|
OM GOD SE STEM TE HOOR Het jy al God se stem gehoor? Het jy al ervaar dat God met jou praat? Om vir jou 'n spesifieke woord, of opdrag, of 'n woord van bemoediging te gee? Ek is seker dat ons almal sekerlik op een of ander manier God se stem gehoor het. En ek is seker ons almal smag daarna dat die Here spesifiek met ons praat. Wel, dit gebeur, en dis reg so. God praat met Sy kinders. Op verskillende maniere. Ek wil eers so 'n bietjie negatief begin deur te vra:- "Hoekom wil ons God se stem hoor? Wat wil ons hoor? Wat moet Hy vir ons sê? Waaroor moet Hy met jou praat? Wat is ek en jy bereid om te doen met dit wat Hy vir ons wil sê?" Ongelukkig is dit so dat ons soms net wil hoor wat ons pas. En nog meer, soms soek ons so 'n bietjie toekomsvoorspelling sodat die Here vir ons kan vertel dat daar lekker voorspoed wag, en dalk op die koop toe so 'n bietjie finansiële gewin. Dan gaan klop mense sommer maklik by sogenaamde profete aan. Jer 23 : 16 - 17 Moeilike een die. Oppas!! Sulke mense vertel maklik stories wat hulle self opdis. Alles wat mense sê, kom nie noodwendig van die Here af nie. As iemand iets in die Naam van die Here sê, vra eers "Sê wie?" Hoor die stem van die Here. Hoe? Kom ons kyk so bietjie terug in die geskiedenis. Eks 3 : 1 - 6 'n Baie baie spesiale en gewyde oomblik toe God met Moses praat. Stem jy saam dat dit 'n baie besondere en heilige oomblik was? Nie sommer so in die 'stride' nie? Ons wil die Here se stem hoor. Kan ons verwag dat God met ons moet praat soos met Moses? Ons ontleed dit so bietjie:- 1. God praat op Sy tyd, Sy metode en Sy terme met
Moses. Hy het besluit wanneer Hy met Moses gaan praat. Inderdaad, dit lyk of 'n ontmoeting met die Oppermagtige God 'n baie baie spesiale oomblik is. En toe gee God vir Moses boonop 'n opdrag waarvoor hy nie baie lus was nie. Hoor jy God se stem? Hoe hoor jy dit? Wat wil jy hoor? Kan ons vandag God se stem hoor? Ja, verseker!! Ek vra net "Is jy bereid om God se opdragte uit te voer wat Hy aan jou openbaar? Het die woorde: "En toe sê die Here vir my", dalk so bietjie goedkoop geword nie? Ons hoor dit deesdae nogal baie. Klink nogal goed en spesiaal. Maar kom dit regtig van die Here af? My vriend, moet nooit die Here aanhaal vir iets wat Hy nie gesê het nie!! Hoe hoor ons Sy stem? · Soms in 'n gedagte wat by jou opkom wat maar net
nie wil weggaan nie. En soms word dit op verskeie maniere bevestig. Hoe praat Hy deur Sy Woord? Wel, jy moet dit lees. Die grootste geheim! Iemand sê eendag vir 'n ds: "Ek staan op die Woord". Toe sê die ds: "Klim af en lees dit". Probeer bietjie hierdie:- Neem in jou stiltetyd 'n gedeelte in die Bybel. Nie 'n lang stuk soos 'n hoofstuk nie. Lees die stuk so drie keer stadig deur, sonder om dit te probeer verklaar, of selfs om die presiese konteks te verstaan. Neem dan 'n pen en 'n notaboek en vra jouself die vraag:- Wat wil die Here VANDAG vir MY deur hierdie gedeelte sê. Begin om die gedagtes wat in jou kop opkom neer te skryf. Lees die stuk weer, bid dat die Here vir jou dit sal oopbreek, en wees bereid om alles te doen wat God dalk vir jou mag sê. Skryf in ek-taal, bv die Here vra vandag vir my of ek Hom waarlik liefhet. Gaan lees dan agerna 'n paar keer wat jy geskryf het. Jy gaan nogal verstom staan hoe die Here met jou praat. Jy sien, die Here praat op baie maniere met mense, maar ons moet soms gaan toets of dit regtig Sy stem is wat ons gehoor het. Hoe? Toets dit aan die Woord. Toets by ander mense. 1. Soms, moet ons wag!! Wees geduldig om God se
stem te hoor!!
|