Hoe aangenaam is U Woord, soeter as heuning in die mond

Heuning is 'n rusplekkie, 'n kuierplekkie, weg van die sorge van die lewe, weg van die gejaag en gewoel en gewerskaf, weg van al die gestoei om te oorleef.
Hier kan jy soet druppels uit 'n heuningkoek kom kry, en versadig word met heuning uit 'n rots, dié Rots, Jesus Christus.
Ons wil jou uitnooi om rustig te kuier en weer en weer terug te kom.
 



Lees gerus enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder .....

13 Maart 2024
 

Bereken die prys
Alles het 'n prys, elke besluit wat 'n mens neem, het een of ander koste, en dis dikwels ongelooflik duur. Weet jy wat is die probleem met genade? Ons verval in hierdie gedagte van: Jesus het mos klaar daarvoor gesterf.
En nou begin mens maar leef asof alles veroorloof is, en ons kan eintlik maar doen wat ons wil. En dis net daar waar die volstruis in die windpomp invlieg, want só dikwels besef ons hierdie goed eers as dit te laat is.
My punt is, ons kan nie net doen wat ons wil nie, want ons sal elke oomblik aan iemand moet verantwoording doen. Wanneer dit by dinge kom wat teen die Here se wil is, wil Hy 'n antwoord hê, maar dis nie al nie, want ons moet dikwels ook aan ons familie, of vriende verantwoording doen.
Maar die ergste is as jy aan jouself moet verantwoording doen, as daardie tyd aanbreek wat jy jouself verwyt oor jou besluite.
Maar weet jy wat? Die Here los jou nie net sommer om aan te gaan soos jy wil nie, want Hy sal elke oomblik denkbaar gebruik om jou aandag te kry, en soms sal dit bitter ongemaklik wees, en dit sal jou soms bykans breek. Nogal ironies dat ons dan die Here se weë bevraagteken. Hoekom Here? Hoekom kom hierdie goed oor my pad? Hoekom kasty U my so?
Dan sê die Here dalk, Ek is te lief vir jou om te sien hoe jy jouself en mense om jou te vernietig!
Ons sing graag daardie liedjie wat sê: Vorm my en maak my, net soos U wil... U is die Pottebakker en ek is die klei.
Maar ons sing dit maar met die gedagte dat die Here ons nou nie regtig in 'n vuurwarm oond moet druk nie.
"Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood." (Spr. 16:25)
Ek sien nogal twee betekenisse in die woord "dood". Eerstens die Geestelike dood, waar ons nie die ewige lewe by God beërwe nie, maar tweedens ook die fisiese dood waar ons onsself vernietig weens swak besluite.
Alles het inderdaad 'n prys, wat beteken dat dinge baie sleg kan wees, maar andersyds kan dit ook 'n beloning wees, wat 'n wonderlike prys is om te kry.
Die Here gee nie op nie, Hy doen alles wat Hy kan om ons aandag te kry, maar dit hang van onsself af of ons betyds gaan reageer en ons lewenswyse wat tot die dood lei, te verander. ~ Willem Botha


Klik hier vir nog Heuningdruppels >>


07 Maart 2024
 

Ons was nou nie dag op die begrafnis van ’n vriend. Daar word toe na hom verwys as ’n bastion vir sy gesin, familie en vriendekring. Hoe mooi is dit nie! Dit beteken hy was vir hulle ’n veilige hawe, ’n wegkruipplek, ’n skuilplek. Hy was vir almal ’n steunpilaar, ’n baken van hoop, ’n stewige anker, ’n bron van sekuriteit en krag. Almal kon na hom toe kom met hulle probleme en hy sou luister en raad hê en moed inpraat. Almal kon by hom aanklop en hy sou groot en klein met oop arms ontvang en sag met hulle werk. As jy by hóm was, gaan jy opgebou weg, voel jy ligter, is jy meer positief, sien jy kans vir jou pad. En nou is hulle bastion weg, in ’n oogwink, onverwags ... Val hulle lewe nou inmekaar? Gly hulle voete nou onder hulle uit? Dobber hulle nou rond soos ’n boot sonder anker? Nee! Hulle getuig nou dat God hulle ware Bastion is. Dié Een waar hulle nou skuil, waar hulle nou troos en raad en beskerming kry. Dié Een wat nou vir hulle die anker en hoop en krag is. Dié Een waarheen hulle nou vlug vir raad, dié Een wat nou hulle laste op Hom neem, wat hulle trane afdroog en hulle laat kans sien vir die lewe sonder hulle mens-bastion. Ek het net besef ons moet dié Bastion ken, ons moet die pad na Hom toe ken, ons moet naby Hom bly, ons moet die veiligheid van sy arms opsoek, ons moet ons hand in sy sterk hand hou, ons moet ons lewe op sy fondasie bou. Ons mens-bastions is verganklik, hulle blaas hulle asem maklik uit. “Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.” (Ps. 18:3) Dís God, ons Bastion. ~ Wilna Botha


Klik hier vir nog Heuningdruppels >>


Hande - myne en God s'n

Ek het die afgelope tydjie die tema van hande oordink 'n paar kort stukkies daaroor geskryf:

- my eie hand: pynlik a.g.v artritis en gevolglike operasies aan my vinger
- doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen
- Jesus se hand wat genesing bewerk
- wat het jy in jou hand?
- opstandige, ongehoorsame, sondige hande
- Pilatus se hande van onskuld
- die skild van geloof in jou hand
- all of these lines across my hand
- put your hand in the hand of the Man who stilled the water
- skryf op jou hand: die Here s'n
- my God het sy goeie hand oor my gehou
- in die skaduwee van God se hand
- Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou
- dis Kersfees - kyk na Jesus se hande en glo


Klik hier as jy dit wil lees >>


So sê die Here, Here

Toe ons dogter Februarie in die tagtig jaar oue kerk in Clarens getroud is, het die woorde op die kanselkleed 'n groot indruk op my gemaak: "So sê die Here, Here". Hoe kragtig en mooi is dit nie! Die Here praat met sy mense. Hy praat in sy “tempel”. Hy praat deur sy “profeet”. Die Here sê trooswoorde, beloftes van genade en redding, versekering van sy liefde en verlossing. Die Here sê woorde wat ons uitnooi om na Hom te kom, by Hom te skuil, by Hom te rus. Hy sê egter ook woorde met opdragte vir ons, woorde met waarskuwings, woorde wat ons maan om terug te draai na Hom en gehoorsaam te wees ... Klik hier om 'n klompie kort stukkies oor hierdie tema te lees >>


Breek brood

Daar is so ’n mooi uitdrukking wat mense gebruik wat sê: ons breek saam brood. Dit beteken baie meer as om net ’n maaltyd saam met iemand te nuttig. Dit beteken dat jy jou kos en jouself met iemand deel. Dit beteken daar is ’n kameraadskap tussen julle, ’n spesiale band, ’n emosionele en geestelike band. Ek dink dié term het ontstaan toe Jesus saam met sy dissipels aan tafel was en Hy die brood gebreek het en gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” (Luk. 22:19). Of dalk toe Jesus die twee vissies en vyf brode gebreek het en uitgedeel het aan ’n honger menigte in Joh. 6:11. Die breek van die brood sê vir my dat Jesus Homself gegee het.  Die Brood wat lewe gee is gebreek en verniet uitgedeel en is onbeperk vermenigvuldig sodat ek en jy ook vandag daarvan kan eet .... Klik hier om 'n klompie kort stukkies oor hierdie tema te lees >>


Leer by Nehemia

Ek het bietjie deur Nehemia gelees en 'n paar lewenslesse oor gebed, afhanklikheid, vertroue, lofprysing ens. geleer. Ek het 'n klompie daarvan neergeskryf. Klik hier as jy dit wil lees >>

 


Vrae wat die Here vra

Ek het  êrens in Februarie 2021 begin om vrae wat die Here in die Bybel vra op te soek en te oordink. Ek het telkemale myself verbeel dat die Here vir my persoonlik ook die vraag vra en dan bietjie gedink wat my antwoord sou wees. Ek het eers begin met vrae wat Jesus gevra het in die Evangelies, maar dit het vinnig uitgebrei tot vrae dwarsdeur die Bybel. Aanvanklik wou ek so tien vrae uitkies om dieper oor te dink, maar tien het op die ou einde meer as vyftig geword! Oor die volgende paar weke wil ek nou bietjie verder gaan en na 'n paar vrae in die Bybel kyk wat verskillende mense in verskillende omstandighede gevra het. Ek glo dit is ook vrae wat baie van ons dikwels mee te doen kry. Ek het dit wat ek reeds oor die vrae geskryf het, hier bymekaar gesit, as jy dit dalk wil lees (en beantwoord!) Klik hier >>
Daarna het ek so 30 vrae uitgesoek en oordink  wat mense in die Bybel vra. Klik hier as jy verder daaroor wil lees >>
 


Musiek en lofprysing

Ek het in die laaste paar maande bietjie stilgestaan by ’n klompie gedagtes uit die Bybel oor musiek, sang en lofprysing en 30 kort stukkies daaroor geskryf – sommer soos dit in die alledaagse gang van die lewe by my opgekom het en iets vir my persoonlik beteken het. Die teks wat dit alles vir my die beste saamvat is Ps. 115:17-18 soos dit in Die Boodskap staan: “As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou. Kom prys die Here!” Ek het al die stukkies hier bymekaargesit as jy dit dalk weer wil deurlees. Ek hoop dit sal jou inspireer om sommer in te val met ’n lofsang en ’n pryslied tot eer van die Here.
 

Klik hier vir alles >>


Wie is God  vir jou?

Oor die afgelope 7 maande het ek ’n stuk of 45 kort stukkies geskryf oor wie God is, oor verskillende name wat Hy genoem word in die Bybel. As ek terugkyk weet ek dis maar ’n druppel in die oseaan en as mens iets moet skryf oor elke karaktereienskap van die Here, sal jy langer as vir ewig daarmee besig wees en sal die wêreld nie genoeg plek hê vir die boeke nie (soos wat Joh. 21:25 sê) In hedendaagse terme sal mens seker kan sê dat die wêreldwye web nie alles sal kan huisves nie en dat Google nie alles sal kan deursoek nie! Kortom: ons God is groter as wat woorde en name Hom kan omskryf, wie Hy ís is veel meer as wat ons gedagtes kan akkommodeer. Dit was egter vir my ’n  leersame en verrykende pad wat begin het by Eks 3:13

... 
 lees verder >>


Julle moet mekaar ...
 

Ek het die afgelope tyd ’n paar gedagtes gedeel oor ’n klompie van die “julle moet mekaar”-tekste in die Bybel. Julle moet mekaar aanvaar, mekaar vergewe en mekaar liefhê; julle moet gasvry wees teenoor mekaar en mekaar dien; julle moet geduldig wees met mekaar, mekaar verdra en in vrede lewe met mekaar; julle moet mekaar help, mekaar se laste dra, mekaar troos en moed inpraat; julle moet mekaar leer en onderrig en lofliedere saam sing ...
 

As jy wil, kan jy hier klik om hulle weer te lees >>


Jesus het hulle innig jammer gekry

Ek het vir die afgelope agt keer wat dit my beurt was om ietsie te skryf bietjie stilgestaan by dié uitdrukking: "Jesus het hulle innig jammer gekry", wat mens 'n hele paar keer in die evangelies raaklees. Dis 'n uitdrukking wat my so aangegryp het en net vir my onderstreep het dat die Here ’n barmhartige God is. Net soos Jesus dit nie kon help om mense wat honger, siek en hartseer, verlore en blind, vuil en verwerp is, jammer te kry en diep meegevoel met hulle te hê nie, net so weet ek dat Hy dit vandag vir my persoonlik ook sal doen. Sy arm is nooit te kort om te help nie, Sy genade is elke dag vars, Sy oor is nooit te doof om te luister nie, Sy hulp en uitkoms  is nooit vêr nie, Sy liefde is onbegrens, oneindig en onverstaanbaar groot. “Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde” – kyk maar bietjie hoeveel keer hierdie frase in die Bybel voorkom, dan besef mens Sy hart word gou sag! “Die Here gee graag goeie dinge aan ons. Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het ... Die Here sorg vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde. (Ps. 145:9-16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha
 

Ek het al die stukkies hier bymekaargesit – klik hier indien jy dit dalk weer wil lees >>


Bring die hoop weer terug

Ek het die afgelope tydjie bietjie gelees en gedink en geskryf oor hoop. Ek het tekste opgesoek wat oor hoop gaan. Ek het gewilde aanhalings oor hoop opgesoek. Hier is so 10 gedagtes wat ek neergeskryf het. Lees hier meer >>
 


Wonderwerke van Jesus uit Johannes
 

Ek het oor die afgelope paar weke bietjie gelees en gedink oor die wonderwerke van Jesus en veral dié wat in Johannes opgeskryf is. Aan die einde van die boek sê Johannes dat daar nog baie dinge is wat Jesus gedoen het wat nie opgeskryf is nie. “Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” (Joh. 21:25) Johannes-hulle het definitief báie wonderwerke gesien.  Ek dink nie dit geld net vir Johannes se tyd nie, ek glo dit is nóú ook so, ons moet net met oop geestesoë deur ons alledaagse lewe gaan om raak te sien waar die Here beweeg en wonder na wonder laat gebeur. Die rede dat die wonderwerke vir ons in die Bybel opgeskryf is, is sodat ons in Jesus moet glo:  “Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 20:30-31) Kyk hoe dit gebeur het met mense wat Jesus se wonderwerke beleef het: Joh. 2:11 – toe die dissipels sien hoe Jesus water in wyn verander, het hulle tot geloof in Hom gekom. Joh. 4:53 – toe die regeringsamptenaar se seun genees is, het hy en sy hele huisgesin tot geloof in Jesus gekom. Joh. 6:14 – toe die mense sien hoe Jesus die vis en brood vermeerder het, het hulle bely: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom. Joh. 11:45 – toe Lasarus uit die dood opgewek is, het baie Jode wat dit gesien het, tot geloof in Jesus gekom. Joh. 21:7 – toe die dissipels die ongelooflike klomp vis vang, kon Johannes nie anders as om uit te roep: “Dit is die Here!” nie. Laat ons ook nie nalaat om die Here se wonderwerkende hand in ons lewens te sien en sodoende te groei in ons geloof nie. Laat ons ook nie nalaat om erkenning aan die Here te gee en te getuig oor Sy werke in ons lewe nie.

Terwyl ek deur die wonderwerke gelees het, het ek ’n stuk of 20 gedagtes daaroor neergeskryf.

Lees gerus hier meer daaroor >>


Jesaja se Goud - klik hier >>
 

Die afgelope jaar het ek so stukkie vir stukkie deur Jesaja gelees.  Ek het maar heelwat goed in Jesaja gevind wat ek nie verstaan nie, en wat ek nie altyd weet wat pas waar in nie, en soms sukkel ek maar om sin te maak uit al die profesieë en die oordeeluitsprake maar êrens tussen dit alles, in elke hoofstuk, op elke  bladsy  van die boek, het ek die wonderlikste goud uitgedelf - beloftes, bemoediging, versekering, aanmoediging, tekste om te onderstreep en in my hart te bêre. Dwarsdeur die boek het ek die goue draad van God se genade, vergifnis en versorging gesien, die goeie nuus gesien dat God mense optel en vernuwe en hoop gee. Ek het in dié tyd ’n stuk of 85 kort boodskappies uit Jesaja geskryf wat ek hier gedeel het. Ek het hulle nou almal bymekaargesit as jy dalk weer daardeur wou lees. Ek noem dit “Jesaja se goud” en hoop jy sal ook iets in dié goudpot vind wat jou geloof kan versterk en jou verhouding met die Here kan laat groei.

Lees gerus meer hier >>


My 18 G's vir 2018 - klik hier >>

Op die eerste Maandag van hierdie jaar het ons almal vir mekaar allerhande mooi seëninge toegewens vir die nuwe jaar. Ek het ook ’n klomp wonderlike woorde ontvang van oraloor. Op die tweede Maandag het ek verjaar en toe is dit wéér ’n stroom seëninge en gebede wat oor my uitgespreek word. Dit het my opgeval dat ’n klomp van dié woorde met ’n “G” begin, soos bv. geseënd, gesond, gelukkig, genade, groots, goedheid, guns, genot, Geesvervuld, ens.! Toe besluit ek net daar en dan dat 2018 ’n “G” jaar gaan wees en skryf toe so 18 G’s neer vir my jaar! As mens “G” sê, dan sê jy “gee”.  Om te gee, moet dan seker my eerste G vir die jaar wees ... lees verder >>

 


Kort dagstukkies uit Psalms - klik hier >>


Kort dagstukkies oor die 10 Bybelverse wat die meeste opgesoek word - klik hier >>


Kort dagstukkies uit Spreuke - klik hier >>


Kort dagstukkies uit Fillipense - klik hier >>


Kort dagstukkies uit 1 Johannes - klik hier >>


Kort dagstukkies uit Jona - klik hier >>



Facebook Groep
Sluit gerus aan by ons groep waar ons elke dag heuningdruppels oplaai, en waar jy welkom is om saam te gesels. Klik hier >>


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


 


Aantal besoekers