|
|
|
Dis is ongeveer 2000 jaar gelede. ‘n Skare mense drom op Golgota saam, om te sien hoe een van die mees radikale mense van sy tyd tot sterwe gaan kom. Dink bietjie vir ‘n oomblik saam met my: as jy hoor daar gaan ‘n openbare teregstelling Saterdag op kerkplein plaasvind, sal jy gaan? Ek wonder nogal of ek sou. Kom ons vat dit verder. Sê nou maar jy hoor dis een van die mees gehate en gesoekte massamoordenaars van ons tyd… sou jy dan dalk gaan? Kom ons kyk bietjie uit ‘n ander hoek uit. Kom ons sê dis een van die mees geliefde mense wat jy ooit van gehoor het, wat regtig vir ‘n goeie saak geveg het … sou jy dan gaan kyk het? Nog verder, kom ons sê jy weet voor jou siel dat die persoon verseker onskuldig is aan dit waarvoor hy aangekla is … sal jy dan gaan kyk? Sjoe, dit raak al hoe moeiliker om te antwoord. Kom ons sê die persoon gaan Saterdag tereggestel word in JOU plek, sodat jy nie hoef te sterf nie … sou jy dan gaan kyk? Dis erg om so daaraan te dink, nie waar nie? Hoe lyk dit daar by die plek van teregstelling? Hoe is die bui van die mense wat gaan kyk – is hulle vrolik? Neerslagtig? Hartseer? Bly? Matt 27:35-44 Sê nou maar jy het daar gestaan – wat sou jy doen? Sou jy huil? Hartverskeurend huil? Of sou jy maar net jou skouers opgetrek het? Sou jy saam gespot het? Sou jy dalk skuldig gevoel het? Wie het nou eintlik vir Jesus vermoor? Was dit die regering van die dag? Hierdie klomp Romeine het nie van Jesus gehou nie, want Hy was ‘n bedreiging vir hulle. Hulle was bang vir opstande, en hulle was dalk bang dat Hy ‘n gevolg bymekaar sou kon maak wat hulle gesag sou uitdaag. Of was dit dalk die familiehoofde en die priesterhoofde? Kyk, hulle het net mooi niks van Hom gehou nie. Hy het die Fariseërs tromp-op aangevat, Hy het hulle voor die mense beskuldig dat hulle wit gepleisterde grafte was. Hulle het selfs met Judas gekonkel om Hom te veraai, en selfs vir hom geld gegee. Lyk my hulle het die perfekte motief gehad om Hom te vermoor, want Hy het hulle godsdiens – wat vir hulle baie belangrik was – as vals afgemaak. Ek dink hulle het nogal ‘n goeie saak om Hom te vermoor. Was dit dalk Herodes? Wel, hy wou nie ‘n besluit neem nie, hoewel hy volgens Luk 23 bly was om Jesus te sien. Toe stuur hy Hom na Pilatus toe. In die proses het Pilatus en Herodus sommer vriende geword. En Pilatus? Hy bevind Hom onskuldig, was sy hande nogal in onskuld, en laat Hom kruisig. Is dit hy wat Hom vermoor het? Het die Jode Hom vermoor? Want toe hulle moes kies tussen Barrabas en Jesus om vrygelaat te word, kies hulle vir Barrabas om vry te kom. Hierdie Jode, vir wie Jesus innig lief was, hierdie mense wat Sy wonderwerke gesien het, wat deur Hom genees is, deur Hom gevoed is met ‘n paar vissies en broodjies – dis hulle wat nou skreeu: “Kruisig Hom, kruisig Hom” Het hulle Hom vermoor? As dit Saterdag sulke tyd was op kerkplein, wat sou ek en jy skreeu? Ons sou ook ‘n ander vraag kon vra: Het Jesus dalk selfmoord gepleeg? Joh 10:14-18 Klink nogal vreemd, of hoe? Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit My eie af. Wel, as Hy hierdie voor getuies sou uiter, sou ‘n hof al die ander partye onskuldig bevind het – die regering, die Jode, die priesterhoofde, familiehoofde, Pilatus … klink my Jesus, sê nee, julle is almal onskuldig. Dis tog absurd om te dink Hy sou selfmoord pleeg. Wie het Hom dan vermoor? Wat het gebeur op daardie dag by Golgota? Wie het Jesus vermoor? Niemand nie, nie een enkele persoon kan die blaam ry nie. Sy dood was nie moord nie, nie selfmoord nie, nie natuurlike oorsake nie, of a.g.v. siekte nie. Al hierdie partye was nodig om die raadsplan van God gestalte te gee. En nee, God die Vader het Hom ook nie vermoor nie. Die antwoord lê in iets heeltemal anders … Heb 10:1-10 Jesus se liggaam móés geoffer word sodat ek en jy en elke ander gelowige die ewige dood kan vryspring. Want net die wet sou die doodstraf kon uitspreek en voltrek. En om my en jou vry te kry van die oordeel van die wet, moes daar ‘n ander offer as diere en graanoffers kom. Die diere en graanoffers is nie goed genoeg nie. Dis nie ewigdurend nie, dit het geen langtermyn krag nie, en verseker geen waarde in die ewigheid nie. Jesus se dood was ’n offer, ‘n wrede een daarby, sodat ek en jy dit nie hoef te doen nie. En sodat die wet nie meer die doodstraf oor jou kan uitspreek nie. Nou dink ek – sjoe, ek is bly ek was nie Pilatus of Herodus of die Jode, of die Priester en Familiehoofde nie. Maar aan die anderkant voel ek skuldig omdat Hy dan vir my ook gesterf het. Vraag is: Moet ek skuldig voel? Die antwoord: Nee, Hy het dit gedoen … met plesier! |