|
|
|
Wanneer
sal die Here ons ten volle tevrede stel? Ek wonder nogal wat ons nóg van
die Here verwag? Wanneer sal ons tevrede wees? Jes 5:1-7 ”Wat kan Ek nóg
vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie?” Klink dit nie dalk
vir jou vreeslik bekend nie? As jy tieners het, het jy sekerlik ook al
duisende kere gesê: “Kyk hoe maak jy na alles wat ek vir jou gedoen
het”. O jitte, ons as ouers het `n harde taak! Maar … dan dink ek die
Here vra soms presies dieselfde. “Wat kan Ek nóg vir my wingerd doen
wat Ek nie reeds gedoen het nie?” Glo jy dat ons
God se wingerd is? Glo jy dat ons óók Sy uitverkore volk is? Glo jy dat
God se guns op ons as land is? Ek dink nogal so, weet jy? Ek voel nogal
partykeer soos sy oogappel, word so bietjie ekstra bederf, so asof Hy my
so bietjie voortrek bo ander. Voel jy ook soms so? … so verstom dat daar
so bietjie ekstra genade vir jou is. Voel jy ook soms so innig dankbaar
dat jou lewe nie die pad van sus en so loop nie? Ek dink elkeen van ons
voel soms so. Maar ongelukkig, net soms! Die ander tye kyk ons na die
wingerd anderkant die heining. Jy weet mos, die wingerd is groener aan die
anderkant. Dan konsentreer
ons só op die negatiewe. Ek glo die Here voel soms so bietjie hartseer as
ons nie ons wingerd waardeer nie. Jes 5: 1-2 Nadat Hy alles
gedoen het, die grond omgespit het, klippe verwyder het, veredelde
wingerdstokke geplant het, `n wagtoring en `n parskuip gebou het bring dit
suur druiwe voort. Ai, ek sou my darem vererg het as my wingerd dit aan my
doen; nou doen óns dit aan die Here … suur druiwe, ontevredenheid,
bitterbekkigheid, ongelukkigheid, negatiwiteit, onvergenoegdheid – dis
sekerlik beskrywend van suur druiwe. Jy sien, dit het alles begin in die
paradys toe Adam en Eva net nie kon hou by net één opdrag van God nie.
Net één! Eet van ál die vrugte, alles, die hele tuin vol, los net één
boom uit. Toe trek daai boom vir Eva soos ‘n magneet, en Eva trek vir
Adam soos ‘n magneet, en die sonde trek vir Adam soos ‘n magneet, en
woeps! Daar gaan bly hulle op die kaal vlaktes. Hoekom? Want die beste was
nie goed genoeg vir hulle nie. Net soos ons vandag – so baie in
oorvloed, maar dis nie goed genoeg nie. Jes 5:5 Ek
gaan die doringheining verwyder en verbrand, sy muur afbreek, sodat die
wingerd vertrap kan word. …. Kan ons die Here regtig verkwalik as
ons soms so verlate voel? Wat nog? Hoeveel
nog? Wat hét Hy nie al alles gedoen nie? Dáár ver terug in die begin
besluit Hy om vir die mens ‘n woning te bou. Hy skep ‘n planeet, wat
volmaak geskik is om lewe moontlik te maak. Só ingewikkeld, alles in
perfekte balans. Alles wat nodig is, is daar: suurstof, voedsel,
grondstowwe, medisyne. Alles perfek. Toe skep Hy die mens volmaak – tot
‘n sny aan jou vinger word vanself gesond! Hy laat die mens toe om te
ontwikkel, Hy openbaar natuurwette aan die mens, sodat die wetenskap en
die mediese wetenskap ontwikkel. Hy voorsien voedsel in oorvloed in die
natuur – op die land en in die see. Hy openbaar ál die inligting wat
nodig is om tegnologies te ontwikkel, o.a. sodat jy vandag met jou motor
kan werk toe ry; al die inligting om skuilings (paleise?) te bou. Alles
– sodat ons gemakliker kan lewe. Toe kom die mens met sy ongelooflike
ontevredenheid en kla oor alles. Hy wil ‘n groter huis hê, die motor is
nie meer goed genoeg nie, sy werk is nie meer lekker nie, sy vrou hou nie
meer kersvas teen “Poppie” by die werk nie, die kinders presteer nie
na wense om by sy ego te pas nie, en o ja, hy hou ook nie van sy dubbele
ken en skewe neus nie …. Niks is meer goed genoeg nie. Ook nie sonskyn
Suid-Afrika nie .... Hierdie wingerd hou nie meer van wat sy Eienaar vir
hom gedoen het nie. Jes 5:7 Die
Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg, dat daar
geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van veronregtes….
Toe verval die wingerd in ongeregtigheid, staan op teen God, ignoreer al
die verordeninge wat Hy daar gestel het tot óns voordeel. Hy kom neem toe
nog ‘n stap sodat hierdie wingerd nie homself heeltemal vernietig nie
– Hy stuur Sy Seun om die wingerd tot sy volle glorie en eer te herstel.
Daarvan het die mens ook nie gehou nie, en hulle verwerp die Een wat alles
weer tot volmaaktheid wou kom herstel.
Die Seun kom haal selfs die angel uit die wet uit. Maar helaas, ook
dit is nie goed genoeg nie. As die Here dan
sien hoe halstarrig hierdie wingerd is, sê Hy in vers 6: “Ek gaan
hom tot niet maak”. Waar laat dit ons vandag? Goddank, herlewing het begin. Ons het tot God begin bid, na Hom uitgeroep, Hom vasgegryp. Mans en pa’s is weer besig om hulle plek in die huis en voor die Here in te neem. Kinders begin profeteer en ou mense begin drome droom. Die vals profete kom in osptand, die ongelowiges begin roer en rumoer, maar stadig maar seker begin die druiwe weer groei. Plek-plek sien ons al die herstel, mense begin weer opgewonde raak oor die toekoms. “Wat kan Ek nog vir my wingerd doen?”, so vra die Here. Niks nie, Here, U het álles vir ons gedoen. Méér as wat ons ooit kon vra, meer as wat ons ooit kon verdien. Vergewe ons, Here, help ons om die prag van ons wingerd raak te sien en te waardeer. Maak ons dankbaar Here, en verwyder asseblief die onkruid uit ons midde uit! Vergewe ons Here, as ons self soos onkruid geword het. Ons wil weer vrug dra, en weer skoon voor U kom staan. Ons pleit dat U ons wingerd finaal sal kom herstel. Amen. |