|
|
|
Daar is mos ‘n
liedjie wat sê: “ek sou kon doen met ‘n miljoen”. Klink lekker nê?
Ek sou kon doen met ‘n ou klein plasie, of ‘n ou klein bootjie, ‘n
paleisie, ‘n oorsese reisie …. Dream on! Dis lekker om te fantaseer.
Ek het nog nooit van een mens gehoor wat gekla het omdat hy te veel geld
gehad het nie. Interessant dat die mens so ‘n groot premie kan plaas op
iets wat so min werd is. Maar nou ja, ons almal kort so bietjie meer …. Mark 10:17-26 Nou,ja, ek wil
nie oor geld praat nie, maar wel oor die hindernisse wat tussen ons en die
Here staan. Ons kan ook sê dit wat ons sal weerhou daarvan om die ewige
lewe te hê. Oor redding praat die Bybel eintlik uit verskillende hoeke. Matt 7:21 “Nie
elkeen wat vir My sê Here, Here, sal in die Koninkryk van die hemel
ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die Hemel
is” Dan aan die
anderkant sê Gal 3:10-11:Maar almal wat staat maak op die onderhouding
van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: "Daar rus
'n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die
wet geskrywe staan nie." En dat niemand op grond van die wet deur God
vrygespreek word nie, is duidelik, want "hy wat deur God vrygespreek
is omdat hy glo, sal lewe." Jak 2:14
“Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade
bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?” Vers 24:
“Julle sien dus dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en
nie op grond van sy geloof nie” Twee kante van
dieselfde muntstuk. Nou wie kan dan gered word? Die een sê jou geld gaan
jou uit die hemel hou, ‘n ander sê “glo net”, nog een sê “doen
net”. Nou hoe nou? Kom ons gaan weer
terug na wat ons gelees het in die gedeelte oor die ryk jong man. Jesus sê
vir hom hy moet eers die wet onderhou. Nadat hy gesê het dat hy dit al
van kleintyd af gedoen het, gaan Jesus hom nie teë nie – klink of Jesus
dalk dink dat dit wel so kan wees. Dan sê Jesus vir hom: “net een ding
kom jy kort” (vers 21) Dit klink vir my of Jesus wil sê: “Sjoe, jy
maak dit ampertjies. Man, jy is regtig amper daar – behalwe …” Maar
wat wonderlik is, is dat daar in Markus 10 staan dat Jesus na hom gekyk
het en hom liefgekry het. Ek sien nou in my geestesoog dat ons voor Jesus
staan, en met die opregtheid van ‘n kind vra: “Wat moet ek doen om
gered te word?” En Jesus kyk na ons met tonne liefde in sy oë, maar dan
sê Hy …. Amper! Gaan verwyder eers dit wat tussen jou en my staan. Kom
dán terug en volg my. Watter hindernis staan tussen jou en die Here? Ons
het partykeer bietjie te veel sonblok aan, dan kom die Here se strale nie
by ons uit nie. Mark 10:21-22 Kan jy sien dat
dit dalk nie per definisie die geld of rykdom is wat die probleem was nie,
maar sy keuse. Geld en besittings het swaarder geweeg as sy liefde vir die
Here. Hy het “bedruk” weggegaan. Vreemd, nê? Hy was bereid om van
kleintyd af die wet na te kom – moeilik soos dit was; hy het na Jesus
toe gehardloop om te hoor wat hy dan moet doen om gered te word. Hy het
selfs op sy knieë voor Jesus neergeval, sò belangrik was dit vir hom.
Maar, nou gee Jesus vir hom ‘n antwoord wat hy nie wil hoor nie. Het sy
besittings dan swaarder geweeg as sy liefde vir God? Was Mammon
belangriker as die ewige lewe? Jesus het nie vir hom gesê “glo net”
nie, ook nie “doen net” nie. Hy het gevra dat hy alles sal opoffer vir
Hom – en die jong man was nie bereid nie. Nadat Jesus
hierdie verhaal vertel het, was die dissipels baie ontsteld. Ek dink dit
behoort ons ook vandag te onstel, sodat ons vir onsself kan vra: wat staan
tussen my en die Here? Wat is vir my belangriker as Hy? Wat het ek liewer
as vir Hom? Wat is daar in my lewe waarvan Jesus vandag kan sê: gaan raak
ontslae daarvan? Wat is daar wat jou bedruk sal maak as jy dit moet
verloor/prysgee? Dalk die een of ander troetelsonde? ‘n Verkeerde
verhouding? Smagting na rykdom? Werk? Sport? Eie-ekkigheid, skinder,
woede? Drankmisbruik? Onthou, as die Here vandag voor jou staan en sê:
“Gaan raak ontslae van dit of dat” – dan sê Hy dit met liefde in Sy
oë, dan sê Hy dit omdat dit Sy wil is dat jy gered moet word, en die
ewige lewe moet hê. |