Pred
11:1
Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug.
2 Kor 9:6
Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; wie volop saai, sal
volop oes.
Gal 6:7(b)
Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.
Job 4:8
Ek het dit ondervind; dié wat onreg plant en moeilikheid saai, oes
dit ook.
Hos 10:12
Ek het gesê: Saai volgens My wil, en julle
sal my liefde oes.
Gal 6:9
Laat ons dan nie moeg word om goed te doen
nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook
die oes insamel.
Spreuke 14:12 & Spreuke 16:25
Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die
uiteinde daarvan is die dood.
Hierdie tekste het almal dieselfde strekking: wat jy
saai, sal jy maai.
Ek wil dit uit verskillende hoeke bekyk:
-
Iemand met ‘n toe hand kan nie gee nie, maar ook nie ontvang
nie.
-
Gee, sodat jy kan ontvang, of nog beter: jy kan die opbrengs van
jou belegging uitermatig goed vermenigvuldig. Gee baie, ontvang
baie.
-
Sit niks in die grond nie, en jy hoef nie tyd te mors om te
probeer oes nie. ‘n Mielie kan nie groei as jy nie saad in die
grond druk nie.
-
Moet niks verwag as jy nie werk nie.
-
Die lewe wat jy lei, gaan vir jou ‘n opbrengs gee wat by die
lewenstyl pas. “Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan
lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood”. Hierdie teks hou ‘n
baie groot waarskuwing in. Jy sal sterwe soos jy gelewe het, is
‘n uitdrukking wat mens dikwels hoor.
Kortom, uit al hierdie hoeke gesien: Wat jy saai, sal
jy maai.
Pred 11:1-6
Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug. Hou jou
besittings op sewe, selfs ag plekke, want jy weet nie watter
teëspoed oor die land kan kom nie. As die wolke vol water is, reën
hulle leeg op die aarde; of 'n boom nou suid of noord val, dit bly
lê waar dit geval het. Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die
wolke bly kyk, oes nie. Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees
en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van 'n swanger vrou, net so
min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles. Saai jou
saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie
watter van die twee sal 'n oes lewer nie en of altwee ewe goed sal
wees nie.
Dit is ‘n baie mooi stuk, of hoe?
Wat gee jy? Gee jy niks? Hoe gebruik jy jou twee
hande: is die een wat moet gee toe, en die een wat ontvang oop? Die
probleem is dikwels dat mens dínk jy het niks om te gee nie. “Gee”
word altyd geassosieer met geld. Ek dink ook baie mense dink dis net
geld wat in die oë van die Here kwalifiseer, as die Bybel praat van
“gee”. Dit is nie waar nie. Ek dink partykeer geld is die makliker
“gee”-item as enige iets anders. En ja, geld is belangrik, maar daar
is egter baie ander goed wat nodig is om te gee, en soms is dit juis
moeiliker om dié soort goed te gee.
Kom ons kyk na ‘n paar “gee”-goete:
-
gee jou geld – rand en sent
-
gee jou goed – doen afstand van iets wat vir jou kosbaar is, en
wat vir ander sinvol kan wees. Moet egter nie jou ou gebruikte
teesakkies, of hemde met af-knope vir iemand gee nie.
-
Gee jouself – dit is diensbaarheid.
-
Gee jou talente en gawes – gaan sing verniet by ‘n ouetehuis, of
doen ’n kinderhuis se boeke, of maak ’n pot sop vir iemand.
-
Gee van jouself.
Ek dink al hierdie bogenoemde pas in by die saai /
maai – beginsel.
Om van jouself te gee, is seker die belangrikste wat
jy kan weggee, want dit kan nét gebeur as liefde ter sprake is.
Liefde raak nie op nie, liefde het nie ‘n spens wat leeg raak nie.
Liefde het ook nie ’n raklewe of ‘n vervaldatum nie. Liefde kan nie
gekwantifiseer word nie. As ek geld gee het dit altyd ‘n “eindige”
waarde. Maksimum X-bedrag. Daar is nie ‘n meter of weegskaal wat
liefde kan afmeet nie. Liefde het in elk geval ook nie ‘n meetbare
grootte nie. ‘n R10-noot is 126 x 69mm groot, en sy koopkrag
verander dag na dag. Hy het ten enige tyd ‘n spesifieke, meetbare
waarde. Maar daar is altyd ‘n maksimum koopwaarde daaraan gekoppel.
So sal ‘n finansiële skenking op enige tyd iets spesifiek kan koop,
wat weer sal opraak. Maar om liefde te gee beteken iets heel anders,
want as onvoorwaardelike, opregte liefde uit jou uitborrel, gee jy
baie, maar verloor jy niks. Eintlik klink dit of dit nie kan sin
maak nie. Werp jou brood op die water – as jy geld werp, kan dit net
‘n bepaalde bedrag wees, maar werp jy liefde, kan dit aanhou en
aanhou en aanhou. So ‘n lewenstyl sal áltyd ‘n oes bring. Ander sal
nooit genoeg kry van jou liefde nie. As jy liefde saai sal van die
ander elemente outomaties ingesluit word. As jy jou liefde op die
water werp, sal jy altyd ‘n goeie lewe lei, al kry jy self swaar.
Daar is ook ‘n ander kant.
Spreuke 14:12 & Spreuke 16:25
Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde
daarvan is die dood.
Sien jy die “tit for tat” hierin? Dit waarmee jy besig bly, dit wat
jy doen, die manier van lewe, lewenstyl, arrogante uitkyk op die
lewe, neersien op ander en afbreek van ander, verneuk, belieg ens,
het ook ‘n oes. Daar is altyd ‘n oes – al is dit ‘n negatiewe vrug.
Praat ek hier van skelms, bedrieërs, boewe, slegte mense? Nee! As
gevolg van hierdie ding wat ons rasionalisasie noem, is hierdie
negatiewe oes teenwoordig in elke faset van ons lewe, ook tussen
Christene. Dis as ons saai-aksie sonder liefde geskied. Ongelukkig.
En ek, Willem Botha, sien van hierdie dinge in my eie lewe raak.
Weet jy wat is die gevaar? ‘n Mens se gewete, oordeelsvermoë en
insig vervaag geleidelik soos wat die eie ek oorneem.
Is daar iets binne-in jou wat jy kan gee? Gee dit dan,
want dit sal altyd ‘n verskil maak. ‘n Drukkie, ‘n oor om te luister,
‘n woord van bemoediging, opregte omgee, bietjie van jou tyd, jou
kennis, jou insig. Dit alles kan vir iemand anders dalk ‘n reuse
verskil maak. Werp dit op die water – jy weet nie wanneer dit gaan
terugkom nie. Jy weet ook nie hoe nie. Dalk kom dit na jou toe terug,
juis wanneer jy dit die nodigste het. Daardie dag wat jy dalk so
diep in ‘n gat, of donker tonnel is, sal die liefde van iemand
anders jou weer deurdra.
Werp daai brood!
|