Wat
vir ‘n vraag is dit? Ek kom netnou by die storietjie.
Dis lekker om “spiritual” te
praat, vernaam in die regte geselskap, of hoe? Daar is natuurlik
niks daarmee verkeerd nie, want ons as Christene handhaaf tog mos
maar ‘n Geestelike styl as ons praat, en soveel te meer as ons met
medegelowiges praat. Kom daar dan nog ‘n element by soos
vertroosting of bemoediging, dan moet ons tog die praat praat wat by
die situasie pas.
Voorts het die Here ons tog
toegerus met Woord en kennis om ook Sy stem te wees wanneer Sy
kinders dit nodig het. Ek en jy het inderdaad ‘n verantwoordelikheid
om mekaar te bemoedig en aan te por om die wenstreep te behaal, maar
ek glo dat die Here ons ook wil waarsku teen goedkoop en
oppervlakkige “spiritual talk”, wat meer verwarring kan bring as
enigiets anders. Ek het al vele kere in my lewe ‘n woord van
bemoediging gekry op tye wat dit werklik nodig was, maar daar was
ook al dinge gesê wat eerder kon gebly het. Die lewe is nou maar
eenmaal vol stampe en stote en ons almal loop ons een of ander in ‘n
situasie vas waar ons nie weet of ons moet vorentoe of agtertoe nie.
Dan is die woorde van bemoediging regtig welkom.
Ek wil graag twee “maniere” van
bemoediging hier hanteer.
Die eerste manier.
GALASIËRS 6:2
“Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet
van Christus.”
Hierdie opdrag is goud werd,
want hierdeur gee die Here vir ons die opdrag om vir mekaar lief te
wees, mekaar te bemoedig en mekaar te help in moeilike tye. Na my
mening beteken hierdie teks nie noodwendig dat jy die ander persoon
se laste van hom moet afneem, totaal joune maak en dan self met die
mees ongeloof like smart en swaarkry sit nie. Ek en jy kan dit in
elk geval nie doen nie. Die kruks van hierdie gedeelte is dat ons
daar moet wees vir iemand in nood. ‘n Oor om te luister, ‘n skouer
om op te huil, iemand wat daar is as jy voel jy breek en jy kan net
nie meer nie. Iemand wat vir jou bid as daar tye kom wat jy nie eers
meer vir jouself kan bid nie.
Wanneer sulke tye kom besef jy
wie regtig vriende is, mense wat baie dinge sal prysgee om jou deur
hierdie woestyn te help. Ek is seker jy was ook al in ‘n situasie
waar jy ‘n foon kon optel en vra vir gebed, of ‘n oor om te luister.
Die een ding wat jy in daardie tye nie wil hoor nie, is dat jou
geloof te swak is en jy te maklik twyfel. Of dat jy nie deur hierdie
ding kan kom nie omdat jy nie die Here vertrou nie. Of nog meer, dat
daar sondes en dinge is wat nog nooit bely is nie en nou bring dit
vir jou swaarkry. Of selfs NOG meer, dat dit dinge is wat jou ouers
aangevang het waarvoor jy nou gestraf word. Indien hierdie dinge
waar sou wees, sal ek van voor af moet gaan uitvind wat genade
beteken, en wat Jesus se verlossingsbloed vir my as persoon beteken,
en dat ek in ‘n persoonlike verhoudinge met Jesus kan staan.
Dit lyk my dat hierdie dinge
nou maar eenmaal oor ons almal se pad kom en ons moet op een of
ander manier daarmee werk, so moeilik as wat dit mag wees. Dit maak
dit net makliker as daar iemand is wat saam met my dra aan daardie
laste wanneer ek net nie meer kan nie. Ek is ‘n groot voorstander
daarvoor dat ons mentors moet hê na wie ons kan opkyk en vir wie ons
raad kan vra. Dit moet mense wees wat al ‘n lang pad met God stap
wat werklik kennis en insig in Sy Woord het, sodat ek daardie
persoon se woorde kan vertrou, asof dit God self is wat dit gesê
het.
Toe ek so klompie jare deur ‘n
Geestelike verdieping gegaan het, was ek baie uitgesproke oor baie
dinge en wou graag vir elke Jan Rap en sy maat aanvat, want ek is
mos nou vol van die Heilige Gees. Min het ek geweet hoe ‘n
gevaarlike Christen ek op daardie stadium was, want ek het geglo dat
my “Geesvervuldheid” menige geharde, hardebaard gelowiges kan
oorheers. Iemand het eendag tereg gesê dat ‘n nuwe Christen
gevaarlik kan wees. Ek dink egter mense moet maar net met baie
liefde gelei word.
Nou waar pas die kruiwa in die
prentjie?
Die tweede manier
Wel, dis ‘n baie oulike storie
wat ek eendag gelees het wat groot lewenswaarhede bevat.
Daar was ‘n waaghals wat oor ‘n
kabel wou loop tussen twee baie hoë geboue en hy het vir baie lank
geoefen om sy droom waar te maak. Uiteindelik het die dag aangebreek
en hy het begin om die kabel tussen die twee geboue te span. Soos
wat hy besig was het mense uit nuuskierigheid saam gedrom bo-op die
gebou en kon nie wag om die man in aksie te sien nie. Toe hy klaar
was vra sy helper vir die mense of hulle glo dat hy oor die kabel
kan stap na die ander kant toe. Uit volle bors het hulle hom
aangemoedig en geskree “JA!!!”.
Die man het toe sy
balanseerstok geneem en heen en weer oor die kabel gestap, onder
luide toejuiging van die skare. Die helper vra toe weer vir die
mense of hulle glo hy kan oorstap sonder die balanseerstok. Uit een
mond het hulle hom aangemoedig en geskree “JA!!!”. Hy het dit toe
gedoen en heen en weer oorgestap. Die helper vra toe of hulle dink
hy kan met ‘n kruiwa oor die kabel stap en uit een mond het hulle
geskree “JA!!!”. Hy het toe die kruiwa heen en weer oor die kabel
gestoot. Die helper vra toe of hulle dink hy kan iemand in die
kruiwa stoot en weereens het die mense geskree “JAAAAA!!!!”. En toe
vra die helper of daar iemand is wat graag in die kruiwa wil kom sit
om oorgestoot te word. Mmm… en natuurlik was daar nie een wat dapper
genoeg was nie.
So vind ons ook in ons
daaglikse lewe dat mense ons wil aanmoedig om dinge te doen,
waarvoor hulle nie die moed het om dit self te doen nie. Daardie
mense is volop, en ek weet ek is een van hulle. Ek bemoedig ook
graag mense met die mooiste teksies en Geestelike verhaaltjies,
terwyl ek weet dat ek nie die pad self sal kan stap as dinge oor my
pad kom nie. Dis tye wat ek myself so skuldig maak aan “cheap
spiritual talk”, want dit klink so mooi en Geestelik, maar intussen
sit mens net ondraaglike laste op ander. En dit geld nie net in
moeilik tye nie, dis soms sommer waar as jy mense wil vertel hoe
hulle hulle Geestelike lewens moet lei.
Jesus het baie gesukkel met die
Fariseërs in hierdie verband.
MATTEUS 23:4”Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en
sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie 'n vinger
verroer om dit te dra nie.”
Jy sien, die Fariseërs het
gedink hulle is vreeslik hoog-heilig as hulle hierdie “perfekte”
wettiese lewens vir die mense aanbeveel, en hulle het die mense mooi
laat verstaan dat God hulle verskriklik sal straf as hulle nie alles
stiptelik gaan nakom nie. Intussen het hulle net gestaan en preek op
die straathoeke, maar self het hulle nie die belangrikste wette, nl.
liefde vir God, en gelyk daaraan, liefde vir hulle medemens nagejaag
nie. Hierdie dade wat hulle van ander verwag het, het die mense net
meer minderwaardig laat voel en het hulle geglo dat God hulle net
wil straf.
Ons maak vandag ook so. In ons
poging om ander te help groei, doen ons maar dieselfde as die
Fariseërs en dryf mense eerder weg van God af. Ons kry self nie ons
sit in daai kruiwa nie.
Daar is egter nog iets waaraan
ons onsself skuldig maak, vernaam as dit swaar gaan met iemand
anders. Soms verwag ons van mense om dinge te glo wat ons sê, maar
ons is self nie bereid om in daai kruiwa te klim nie. Dink net so
bietjie hoe dit is as mense hoor dat hulle ongeneeslik siek is.
Mense sê so maklik: Jy moet net
aanhou glo en jy sal genees word. Dit klink reg, maar is dit wat jý
sal doen as jy hoor dat jy self ongeneeslik siek is en sterwend is?
Sal jy nie ook gryp na elke strooihalmpie denkbaar nie? Sal jy self
jou eie woorde gelate aanvaar en vir God sê dat Hy maar sy planne
moet deurvoer?
Ek beland in die hospitaal met
‘n niersteen en glo dat ek verseker gaan afsterf van die pyn. Tipies
man, kan mos niks vat nie. Op daardie stadium het ek nie eers krag
gehad om vir myself te bid nie, ek het net angstig gewag dat die
dokter die pyn sal wegvat, wat hy toe gedoen het. Ek twyfel of daar
een mens is wat in daardie situasie sal sê: Los my uit, ek wil nie
behandel word nie, die Here sal op Sy tyd die pyn wegvat en die
niersteen laat verdwyn. Of as iemand met fase 4 kanker gediagnoseer
word, glo ek nie daar is baie mense wat sal sê dat die pad maar moet
loop soos hy loop nie.
So is daar mense wat graag vir
ander hierdie tipe van “vertroosting” voorhou, terwyl hulle nie self
in die kruiwa sal klim nie. Mens hoor dikwels dat sulke mense vir
jou sal sê dat jy nie gesond word nie omdat jy nie diep genoeg glo
nie. Dis maklik om sulke roekelose woorde te uiter, maar as dit met
jouself gebeur sal jy dalk ‘n ander deuntjie sing. Ek is jammer,
maar sulke “vertroosting” beteken absoluut niks.
Ek hoor ‘n praatjie oor die
radio waar hulle praat oor Goddelike genesing (iets waarin ek met my
hele wese glo) en vele mense het mooi verhale, maar ander het, soos
Paulus, nie genesing gekry nie. Soos wat daar ook derduisende
wonderlike wedergebore Christene is wat nooit genesing gekry het nie.
Een persoon bel egter in en sê: “Julle almal verstaan verkeerd.
As daar enige vorm van kwaal of siekte op jou pad kom, bid jy tot
die Here, gee dit vir Hom en jy sal genees word. Dis so eenvoudig
soos dit en jy het geen dokter of hospitaal nodig nie”. Ek het
net by myself gedink: Vriend, sal jy nog dieselfde dink as jou
kindjie met leukemia gediagnoseer word? Of wat van as jou kind na ‘n
motorbotsing kritiek in die hospitaal lê? Sal jy die dokters oortuig
om liewer jou kind huis toe te neem? Wat van as ‘n ma in kraam is en
die dokters besef dat die baba nie normaal gebore kan word nie, sal
jy maar liewer die ma huis toe neem? Is daar nie mense wat sterf
weens onnatuurlik oorsake nie? Of selfs natuurlike oorsake. Ek het
gewonder of hierdie persoon in die kruiwa sou klim.
Iemand verval in woeste
finansiële nood en iemand anders sê: Vriend, jy moet vasbyt, die
Here het ‘n plan met jou en wil Sy doel deur hierdie ding met jou
lewe bereik. Wel, ons almal wil mos maar die Here se doel met
ons lewens verstaan, of hoe? Is jy bereid om elke enkele ding in jou
lewe weg te gee, sodat jy ook kan uitvind wat die Here se doel met
jou lewe is? Dis so maklik om sulke dinge vir mense as trooswoorde
voor te hou, maar die meeste mense vind weinig of geen troos in
sulke woorde. Inteendeel.
Ek dink ons probeer mense
vertroos met roekelose woorde, wat maak dat ons onsself eintlik net
so bietjie meerderwaardig voorhou. So asof ons wil sê: Vriend, klim
in die kruiwa, ek hoef dit egter nie te doen nie. En ja vriend, jy
sal dit nie nou verstaan nie, maar eendag sal jy wel. Klim net in
die kruiwa.
Ek dink die Here wil ons
gebruik om daar te wees vir ander, om te vertroos en te bemoedig, om
’n skouer of oor te wees, maar ek dink die Here verwag van ons om
verantwoordelik te wees met ons woorde.
Wie van ons kan sê dat ons die
Here en Sy werke volledig en ten volle verstaan? Wie van ons kan
daarop roem dat ons woord vir woord namens die Here kan praat? Wie
ken al Sy weë en alles waarmee HY besig is? Wie is dapper genoeg om
alles wat ons vir ander voorhou, self uit te leef? Wie van ons sal
in daai kruiwa klim? Waar pas God se soewereine wil in? Hy besluit
soms om nie gebede te verhoor soos wat ons dit wil hê nie, omdat Hy
beter weet. Dit gebeur eenvoudig elke dag dat mense “verkeerdelik”
sterf, of mense baie siek word, of in ongelukke sleg beseer raak, of
alles in hulle lewens verloor.
Wie van ons kan net eenvoudig
sê:-
JOB 1:21 “Sonder iets het ek
in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het
gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.”