WOON EN WERK RUSTIG VOORT


Is jy al op? Maak jy klaar vir werk? Het jy 'n werk? Dan is jy baie geseënd! Weet jy dit? En as jy nie nou 'n werk het nie, is jy bloot “tussen projekte” en kan jy weet dit sál êrens verander. Hoekom werk jy? Wat is jou hoof motivering? Jip, jy kan sê, "om te oorleef, aap!" Ja, dit is  seker waar! Maar wat nog? Iemand sê eendag ons werk óf uit vrees, óf uit gierigheid. Dit is "greed" in Engels. Ek dink dis in 'n baie groot mate waar. Vrees dat jy jou werk sal verloor, maak dat baie ander goed ingeboet word, dalk familie, vriende, kinders, huwelik, ens. Gierigheid, hebsug, gulsigheid en inhaligheid maak dat ons meer en meer bymekaar wil maak. En die prys wat jy betaal, is presies dieselfde as om vir vrees te werk.

Daar is egter veronderstel om 'n derde rede te wees, en dis om te werk asof jy dit vir die Here doen. Ten spyte van jou omstandighede.

Ps 37 : 1 - 11
1 Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie,
2 want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer.
3 Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.
4 Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
5 Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
6 Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag.
7 Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie.
8 Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende.
9 Die skelms sal uitgeroei word, maar dié wat hulle vertroue in die Here stel, sal in besit bly van die land.
10 Nog 'n rukkie en daar sal geen goddelose meer wees nie; 'n mens sal hom soek waar hy was, maar hy sal nie daar wees nie.
11 Dié wat nou verdruk word, sal die land besit en hulle verlustig in hulle welvaart.

Met die klem op "woon en werk rustig voort". Is dit só vir jou?

Die vraag is, is dit moontlik om rustig voort te woon en te werk? Waar kom werk vandaan? Hoekom is dit so dat ons dan moet woon en werk? Miskien dink jy dis Adam en Eva se vrugteslaai ekskursie! Nee - slegte nuus, nie hulle skuld nie! Die opdrag vir werk is al lánk voor dit vir Adam gegee. Gen 1 : 27 - 28, "God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê, "Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit."

Werk is dus 'n opdrag, met goeie bedoelings. Sekerlik nie om manlief besig te hou sodat vroulief ongestoord op 'n "shopping spree" kan gaan nie. En ja, ons lees na die sondeval in Gen 3 : 17 dat ons met swaarkry 'n bestaan uit die aarde sal maak. Ek dink egter nie werk is veronderstel om hel op aarde te wees nie.

Het jy geweet?

· Werk kan lekker wees?
· Werksomstandighede kan aangenaam wees?
· Mens kry base wat gereeld glimlag?
· Dis nie regtig nodig om 12 ure per dag te werk nie?
· Oortyd werk is soms uiters onproduktief?
· Daar wag dalk 'n beter pos as hierdie een ondraaglik is?
· Dis jou eie verantwoordelikheid om te sorg dat jy rustig voort kan woon en werk?
· Laastens - dinge gaan verander, en dit gaan moeilik wees, maar dit kan ook wonderlike nuwe geleenthede wees!

Jy sien, dit gaan alles oor gesindheid. Wat is my en jou gesindheid teenoor werk? En teenoor die baas? En die werksplek? Ja jitte, ons word soms kwaad vir die baas - of vir Klaas - maar dit mag nie ons lewensvreugde steel nie.

Die Bybel gee vir ons die volgende riglyne:

Ef 6 : 5 - 9
5 Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met 'n opregte hart, asof dit vir Christus is.
6 Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen.
7 Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.
8 Julle weet tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou slaaf is of vry.
9 En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie.

Met 'n opregte hart, asof dit vir Christus is. Werk soos slawe van Christus. Al is julle slawe (werknemers) doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie. Ja, ongeag van die omstandighede. En eienaars (werkgewers - toesighouers - bestuurders) behandel julle slawe (werknemers, ondergeskiktes) met dieselfde gesindheid. Dieselfde as wat? Asof jy dit vir die Here doen.

Mag is 'n verskriklike ding. Min mense kan mag met verantwoordelikheid hanteer. Spr 30 : 21 "Daar is drie, nee, vier dinge wat die lewe ondraaglik maak, wat onuitstaanbaar is. 'n Slaaf nadat hy koning geword het ……"  As jy in ’n leiersposisie is by jou werk, pasop dat jy nie jou mag misbruik of verkeerd aanwend nie. Ef 6:9 sê hoe werkgewers hulle slawe moet behandel: Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here, en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie.

As ons nou sê :woon en werk rustig voort, hoe kan ons dit doen? 'n Klomp moenies:

1. Moenie verkeerde / sondige verhoudinge by die werk aanknoop nie.
2. Moenie jou dag deurbring met skinderpraatjies en kwaadpraat nie.
3. Bly weg van 'n ondergrawery van mense af.
4. Moenie met 'n negatiewe gesindheid werk nie. Dit vernietig net jouself.
5. Moenie so min as moontlik doen nie.
6. Moenie kroek met afsiek-dae of met verlof nie; dis verkeerd, oneties en sonde.
7. Moenie betrokke raak in oneerlike dinge en verkeerde transaksies nie.
8. As jy die eienaar van die slaaf is, moenie dreig en vloek en skel nie.

Wat moet jy doen?

1. Werk net oortyd as dit werklik nodig is.
2. Verander jou gesindheid. Lag, en die wêreld lag saam.
3. Sê soms nee vir die baas, maar doen dit met respek.
4. Maak tyd vir jou gesin, jouself, pret, ontspanning, huweliksmaat, en baie belangrik - die kinders.
5. Leer jou kinders van kleins af dat werk 'n plesier kan wees. Soos jy elke aand oor die werk en baas praat, so sal hulle ook.
6. Werk asof Jesus die Baas is.

Woon en werk rustig voort.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)