GLO SONDER OM TE SIEN

Walk by faith and not by sight – dit beteken om die lewenspad in geloof te stap sonder dat jy die pad kan sien. Ek dink nét ’n gesiggestremde mens kan dit verstaan in die fisiese wêreld. Ek weet nie hoe dit moet wees nie, want ek kan sien. As ek toe-oë loop is ek totaal verward en verdwaal en ek vrees letterlik elke tree, omdat my liggaam blootgestel word aan ’n totale onbekende situasie. Ek het al deur my huis geloop met toe oë om te kyk hoe ek vaar en dis nie té moeilik nie, omdat ek onthou waar alles is, elke deur, verskillende afstande en min of meer waar die meubels staan. Om dit te doen, moet ek staatmaak op die geloof dat alles is soos wat dit altyd was en dat iemand nie die goed rondgeskuif het nie. As ek alles kan sien, is dit natuurlik baie makliker! ’n Warm stoofplaat, of verwarmer is nou weer iets anders. Mens kan nie die hitte sién nie. Ek kan alles wat ek kan sien maklik glo, want dit is ge-openbaar, ek hoef nie te twyfel nie.

Baie ongelowiges sukkel met die gedagte om in iets of Iemand te glo wat hulle nie kan sien nie. “Seeing is believing” sê hulle. Sulke mense verstaan nie hoe ons ’n pad saam met die Here kan loop nie, want hulle kan Hom nie sien nie. Ek dink egter ons as Christene ken en verstaan ’n dimensie wat vreemd en dwaas lyk vir ’n ongelowige.

Hoe gaan ek en jy vorentoe in die lewe? Waarnatoe kyk ons? Vorentoe of agtertoe? Nou kan ek vra: is dit anders vir ’n gesiggestremde persoon om vorentoe te kyk, of nie? Dink jy hy het ’n voordeel? Ek dink nogal so, want hulle maak nooit staat op sien nie. Hoe “sien” jy die toekoms? Het jou verlede (wat jy tog kan sien) ’n invloed op jou toekoms (wat jy nog nie kan sien nie)?

2 Kor. 4:18
Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Die ongelowige glo nie in die hiernamaals nie, want dis onsigbaar. As gelowiges lei ons ons lewens gerig op hierdie onsigbare ewigheid. Die ongelowige glo jy gaan dood soos ’n hond en alles stop net daar. Vir ons egter, gaan die lewe nie net oor die hier en nou, oor die sigbare dinge nie. God, wat onsigbaar is, maak vir ons ’n belofte van ’n onsigbare plek waar ons vir ewig en ewig sal lewe, maar waar ons Hom sal sién! As ek dus nie my hoop kan plaas op iets meer as dit wat ek nou kan sien nie, het ek geen hoop nie. Ons saligheid berus op geloof in die onsigbare. Daardie geloof is gebaseer op die beloftes wat God aan ons gee. Dis geen kuns om in iets te glo wat jy kan sien nie. ’n Mens is net in staat tot geloof deur ’n Goddelike ingryping deur die Heilige Gees, want dit is Hý wat ons geestesoë open om die onsienlike te sien.  

Terug na die warm stoofplaat. Ek kan hitte nie sien nie, maar ek kan die effek daarvan sien, bv. jou hand brand as jy daaraan vat, of die hitte maak kos gaar, of smelt ’n stukkie plastiek, ens. Ek glo dus nie in hitte omdat ek dit kan sien nie, maar omdat ek die effek daarvan kan sien.

Dis nou waar hoop inkom. Hoop op ’n toekoms, hoop vir môre, hoop op ’n ewige lewe. As ek een belofte van God kan glo, kan ek alles glo. Hy sê: Ek sal jou red, Ek is saam met jou al sien jy my nie, jy hoef geen onheil te vrees nie.

Rom 8:24-25
Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

’n Langafstandatleet hardloop na ’n onsigbare wenstreep toe en hy volhard, hy byt vas, hy beur vorentoe, want hy weet dit is daar, al kan hy dit nie sien nie. Ek en jy volhard, ons byt vas, ons beur vorentoe en ons hardloop na ’n wenstreep wat êrens onsigbaar voor ons lê. Die atleet hardloop op ’n pad wat uitgelê is met merkers en aanduidings, want hy weet die pad gaan wenstreep toe. So gee die Here vir ons riglyne en hy waarsku dat daardie pad nou en moeilik is, maar Hy verseker ons dat Hy daar wag met die checkered vlag. Hy is egter ook die helper en aanmoediger langs die pad, die noodhulpman, die sekuriteitsbeampte en die rigtingwyser. Al wat Hy vra is: glo in My, want Ek vat jou na die wenstreep toe, die onsigbare wenstreep. Dit vra onwrikbare geloof van ons kant af. Ware geloof.  

Heb. 11:1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Om seker te wees van die dinge wat ons hoop. Dit klink soms vir my so na ’n teenstrydigheid. Hoe kan ek seker wees van dinge wat ek hoop? Ek kan sê: ek hoop die Bokke wen, maar hoe kan ek seker wees daarvan as die wedstryd nog nie plaasgevind het nie? Ek kán hoop op ’n ewige toekoms omdat ek seker is van die beloftes van die Een wat my toekoms in Sy hand hou. As ek dus moet “walk by sight”, is daar nêrens om heen te loop nie, niks om voor te hoop nie. Wat kan jy met jou fisiese oë sien wat jou hoop kan gee?

Ons kan God nie sien nie, maar ons kan die effek van God se teenwoordigheid in ons lewe sien. Wanneer jy jou hand op ’n warm plaat druk, dan is die blase die effek van die hitte. As ons soek na ’n effek van God se bestaan en van God se werke is dit maklik:

- Ons wonderlike skepping is “out of this word”. Die wonder van die heelal, die wetenskap, al die dinge wat lewe moontlik maak, die volmaaktheid van die natuur, die voëltjies wat versorg word... as ek hierna kyk, dan moet ek glo.
- Die manier wat ander Christene deur die lewe gaan, byna asof daar een of ander kode in hulle harte geskryf staan, laat my glo. Dis vreemd dat mense wat tot bekering kom, dieselfde geestelike taal praat. Dit móét wees, want die kode is Jesus... as ek dit sien, dan moet ek glo.
- Gebed. Die effek van gebed is alombekend. Het God al jou gebede verhoor? Gebed is eintlik ’n misterieuse iets, maar dit wérk... as ek dit beleef, dan moet ek glo.
- Die effek wat die Woord van God op mense het, is verstommend. Baie, baie mense het al tot bekering gekom deur net die Bybel te lees... as ek dit lees, dan moet ek glo.

So is daar baie dinge wat die gevolg is van die bestaan en werke van Iemand wat ons nie kan sien nie. En vandag vra Hy vir jou en my net om ons harte oop te maak, volgens Op 3:20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.

Dit is ’n belofte. Onsienlik. Dis egter vas en niks kan dit verander nie. As jy jou skuld bely, sál Hy dit vergewe. As jy Hom aanneem, sál jy gered word. Joh. 6:47 Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)