, IS NET GELEEN
– 16 September 2009
Wie is jy? Wat is
jy? Waar kom jy vandaan? Waar gaan jy heen? Ja, jy het ‘n naam, en ‘n
agtergrond, ‘n herkoms; jy lyk soos jy lyk; jy is wie jy is. Vir 70 jaar
sal jy leef, as jy sterk is 80. Jy sal hierdie aarde verlaat … verseker.
Jy kom iewers vandaan … verseker. Op ‘n tyd was jy ‘n blink in jou
ouers se oog. Almal se lewenspad begin iewers, en loop ‘n spesifieke
rigting. Dag vir dag bepaal keuses jou weë, besluite versoorsaak dat jy
by sekere kruisings links draai, by ander draai jy regs. Party deure gaan
oop en jy stap deur, ander gaan toe en jy draai om. So kom dit uiteindelik
dat jy vandag is wie jy is, en waar jy is. Vandag is jy iemand, en vandag
het jy iets… ‘n ligaam, goedere, materiële dinge, ens. Die vraag wat
ek jou vandag vra is: aan wie behoort dit? Deur wie se toedoen is dit soos
dit is?
Wat ek is, is ne
t genade …
Gen 2: 4(b)-7
Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is.
Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het,was daar nog nie enige
struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid
opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën
nie, en daar was nog nie 'n mens om die grond te bewerk nie. Daar het
water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. Die Here God
het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus
geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het.
Kan enige mens
iets bedra tot sy eie bestaan?
Job 14:5-12
"Die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy jare bepaal, U
het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie. U moet van hom af wegkyk
en hom met rus laat totdat hy soos 'n huurling sy dagtaak afgehandel het.
Vir 'n boom is daar nog hoop; al is dit afgekap, kan dit weer uitloop, en
sy lote sal aanhou groei. Al word sy wortels oud in die aarde en al gaan
sy stam dood in die grond, spruit hy weer uit as hy net water ruik, en
groei sy takke asof hy pas geplant is. Maar die mens sterf en verdwyn, hy
blaas sy laaste asem uit, en waar is hy? Soos
water uit die see verdamp, en 'n rivier opdroog, so ontslaap die mens en
staan nie weer op nie; totdat die hemel nie meer daar is nie, sal hy nie
wakker skrik nie, nie weer wakker gemaak word nie.
God skep. En van
dag een af begin Hy waarde toevoeg aan die mens. Ek en jy word iets,
bereik iets, doen dinge, daar kom sin in ons lewe. Daar is swaarkry, daar
is ook lekker tye; ons leer, studeer, werk ons op; ons word selfs
“iemand”. Maar … dan begin ‘n probleem - die mens begin te veel
van homself dink, en slaan homself hoog aan. Ons begin op ons eie kragte
staatmaak en voel ons is so bietjie in beheer… voel jy ook soms so? Die
feit is egter: wat ek is, is net genade. Elke stukkie intelligensie in
jou, elke vermoë, talent, alles, is NET genade – ‘n geskenk van God
af. Jy besef dit as jy dit
gister nog gehad het, en vandag is dit dalk weg. Gesondheid, lewe, jou
lekker werk met die lekker salaris, jou huweliksmaat – dis genade. Die
kos wat jy eet, die suurstof wat jy gratis inasem – dis genade. Jou IK,
jou kwaliteite – dis genade. Dis eers as jy iets groots
verloor het dat jy besef wat jy gehad het. Niks is vanselfsprekend
nie. Alles wat jy sover vergader het, en koester, kan more weg wees.
Wat ek het, is net genade. Genade van wie? Wie anders kan dit wees
as net God alleen?
Wat ek het, is net geleen
…
As ek en jy
doodgaan, vat die skepping alles terug. Ons weet vandag dat “stof tot
stof”, aldus die Bybel, ‘n wetenskaplike feit is. As jy sterf begin
die aarde onmiddelik elke atoom terugvat. Stof tot stof. Alles wat jy
besit, elke ding wat gemaak is, sal eventueel verval tot sy basiese
elemente. Dis ‘n wetenskaplike feit. Los jou motor vir ‘n paar eeue
buite, en hy roes, verweer en raak letterlik weg. Die aarde soek sy atome
terug – dié wat hy aan jou geleen het.
Pred 12:6-7
… die tyd
wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die kruik
by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val, die
tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees
na God terugkeer wat dit gegee het.
Wat ek het, is
net geleen! Dis vreeslik hoe ons as mense tekere kan gaan oor dié bietjie
wat ons het. Vat net aan my goed, en jy vat aan my. Ons bou bates, ons
maak besittings bymekaar, meer en meer … empires en paleise. En
intussen, is alles net geleen. En ja, ons werk daarvoor, maar … wat ek
is, is net genade. Jy
kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom
verwerf. Maar jy moet
die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om
die rykdom te verwerf. (Deut 8:17) Maar ons is geneig om dit nie so te sien nie.
Sien jy nog die Here se hand in die alledaagse goedjies? Ons word so blasé,
dat ons dink ons is in beheer. Wanneer laas het jy vir die Here dankie gesê
vir die suurstof wat jy insasem? Of vir die feit dat jou hart vanself
klop?
Wie is jy? Wat
het jy? As ons hierdie konsep verstaan van wat ek is en wat ek het, dan
kan ek seker vra – watter doel het jy? Want jy sien, ek kan hierdie
genade optimaal gebruik, of ek kan dit vir 80 jaar vermors. Kom ons sê
iemand leen vir jou ‘n plaas lewenslank, met al die implemente denkbaar.
Dis nie joune nie, maar jy het die volle reg van gebruik om ‘n lewe
daaruit te maak. En kom ons sê jy bewerk dit NIE, was dit nie dan
heeltemal nutteloos dat jy dit alles gehad het nie?
Wat jy het, en
wat jy is, is ‘n gawe van God, ‘n stuk ongekende genade. ‘n Hoop
potensiaal, met ongekende vermoëns. Dink jy nie ons kan dit dan net sowel
gebruik nie? Optimaal gebruik? Tot eer van Sy Koninkryk. Hierdie God wat
alles in jou ingebou het sê: gebruik dit, woeker daarmee. Talente, joune,
jy het dit vir 70 tot 80 jaar. Die genade is daar!
Pred 3:13
Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die
goeie kan geniet, ook dit is ‘n GAWE van God
Ons
mag nie toelaat dat ons in ‘n staat van nutteloosheid verval nie. Jy is
wat jy is, uit genade. Miskien dink jy jy is nie veel werd nie. Wel, dis
‘n leuen. Jy is so vol genade geprop, dat jy kan sê: “ek is tot alles
in staat deur Hom wat my krag gee”. En jy het meer as wat jy met jou oë
kan sien – alles net genade, alles net geleen – maar jy het volle
toegang solank jy lewe. Lééf dit. Gebruik dit.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|