WERK

Wat maak jy nou? Op hierdie oomblik? Tensy dit naweek is, (en dalk maak dit nie eers saak nie),  is jy nou by die werk, of op pad soontoe, of pas terug. Werk, werk, werk! Hoop nie jy lees hierdie op pad werk toe nie! 

Vraag is, hoe voel jy daaroor om vandag werk toe te gaan? Is jy lus daarvoor, sien jy uit, moeg daarvoor, haat jy jou baas? Het jy gister goed afgesluit en is jy reg om vandag goed te begin? Mmm... ek glo die meeste mense voel nie régtig lus daarvoor nie, of hoe? 

Gen 3 : 17 - 19 Vir die mens het die Here God gesê: "Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak, jou lewe lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet;  net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word."  

O koek, daar eet Adam en Eva ons toe nou in die werkplek in. Lyk nogal so as mens net na hierdie teks kyk, maar dis nie waar nie, want die opdrag om te werk kom van vóór die sondeval af. 

Gen 1 : 27 – 28
God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: "Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip."

Die opdrag om te werk kom dus van voor die sondeval af. Ons as mensdom het egter maar hierdie ding om te dink die gras is altyd groener aan die ander kant, en ons sukkel met entoesiasme as dit by werk kom. Totdat ons dit verloor, nè?

As ons egter eerlik daarna kyk moet ons sekerlik saamstem dat:

  • Werk is nie ALTYD sleg is nie

  • Dis nie NET sleg is nie, daar ís lekker elemente ook

  • Ons kan verseker ons werk geniet

  • Dit hang alles van ons eie houding af

  • Daar is baie mense wat graag ons werk sou wou hê, as ons dit dan nie self wil hê nie

Hoekom gaan jy werk toe? Wat motiveer jou?

Volgens die Bybel is dit 'n opdrag, en as jy dit nie wíl doen nie, gaan jy swaar kry!

Spr 6 : 6 – 11 Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie 'n leier nie, nie 'n opsigter of 'n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd. Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan? Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie handevou en bly lê, en daar oorval die armoede jou soos 'n rower, daar oorrompel die gebrek jou soos 'n inbreker.

2 Tess 3 : 10 Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie."

Hierdie gedeelte in Spreuke oor die miertjies is regtig 'n baie kosbare stukkie. Miskien het Salomo eendag langs 'n miershoop gaan sit en hierdie klein gediertes dopgehou en gedink, sjoe, hierdie goedjies is merkwaardig. Hulle werk onverpoos, sonder enige persoonlike voordeel, ongeskoold, onopgelei, sonder 'n toesighouer of 'n baas, sonder dat hulle gedreig word, maar hulle wérk. Boonop is hulle nog geweldig sterk ook. As jy sy grootte in ag neem teenoor dit waartoe hy in staat is, is hy waarskynlik een van die sterkste dierasies op aarde. Hy kan byvoorbeeld 'n stokkie dra wat maklik tien maal sy eie lengte is (kan ons dit doen?).

Nou sê die Bybel, gaan leer by die mier. Kyk wat staan daar:

·         Hy is nie lui nie.

·         Hy werk sonder toesig, onverpoos.

·         Hy het ongelooflike dissipline. Al gesien hoe loop hulle in reguit rye?

·         Hy werk met een uitsluitlike doel, nl. oorlewing!

·         Hy sorg vir sy “toekoms” - Hh versamel sy voedsel in die oestyd, maak sy kosvoorrade bymekaar in die somer.

·         Hy werk met beplanning, dissipline en 'n toekomsvisie.

Nou ja, as die Here dan vir ons uitstip hoe ons werk daar moet uitsien, moet ons seker net bietjie aan ons houding werk. As jou werk vir jou 'n straf is, gaan soek 'n ander een.... of: miskien is dit net beter om dinge bietjie in 'n beter lig te sien.

As jy net werk om “skatte” bymekaar te maak, gaan die rotresies jou mal maak. As jy net werk omdat jy moet, gaan jy elke dag haat. Maar... as jy werk met die volgende gedagte, kan dit dalk goed wees:

Ps 37 : 3 Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.

Baie dinge in hierdie paar woorde opgesluit. “Woon en werk rustig voort”.

Dit lyk egter vir my of ons eerder deesdae vasgevang is in iets soos dié:

Maar die koning van Egipte het vir hulle gesê: "Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk af weg? Gaan terug na julle werk toe! Julle mense is alreeds te veel en nou wil julle hulle ook nog laat ophou werk!" Dieselfde dag nog het die farao die slawedrywers van die volk en hulle opsigters beveel: "Julle mag nie meer soos vroeër vir die volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan strooi bymekaarmaak, en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net lui, daarom hou hulle aan met neul: 'Ons wil vir ons God gaan offer.' Die werk moet vir die manne so swaar wees en hulle so besig hou dat hulle nie hulle ore uitleen vir allerhande leuens nie."  Toe het die slawedrywers en die opsigters van die volk vir hulle gaan sê: "So sê die farao: Julle kry nie meer strooi nie. Loop haal dit self waar julle dit ook al kan kry, maar aan die hoeveelheid werk word niks verminder nie." Die volk het toe dwarsoor Egipte stoppels bymekaargemaak, en die slawedrywers het hulle aangejaag en gesê: "Julle moet nog elke dag net soveel lewer soos toe daar nog strooi verskaf is."  Boonop het die farao se slawedrywers die Israelitiese opsigters geslaan en vir hulle gesê: "Waarom het julle nie vandag net soos vroeër dieselfde hoeveelheid stene gemaak nie?" Die Israelitiese opsigters kom kla toe by die farao: "Waarom maak u so met u werksmense? Daar word nie meer strooi aan ons verskaf nie, en tog bly die drywers vir ons sê: 'Maak bakstene!' Ons word mishandel, maar eintlik lê die fout by ú mense." Toe sê die farao: "Julle is lui! Lui! Dit is dié dat julle bly sê: 'Ons wil vir die Here gaan offer.' Loop! Gaan werk! Hulle sal nie meer vir julle strooi gee nie, maar julle kwota bakstene sal julle lewer."

Klink nogal bekend. Die werk neem só toe dat dit ons van die Here af weghou.

Waar is die balans tussen werk en leef? Ons soek maar almal daardie goue middeweg tussen werk, gesin, sosiale lewe, huwelik, kinders, ens.

Hier is 'n paar dinge om aan te dink:

·         Wees baie, baie dankbaar as jy werk het, en kán werk. Daar is baie mense wat hierdie mislike “joppie” van jou sou wou opraap as jy dit nie meer wil hê nie.

·         Weet wanneer genoeg, genoeg is. Sê soms maar bietjie vir die baas “nee”, soos wat jou kinders gereeld hoor. En wanneer het jy genoeg opgegaar met al daardie oortyd? Ja, natuurlik is dit meesal bloot vir oorlewing, maar nie vir almal nie.  Spr 30 : 7 – 9 Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: "Wie is die Here?" nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.

·         Wees 'n goeie, betroubare rentmeester met dit wat aan jou toevertrou is. As jy jou Godgegewe gawes in jou werkplek gebruik, moet jy mos werk asof jy dit net vir die Here doen, of hoe?

·         Geniet jou werk. Hou tog op om alewig swartgallig te wees, nét die slegte in alles te sien, die baas alewig af te breek, en jou heeldag bloot te stel aan negatiewe praatjies. Jy ken mos “Skinner” straat. Daar waar baie mense té veel tyd spandeer aan die soeke na “vars” lug. So om die hoekie waar dit gons van die skinderpraatjies. Nee wat, dis genoeg om enige mens sy werk te laat haat.

·         Besef dat niemand jou niks skuld nie, al dink ons dikwels so. Weet jy hoe werk lojaliteit? Ons dring mos daarop aan dat ons so lojaal is. Wel, as jy “lojaal” was, en hard gewerk het deur die maand, was jy lojaal. Verseker. Maar, as die baas jou betaal het soos ooreengekom, het hy sy lojaliteit afgedek, en begin die siklus van vooraf. Lojaliteit strek net oor 31 dae.

Kom ek vra jou. Het jy al gewens jy kan voltyds vir die Here werk? Dis mos waar vir baie mense, hulle het so 'n passie vir die Here, dat hulle alles wil opskop en voltyds “in die diens van die Here” gaan werk. Klink dit bekend? Wel, as jy graag wil, wil ek vir jou help. Hier is net die geleentheid waarop jy gewag het. STAAN OP EN GAAN WERK! Want dáár waar jy is, is jy mos in “work place ministry”. Hoekom wil jy anders wees in die sendingveld as by jou huidige werk? Wie gaan jy makliker bereik as daar waar jy in elk geval is? Met wie het jy alreeds 'n beter verhouding as met jou huidige kollegas?

Gaan maak 'n verskil aan ander mense se lewens, want jy kan. Weet jy, dis geen kuns om soos almal te wees nie, soos almal te kla nie, so negatief soos almal te wees nie. Die kuns is om ánders te wees. Om so op te tree soos wat Jesus dit sou doen. Gaan bid vir mense, spreek 'n bemoedigende woord, gaan bou mense op, neem hulle by die hand, leer hulle van die Here. Dan is jy mos voltyds in Sy diens.

Wat gaan jy VANDAG doen om dit beter te maak vir jouself, en ander? 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)