FOTO's VAN DIE VORIGE KAMPE VIR GESTREMDES >>

Rina, Susan, Ria & Theuns

Karen & Genie

Shumon & Ian

Annette & Willie Rhoda & Anemari Marencha & Lindie

Santie, Ria & Patti Rudolf & Lukas Sonja & Elna

Dusty, Brenda & Wayne Mariaan & Patrick

Louis & Ansie

Van huil na lag.... in sekondes. Van bejammering tot verwondering... in sekondes. Van kla met die witbrood onder die arm tot ongekende dankbaarheid... blitsig! Dit is wat ons beleef het dié naweek.

Min mense kan spog met so 'n klomp bederf in so 'n kort tyd, maar dis hoe die span wat die naweek van 12 - 13 Maart 2011 die 6de Rippel Kamp vir Gestremdes help aanbied het, kan getuig. Alles moontlik gemaak deur Rippel 90.5 wat hierdie projek onder hulle vaandel geneem het.
 

 

Almal ken waarskynlik iemand met een of ander vorm van gestremdheid en loop dalk daagliks verby mense met hierdie uitdagings, maar min mense weet hoeveel seën mens uit kontak met hierdie spesiale mense kan put. Dit was ook die tema vir hierdie kamp:- Die Geseëndes, soos beskryf in Matt 5. Ons meet mos graag seën aan voorspoed, of  'n goeie werk of 'n wonderlike gesinslewe, of gesondheid... ens.  Jesus gee egter 'n totaal nuwe perspektief op seën in hierdie gedeelte. 

So ontdek ons toe almal tydens hierdie naweek hoe geseënd ons werklik is, ten spyte van...

Benewens die waarhede in Matt 5, het ons egter sakke vol seën ontdek deur saam te kuier en saam te speel. Jitte, dis 'n gesig om te sien as 'n mens 'n bal probeer gooi wat jy skaars kan vashou, of om 'n waterbalon te probeer vang wat jy weet jou halfpad gaan versuip. Die wonderlike van dit is dat dit kan gebeur in omstandighede waar pret en lawwighede die doel van die oefening is, en  nie die sukses van die aksie nie. Kyk gerus na die gesigsuitdrukkings op die foto's en jy sal sien dat sukses nie gemeet word aan die uitkoms nie, maar aan die deelname, want almal was wenners!!! So het ons mekaar geseën. 

Ons het konsert gehou. Natuurlik, dit moet mos altyd op ‘n kamp gebeur! Die Rippel 90.5 Skouspel! Pure lawwigheid, maar ook ernstige oomblikke. Elkeen wat 'n item aangebied het kon dit sonder skaamte of pretensies doen, want daar was mos nie daai tipiese publieke “aankyk” nie. Hier kon ons mekaar in die veiligheid van die situasie seën met talente wat diep binne-in gewag het vir die regte oomblik om uit te “pop”.  

Ons het “sandkaartjies” gemaak met seënwense binne-in wat ons Sondag tydens nagmaal vir mekaar gegee het. Die maak van die kaartjies was regtig groot pret, en toe ons dit vir mekaar gee, was ons geseënd! 
 


 


 

 

 

Lofprysing is ook nogal 'n uitdaging vir mense wat kortkom aan sommige fisiese vermoëns, maar die Here draai elke noot perfek reg, want Hy is nie beperk tot die wetenskap van musiek nie. Hy stel net belang in die wetenskap van die hart. Ek glo dit het Hom geseën. 
 

Sondagoggend was 'n lekker hoogtepunt toe die Tehilla sangers ons kom seën het met hulle skitterende sangbediening, al die pad van Springs af. DIT is nou wat gebeur as mense 'n hart het vir spesiale mense! Dit het gesorg vir pure lekkerkry. Die Tehilla-groep het ook elke gestremde geseën met een van hulle CD's.
 

     

Die span van Deo Volente Bush Adventures het ons geseën met lekker kos en boere gasvryheid, al moes  ons meet en pas om almal 'n lekker lê te laat kry. Egter geen probleem nie, want dit dra by tot die pret van die naweek. 
 

Die terugvoer sessie is maar altyd 'n tydjie van trane, maar dis lekker trane, want saam met dit vloei daar woorde so soet soos heuning oor almal se lippe. Almal het hulle waardering vir mekaar uitgespreek, want ons het mos nou groot pelle geword. Ons het mekaar WERKLIK geseën. 

... en dit ALLES was moontlik gemaak deur Rippel luisteraars wat gretig was om ander mense te seën! Mense wat werklik verstaan wat dit beteken om 'n seën vir ander te wees, het elke sent geskenk wat nodig was om die kamp weereens kosteloos aan te bied. Hoe sê mens dankie? Dalk iets, soos:- “Jy weet nie wat jy vir ander beteken nie”, of “Jy is 'n ster”, of “Jy is waarlik 'n Christen”, of “Mag die Here jou seën”. 
 

Ons sê ook dankie aan elkeen van ons span wat altyd beskikbaar en bereid is om die ekstra myl te loop: Dennis en Marietjie, André, Martie en Tiffany, asook elke ander helper wat so onbaatsugtig diens gelewer het - ons glo dit was vir hulle 'n seën.

Willem & Wilna Dennis & Marietjie André, Martie & Tiffany