|
Terug
na HOOFBLAD
WERP
JOU BROOD OP DIE WATER
– 1 Februarie 2011
Pred 11:1
Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug.
2 Kor 9:6
Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; wie volop saai, sal volop
oes.
Gal 6:7(b)
Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.
Job 4:8
Ek het dit ondervind; dié wat onreg plant en moeilikheid saai, oes dit
ook.
Hos 10:12
Ek het gesê: Saai volgens My wil, en julle sal my liefde oes.
Gal 6:9
Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap
nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.
Spreuke 14:12 &
Spreuke 16:25
Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde
daarvan is die dood.
Hierdie tekse het
almal dieselfde strekking: wat jy saai, sal jy maai.
Ek wil dit uit
verskillende hoeke bekyk:
- Iemand met ‘n
toe hand kan nie gee nie, maar ook nie ontvang nie.
- Gee, sodat jy
kan ontvang, of nog beter: jy kan die opbrengs van jou belegging
uitermatig goed vermenigvuldig. Gee baie, ontvang baie.
- Sit niks in
die grond nie, en jy hoef nie tyd te mors om te probeer oes nie. ‘n
Mielie kan nie groei as jy nie saad in die grond druk nie.
- Moet niks
verwag as jy nie werk nie.
- Die lewe wat
jy lei, gaan vir jou ‘n opbrengs gee wat by die lewenstyl pas. “Daar is
‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is
die dood”. Hierdie teks hou ‘n baie groot waarskuwing in. Jy sal sterwe
soos jy gelewe het, is ‘n uitdrukking wat mens dikwels hoor.
Kortom, uit al
hierdie hoeke gesien: Wat jy saai, sal jy maai.
Pred 11:1-6
Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug. Hou jou besittings
op sewe, selfs ag plekke, want jy weet nie watter teëspoed oor die land
kan kom nie. As die wolke vol water is, reën hulle leeg op die aarde; of
'n boom nou suid of noord val, dit bly lê waar dit geval het. Wie die wind
bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie.
Net so min as
wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van
'n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit
alles. Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy
weet nie watter van die twee sal 'n oes lewer nie en of altwee ewe goed
sal wees nie.
Dit is ‘n baie
mooi stuk, of hoe?
Wat gee jy? Gee
jy niks? Twee hande - Een wat moet gee is toe, en die een wat ontvang is
oop. Klink dit bekend? Die probleem is dikwels dat mens DINK jy het niks
om te gee nie. “Gee” word altyd geassosieer met geld. Ek dink ook baie
mense dink dis net geld wat in die oë van die Here kwalifiseer, as die
Bybel praat van “gee”. Ek dink partykeer geld is die makliker “gee”-item
as enige iets anders. En ja, geld is belangrik, maar daar is egter baie
ander goed wat nodig is om te gee, en soms is dit juis moeiliker om dié
soort goed te gee.
Kom ons kyk na ‘n
paar “gee”-goete:
- gee jou geld –
rand en sent
- gee jou goed –
doen afstand van iets wat vir jou kosbaar is, en wat vir ander sinvol
kan wees. Moet egter nie jou ou gebruikte teesakkies, of hemde met
af-knope vir iemand gee nie.
- Gee jouself –
dit is diensbaarheid.
- Gee jou
talente en gawes – gaan sing verniet by ‘n outehuis.
- Gee van
jouself.
Ek dink al
hierdie bogenoemde pas in by die saai / maai – beginsel.
Om van jouself te
gee, is seker die belangrikste wat jy kan weggee, want dit kan net gebeur
as liefde ter sprake is. Liefde raak nie op nie, liefde het nie ‘n spens
wat leegraak nie. Liefde het ook nie ’n raklewe of ‘n vervaldatum nie.
Liefde kan nie gekwantifiseer word nie. As ek geld gee het dit altyd ‘n
“eindige” waarde. Maksimum X-bedrag. Daar is nie ‘n meter of weegskaal wat
liefde kan afmeet nie. Liefde het in elk geval ook nie ‘n meetbare grootte
nie. ‘n R10-noot is 126 x 69mm groot, en sy koopkrag verander dag na dag.
Hy het ten enige tyd ‘n spesifieke, meetbare waarde. Maar daar is altyd ‘n
maksimum koopwaarde daaraan gekoppel. So sal ‘n finansiële skenking op
enige tyd iets spesifieks kan koop, wat weer sal opraak. Maar om liefde te
gee beteken iets heel anders, want as onvoorwaardelike, opregte liefde uit
jou uitborrel, gee jy baie, maar verloor jy niks. Eintlik klink dit of dit
nie kan sin maak nie. Werp jou brood op die water – as jy geld werp, kan
dit net ‘n bepaalde bedrag wees, maar werp jy liefde, kan dit aanhou en
aanhou en aanhou. So ‘n lewenstyl sal altyd ‘n oes bring. Ander sal nooit
genoeg kry van jou liefde nie. As jy liefde saai sal van die ander
elemente outomaties ingesluit word. As jy jou liefde op die water werp,
sal jy altyd ‘n goeie lewe lei, al kry jy self swaar.
Daar is ook ‘n
ander kant.
Spreuke 14:12 &
Spreuke 16:25
Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde
daarvan is die dood.
Sien jy die “tit for tat” hierin? Dit waarmee jy besig bly, dit wat jy
doen, die manier van lewe, lewenstyl, arrogante uitkyk op die lewe,
neersien op ander en afbreek van ander, verneuk, belieg ens, het ook ‘n
oes. Daar is altyd ‘n oes – al is dit ‘n negatiewe vrug. Praat ek hier van
skelms, bedrieërs, boewe, slegte mense? Nee! As gevolg van hierdie ding
wat ons rasionalisasie noem, is hierdie negatiewe oes teenwoordig in elke
faset van ons lewe, ook tussen Christene. Dis as ons saai-aksie sonder
liefde geskied. Ongelukkig. En ek, Willem Botha, sien van hierdie dinge in
my eie lewe raak. Weet jy wat is die gevaar? ‘n Mens se gewete,
oordeelsvermoë en insig vervaag dan by dag, as die eie ek oorneem.
Is daar iets
binne-in jou wat jy kan gee? Gee dit dan, want dit sal altyd ‘n verskil
maak. ‘n Drukkie, ‘n oor om te luister, ‘n woord van bemoediging, opregte
omgee, bietjie van jou tyd, jou kennis, jou insig. Dit alles kan vir
iemand anders dalk ‘n reuse verskil maak. Werp dit op die water – jy weet
nie wanneer dit gaan terugkom nie. Jy weet ook nie hoe nie. Dalk kom dit
na jou toe terug, juis wanneer jy dit die nodigste het. Daardie dag wat jy
dalk so diep in ‘n gat, of donker tonnel is, sal die liefde van iemand
anders jou weer deurdra.
Werp daai brood!
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|