www.heuning.co.za is ....

... 'n rusplekkie, 'n kuierplekkie, weg van die sorge van die lewe, weg van die gejaag en gewoel en gewerskaf, weg van al die gestoei om te oorleef.

Hier kan jy soet druppels uit 'n heuningkoek kom kry, en versadig word met heuning uit 'n rots, dié Rots, Jesus Christus.

Ons wil jou uitnooi om rustig te kuier en weer en weer terug te kom.

 uit hierdie heuningkoek ...

So met die verloop van tyd het ons deur ons betrokkenheid in verskillende bedieninge baie heuningdruppels versamel. Ons wil dit alles hier in een heuningkoek uitgiet. Ons gebed is dat dit ook vir JOU iets sal beteken in jou stap met die Here, in jou stilword by Jesus se voete ....

 

"Mag elke woord wat uit my mond kom wees soos heuning
En mag gedagtes uit my hart wees soos die môredou
Elk’ onuitgesproke woord en elke saak wat ek bedink,
Mag dit aangenaam en sinvol wees voor u aangesig o Heer
 
Want U's my God, U’s my Redder, U’s my vrede.
U’s die rots waarop ek bou en waar ek skuiling vind
U is my kompas, U Woord gee rigting wanneer ek verlore raak.
Daarom is dit my gebed dat wat ek dink of wat ek praat
Welbehaaglik voor U aangesig sal wees."
(uit Flam Gemeentesang, Ioannis Dekas)


~ Willem & Wilna Botha

Ps 81:17 "Maar vir julle sal Hy ... versadig met heuning uit 'n rots"
Ps 19:12 "Die bepalings van die Here is reg ... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek"
Deut 32:13 "Die Here het ... hom heuning uit klipskeure laat geniet"

 

16 Julie 2014 : 100 000 besoeke vandag op www.heuning.co.za!

Vandag is 'n historiese dag. Die teller wys dat daar tot vandag (16 Julie 2014) 100 000 besoekers op www.heuning.co.za was (sien die foto van die teller soos wat dit vanoggend was hieronder)! Die webblad het in April 2008 die lig gesien en is deur Wilna geskep en sy hou dit self in stand. 'n Paar jaar gelede het die blad 'n "facelift" gekry en elke enkele bladsy het 'n nuwe baadjie gekry.

Die materiaal onder "Boodskappe" is geskryf terwyl Willem betrokke was by Rippel 90.5 en dit in 'n oggend oordenking gebruik het. In Junie 2012 het ons begin om daagliks, tot op hede, "Heuningdruppels" te skryf en op die webblad, sowel as op die Facebook groep geplaas.

Hier is 'n bietjie trivia oor die webblad:
Die lêers op die foto hieronder bevat die oordenkings ("Boodskappe") wat oor 'n tydperk van 9 jaar geskryf is.
Daar is 363 boodskappe, almal met die hand geskryf, waarna Wilna dit getik en op die Heuning webblad geplaas het.
Ongeveer 1850 A4 bladsye (handgeskryf)
Ongeveer 544 500 woorde (meer as 'n halfmiljoen)
Ongeveer 2.7 miljoen karakters. Hordes penne is oor daardie tyd leeg geskryf!
Daar is ook 63 Bybelstudie stukkies op Heuning, wat Wilna geskryf het terwyl ons by die vroue gevangenis in Pretoria betrokke was.
Daar is foto's en getuienisse van mannekampe, sowel as kampe vir gestremdes, waarmee ons tans steeds besig is.

Ons glo dat die Here in beheer is van hierdie blad, geinspireer deur die Heilige Gees en bid dat dit vir vele mense waardevol sal wees. Van die materiaal word deur verskeie mense gebruik en ons glo dat die inhoud getrou is aan Sy woord.

Willem & Wilna