|
|
|
Ons praat deesdae
nogal baie oor die swaar tye van vandag. Dit is so dat ons almal se lewens
nou maar eenmaal uniek is, elkeen se omstandighede is verskillend, elkeen
se lewe word gekenmerk deur ‘n versameling van elemente, en die meeste
daarvan het jy nie eers voor gevra nie… dit noem ek vandag die pakkie
wat jy moet dra. Elkeen van ons
dra ‘n pakkie. Dink maar aan iets soos ‘n rugsakkie wat jy op jou rug
dra. Jy drá hom. Elke dag, alleen. Wat is vandag in jou sakkie wat hom so
bitter swaar maak? Watse goeters is daarin wat jy so graag wil uithaal,
maar jy kan nie? Kom ek vra vir jou vandag drie vrae: 1) Wie sou jy eerder wou wees? Dis nou as jy kon kies. Dink bietjie saam met my – wie ken jy wie se lewe so ideaal lyk (op die oog af) dat jy nou in sy skoene sou inklim as jy kon? 2) Wie se pakkie sou jy eerder wou dra as jou eie? Wat is in ander se pakkies wat jy graag in joune sou wou inlaai? Miskien geld, materiële dinge, gesondheid, kinders, ens. As jy dus vandag kon sê: “Here, ek hou nie van my pakkie nie, ruil myne met sus en so s’n om, asseblief” – met wie sou jy wou ruil? Ek dink ons almal wil graag so ‘n kombinasie van ander se inhoud in ons pakkie sit, en dan glo dat volmaakte geluk op ons wag. 3)
Wie ken jy wie se lewe 100% volmaak is? Die pakkie is volmaak gepak
met net die beste van omstandighede, genoeg inkomste, perfekte liggaam,
geen gebreke, goeie “looks”, pragtige huis, voorbeeldige en slim
kinders, goeie pos by die werk, fiks, gesond, perfekte huwelik, lekker
vriende … ag man, beter kan jy nie. Ken jy so iemand? Wel, die goeie
nuus is: hy is nog nie gebore nie. Al lyk dit soms vir jou of die persoon
volmaak is, belowe ek jou hy sal ook sy pakkie wil ruil. Ps 49:17-21 Kan jy sien dat
die Psalmskrywer besef dat alles net tydelik is? Nou ja, as ons dan sê
dat elkeen se pakkie so ‘n paar vrot vruggies in het, en ons tog nie kan
kies wat in ons pakkie is nie, moet ons seker maar aanvaar dat ons nou
maar eenmaal het wat ons het. Vraag is … kan jy dit dra? Kan jy by die
punt kom van onvoorwaardelike tevredenheid met en aanvaarding van jou
omstandighede? Of gaan jy vir ewig hunker na ‘n ander se lewe? Aan die anderkant
kan jy dalk iemand ken wie se pakkie ondraaglik swaar is, en vir wie jy
bitter jammer is. Ken jy so iemand? Miskien jou ouer, of jou kind, of ‘n
vriend? Of nog meer – miskien is daar ‘n vriend wat jou beskuldig dat
dit met jou beter gaan as met hom, en jy voel dalk skuldig dat jy niks
daaraan kan doen nie. Gal 6:2 sê: “Dra mekaar se laste en gee op die
manier uitvoering aan die wet van Christus”. Is dit nou: “dra
mekaar se laste”, of is dit “dra mekaar se pakkie”? As jy die pakkie
wil dra, beteken dit dat jy jou eie “onvolmaakte” een dra, sowel as
‘n ander s’n – en jy kan nie! Maar as jy iemand se laste dra,
beteken dit om sáám met iemand te stap – self dalk kreunend – maar
jy is dáár vir die persoon. Jy kan dalk dele van sy pakkie vir hom help
dra, maar wees versigtig dat mense nie hulle hele pakkie op jou “dump”
nie. As jy saam met iemand stap, kan jy hom ondersteun en moed inpraat
terwyl hy swaar dra aan sy pakkie. Jy weet, party mense kan darem subtiel
hulle pakkie op jou afpak. Jy moet dalk iemand finansieël help, net om
dan te sien dat hy eintlik meer het as jy. Is jou pakkie vandag swaar? Ek dink so, myne is ook. Begeer jy om vrede te hê met jou pakkie? Hier is vir jou ‘n geheim: die woord “vrede” kom voor in die woord “tevrede”. Jy kan nooit in jou lewe vrede ervaar as jy nie tevrede kan wees nie. Wanneer is genoeg genoeg? Kon jy dalk al daardie lyn kry? Voel jy ander se gesondheid is net altyd beter as joune? Jip, meneer X is dalk lekker ryk, en “tall, dark and handsome”, maar sy huwelik val uitmekaar. Wil jy regtig sy pakkie hê? Miskien spartel jy dalk bietjie met selfbeeld, en meneer X kom so mooi reg, hy lyk so in beheer, maar hy is dalk terminaal siek. Miskien lyk die baas by die werk se posisie so ideaal, en die 4X4 blink mooi, maar sy kind is verslaaf aan dwelms. Miskien irriteer jou werk die blou blits uit jou uit, maar meneer X het miskien sy huis verloor. Al is jou pakkie soms so swaar, is dit nie tog maar meer draaglik as enige iemand anders s’n nie? Is daar dalk iets
wat jy vandag uit jou pakkie kan uithaal wat dit vir jou meer draaglik
gaan maak? Is daar iets wat jy nóú kan doen om dit beter te kry? Hanteer
dit soos ‘n deurmekaar laai: pak alles uit, neem voorraad op, gooi weg
wat nie nodig is nie, wat uitgedien is, en pak die res mooi terug. En as
daar niks is wat jy kan uitgooi of regpak nie, kom dan by die punt van
aanvaarding; kom by die punt waar jy vir die Here dankie sê vir wat jy
het, en wie jy is. Kyk vir ‘n slag watse seëninge jy in jou pakkie het,
en dank en prys die Here daarvoor. Konsentreer op die goeie dinge wat in
jou pakkie is, en sorg dat jy nóg goeies inpak. Kyk gerus om jou.
Jy sal sien dat jou pakkie nie die swaarste is nie! |