|
WAT SIEN JESUS VAN
DIE KRUIS AF?
Luk 23 : 33 - 47
33 Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar
saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander
een aan sy linkerkant.
34 Toe sê Jesus: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat
hulle doen nie!"Hulle het sy klere verdeel deur te loot.
35 Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag
en gesê: "Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus
is wat deur God uitverkies is."
36 Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom
suur wyn aangebied
37 en gesê: "As jy die koning van die Jode is, red jouself."
38 Daar was ook 'n opskrif bokant Hom: "Dit is die koning van die
Jode."
39 Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te
sê: "Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!"
40 Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: "Is jy nie bang
vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man!
41 In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir
ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie."
42 Verder sê hy: "Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk
kom."
43 Jesus antwoord hom: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in
die paradys wees."
44 Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele
land, en dit het tot drie-uur geduur;
45 die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het
middeldeur geskeur.
46 Jesus het hard uitgeroep: "Vader, in u hande gee Ek my gees
oor."Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.
47 Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê:
"Hierdie man was werklik onskuldig."
Jesus word gekruisig en sterf 'n ongelooflike wrede
dood. Waaraan sou Hy dink die laaste paar ure? Wat sien Hy van die kruis
af?
In die paar ure wat Jesus aan die kruis hang, praat
Hy 'n paar keer - sewe keer. Die meeste van die kere wat Hy gepraat het,
was steeds - tot op die einde - 'n bewys van Sy liefde vir ander en Sy
omgee. Hoe goed sou ek en jy vaar? In die ergste pyn denkbaar. En,
stoksiel alleen. Ons weet nie regtig wat die volgorde van Sy woorde was
nie. Dalk iets soos volg:
1. Luk 23 : 33 - 34 "Toe hulle by die plek
kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers
gekruisig, die een aan Sy linker- en die een aan Sy regterkant. Toe sê
Jesus "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen
nie."
2. Joh 19 : 26 - 27 "Toe Jesus Sy moeder sien en die dissipel vir wie
Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar, "daar is U
seun." Daarna sê Hy vir die dissipel, "daar is jou
moeder".
3. Joh 19 : 28 "Ek is dors".
4. Luk 23 : 43 - 43 "Die moordenaar langs Hom sê "Jesus, dink
aan my wanneer U in U Koninkryk kom." Jesus antwoord hom, "Ek
verseker jou, vandag sal jy saam met my in die paradys wees."
5. Mark 15 : 34 "Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: "Eloi,
Eloi, lema sabagtani". My God, My God, waarom het U My verlaat".
6. Luk 23 : 46 "Jesus het hard uitgeroep, "Vader, in U hande gee
Ek My gees oor."
7. Joh 19 : 30 "Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê,
"Dit is volbring". Toe sterf Hy. Wie was Hy?"
Jesus praat sewe keer aan die kruis. En met die
meeste van hierdie woorde wys Hy Sy hart van liefde.
· "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie
wat hulle doen nie". Ongelooflik!! Sal ek en jy dit kan doen? Om vir
vergifnis vir ander te pleit wat besig is om jou dood te maak. Sê dit nie
iets van hoe vergifnis werk nie? Dink jy nie ook soms jou sondes is net te
groot om vergewe te word nie. Genade, hierdie mense vra nie eers vergifnis
vir hulleself nie!! Jesus doen dit namens hulle. Ek glo met my hele hart
dat God die Vader hulle vergewe het. Want Sy Seun het daarvoor gepleit!
Jesus tree in by sy Vader vir mense wat dit nie verdien nie, wat nie berou
het nie, wat nie daarvoor vra nie, wat ook nie eers op daardie stadium glo
nie!! Hoeveel te meer is daar vergifnis vir ons wat glo, wat berou het, en
daarvoor vra. Hierdie mense is eintlik so tipies van ons dag. Hulle
kruisig vir Jesus terwyl hulle Sy wonderwerke gesien het, Hom hoor praat
het en baie getuienis oor Hom gehoor het. Net so kruisig diè wat nie in
Hom glo nie, Hom waarskynlik keer op keer. Terwyl ons die Bybel het,
steeds wonderwerke sien, Hom hoor praat deur ander, en baie getuienis oor
Hom hoor. En steeds tree Hy by die Vader in om nog steeds vir elkeen 'n
kans te gee. Maar jy en ek moet steeds self besluit of ons dit aanvaar of
nie. Genade onbeskryflik groot.
· Aan die kruis, vir oulaas, dink Jesus net aan ander. Hy sê vir Sy ma
"Daar is jou seun", en vir die dissipel, "daar is jou
moeder". Jesus sterf nie voordat Hy 'n baie belangrike taak afhandel
nie. Hy maak klaar wat Hy begin het. Jesus demonstreer 'n hart van omgee.
Hy sorg dat Sy ma 'n heenkome het. Ek wonder nogal wat tot op daardie
stadium in Maria se gemoed aan die gang was. Maar Jesus was nie te laat
nie, net soos ons ook vandag dikwels dink die Here wag so bietjie lank
voor Hy ingryp in 'n moeilike situasie. Jesus sien selfs in Sy sterwensuur
die nood van ander raak, en bring 'n oplossing, terwyl Hy self oënskynlik
nie vir Sy eie lewe 'n oplossing het nie.
· En dan, die moordenaar aan die kruis langs Hom. Een uitroep. Net een.
"Dink aan my wanneer U in U Koninkryk kom". En Jesus gee Hom die
versekering, "Vandag sal jy saam met My in die paradys wees".
Jesus besig met verlossingswerk aan die kruis. Nie die begin van Sy
verlossingswerk nie. Hy het toe reeds baie mense gered. Ook nie die einde
daarvan nie, want Hy doen dit vandag nog. Maar aan die kruis, verlos Hy
die moordenaar wat daarvoor vra. Terwyl Hy stoksiel alleen is. "My
God, My God, waarom het U My verlaat".
Dan kom Jesus se laaste woorde. "Dit is
volbring". Tetelestai. Toe dink Hy aan my en jou. Glo jy dat Jesus
toe reeds jou naam geken het? En dit in Sy handpalms gegraveer was? Dat Hy
daar dalk ook jou naam voor die Vader genoem het, en gesê het,
"Vader, vergeef hom?". Met Tetelestai kyk Jesus van die kruis af
na die ganse mensdom as Sy laaste daad van liefde en verklaar dat wat Hy
gedoen het op aarde, nou afgehandel is. Soos wat Hy afkyk na die wat Hom
gekruisig het en gevra het "Vader, vergeef hulle" en vir Sy ma
'n nuwe tuiste gee met "Daar is jou seun" en met die moordenaar
"vandag sal jy saam met My in die paradys wees", kyk Hy af na
jou en my en sê "Ek het nou genoeg verlossingswerk gedoen".
En net daar skuif die verantwoordelikheid van Sy
skouers af na my en jou toe. En in my menslikheid sou ek dink Hy sou kon
vra "wat moet Ek meer doen, mens". As dit nie vir jou genoeg is
nie, kan niks meer genoeg wees nie. Vat dit net. Die mense wat Hom
gekruisig het, het niks eers gevra nie, maar Jesus het vir hulle genade
bepleit. Die moordenaar het gevra, en gekry. Wat doen ek en jy? Ons hoef
dit net te aanvaar. Want Jesus het al die verlossingswerk gedoen wat nodig
was.
En ons? Vat dit, of los dit!!
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|