|
|
|
'N LEWE TOEGEWY AAN GOD 'n Lewe toegewy aan God - 'n begrip wat ons maklik vir onsself toe-eien. Deur te sê "Elke asemteug is vir die Here". Ek dink elkeen van ons as Christene streef tog op een of ander manier aan 'n lewe toegewy aan die Here, al is dit soms bitter moeilik. Want die vraag is, waar en hoe pas ek die Here in my dag tot dag lewe in. Watter plek neem Hy in? Hoe maak ek tyd vir die Here? Het ek nie dalk 'n klomp afgode wat so maklik Jesus se plek in my lewe inneem nie? En ons werksituasies maak dit nie eintlik makliker nie. Dis eintlik skokkend hoe werksdruk toeneem. Daar word van mense verwag om langer en langer ure te werk - dikwels sonder vergoeding - en op die einde bly ons Geestelike lewens maar in die slag. Kinders se skool en na-skool programme word rillers en op die einde is daar tyd vir niks. Geen gesinstyd, geen tyd vir onsself nie, geen tyd vir vriende nie, en definitief nie tyd vir die Here nie. En ook nie stiltetyd nie. As jy nou reeds op die pad is op pad werk toe, dan kan ek verstaan hoekom jy sou vra: "Waar pas ek dan nog die Here in?" Hoe moet ek tussen alles deur, nog by Geestelike werk uitkom? Nie eers te praat van om in 'n bediening betrokke te raak nie. 2 Pet 1:3 - 8 (Boodskap) As julle al hierdie dinge doen, as julle al hoe meer leef soos die Here dit van ons verwag, dan sal julle nooit verveeld rondsit nie. Dan sal daar nooit 'n dag verbygaan dat julle nie voluit vir ons Here Jesus Christus leef nie. Julle kennis van Hom sal dan sommer baie vrugte dra in julle lewe. Almal sal dan kan sien dat julle glo. Die Here gee vir ons eintlik 'n "tall order" as Hy sê, "Lewe volkome toegewy aan My". Die probleem om dit reg te kry, lê in die posisie waar ons die Here sou sit. Kom ons kyk na prioriteite. As ek jou sou vra om jou prioriteite in die lewe (so paar van hulle) neer te skryf op los stukkies papier en dan in volgorde te plaas, sou dit waarskynlik soos volg lyk: 1. God (my verhouding met God) Dis min of meer hoe dit in die meeste mense se lewensideale lyk. Maar kom dit in die praktyk, dan verander die prentjie. Gewoonlik gebeur presies die teenoorgestelde. Toets dit aan die dinge waaraan jy die meeste tyd spandeer. Dan kom werk gewoonlik heel eerste. Daar word gewoonlik nooit vir mnr Werk "nee" gesê nie, maar vir die gesin word dit dikwels gesê. En vir die persoonlike ontspanning (golf, 4x4, werksfunksies, TV ) word ook nie sommer "nee" gesê nie. Maar vroulief (manlief), die kinders en dan helaas, vir die Here word dikwels "nee" gesê. Elke dag. Ek weet, ek doen dit baie baie dikwels. Die praktiese van hierdie prioriteitslysie lyk so: 1. Werk En Hy sê "Lewe toegewy aan My". Wat is hierdie diewe wat ons Geestelike lewens steel? Sjoe, 'gadgets' is waarskynlik heel voor in die koor: Selfone, TV, rekenaars, e-pos (honderde per dag - selfs goeie geestelike boodskappies), sms'e, I-pods, MP3's. Eindelose dinge wat ons wegtrek van sinvolle tydsbesteding af. 'n Moeilike een is oortyd. Hoe gereeld werk mense nie oortyd nie. Omdat werkstyd nie produktief gebruik word nie. Tog so snaaks dat min werk in 8 ure gedoen word, maar baie in 3 ure oortyd. En al hierdie dinge is die diewe wat ons verhoed om sinvol ons Geestelike lewens te beoefen. Nou ja, gelukkig probeer ons soms om die 'gadgets' dan reg aan te wend. Vat nou maar die selfoon. Daagliks kom gebedsversoeke vir iemand wat jy nie ken nie. Natuurlik is gebedskettings wonderlike goed, maar dan stuur jy dit aan, doen so vinnige skietgebed, en hoor nooit weer terugvoer nie. Weet nie of die persoon gesond is, of dood is, en of die gebed 'n uitwerking gehad het nie. En dan e-pos. Mense "getuig" tussen aanhalingstekens, flink oor hulle geloof in God, en hulle toegewydheid, deur 'n mooi storietjie (geestelik) met so 'n afpers slotparagrafie te 'forward'! Dis nie getuig nie, dis nie toewyding aan God nie. Dis nie die Here se bedoeling nie, want dit sê niks van 'n verhouding met die Here nie. Hoe leef ek dan nou toegewy aan die Here? Jy sien, ons probeer die Here so in openinkies in ons lewens inpas. Bietjie hier, bietjie daar. Soos om die gate in 'n stuk kaas op te vul met iets. Dis hoekom ons sukkel. Ons moet eerder die Here inmeng in ons deeg in. Dan word Hy deel van alles. Dan die lekkerste, as ons Hom inklits in ons deeg in, dan vat ons Hom oral saam. Werk toe, sportveld toe, op vakansie, orals. Jy sien, ek en jy hoef nie 'n predikant of 'n sendeling te wees nie. Al gehoor van "workplace ministry"? Daar waar jy werk. Reg leef, reg praat, jou met die regte dinge besig hou, getuig, gebedsgroepe, ens. En dan die 'gadgets' reg aanwend. Ek het 'n tyd terug 'n brief opgestel oor e-pos evangelisasie. Die kruks van die brief was eenvoudig. 'n E-pos wat aangestuur word omdat die laaste paragrafie jou uitdaag, sê niks van jou verhouding met God nie. Vertel my eerder in jou e-pos wat die Here vanoggend in jou stiltetyd vir jou gesê het, of vertel van 'n Geestelike gesprek met iemand. Dan sê ek, ja, hierdie persoon leef toegewy aan die Here. 'n Lewe toegewy aan God is om ons lig te laat skyn. Om te getuig, om liefde en hoop uit te straal. Om ons 'gadgets', geld, tyd so te bestuur dat God elke dag, heeldag, verheerlik word. Vat Hom saam waar jy gaan. Praat met Hom, en van Hom.
|