|
'N
MAERTE IN DIE SIEL
Wat vra ons vir die Here? En hoe
vra ons dit? Met watter gesindheid vra ons dit?
Matt 7:7-12
"Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop,
en vir julle sal oopgemaak word,
want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat
klop, sal oopgemaak word.
"Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra,
of 'n slang as hy vis vra?
As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee,
hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan
dié wat dit van Hom vra?
"Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet
julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die
profete."
Hoekom vra ons dinge vir die Here?
Wanneer bid ons selfsugtig? Waar is die lyn tussen "vra, en vir julle
sal gegee word" (Matt 7:7) en "laat U wil geskied" (Matt
6:10)? Dit klink so bietjie na 'n teenstelling. "Vra en vir jou sal
gegee word" - dit klink nogal na 'n blanko tjek. Hoe weet ek of my
gebed selfsugtig is, en of dit volgens God se wil is? Dit is nogal moeilik
om hier 'n streep te trek … dit is tog so dat ons met AL ons behoeftes
na die Here toe kan gaan, dit is tog so dat die Here ons wil seën en net
die beste vir ons wil hê? Waar raak DIT wat ons van Hom vra net vir ons
eie voordeel?
Vra, en vir julle sal gegee word
… as jy kinders het, sal jy weet wat dit beteken as kinders so kan
aanhou neul en "nag", totdat ons dan ingee en sê "Nou toe,
jong! Doen dan nou maar dit of dat .." Dan gee ons toe, eintlik teen
ons sin, en dalk ook tot nadeel van die kind.
Ps 106:4-20
Dink aan my, Here, in u liefde vir u volk, sluit my ook in by u
redding,
dat ek die voorspoed van u uitverkorenes mag aanskou en mag deel in die
blydskap van u volk, my mag verheug saam met dié wat aan U behoort.
Ons het gesondig, net soos ons voorvaders, ons het verkeerd gedoen, ons is
skuldig.
Ons voorvaders het in Egipte nie ag geslaan op u magtige dade nie, hulle
het nie gedink aan al u dade van trou nie, hulle het teen U in verset
gekom by die Rietsee.
Maar Hy het hulle gered ter wille van die eer van sy Naam en om sy mag
bekend te maak.
Hy het die Rietsee aangespreek en dit het opgedroog, Hy het sy volk oor
die seebodem laat trek soos oor droë grond.
So het Hy hulle gered uit die hand van hulle haters, hulle bevry uit die
mag van die vyand.
Die waters het hulle teëstanders verswelg, nie één het oorgebly nie.
Tóé het sy volk sy beloftes geglo en sy lof besing.
Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het en nie op sy leiding gewag
nie.
Hulle het skaamteloos meer kos geëis in die woestyn, daar in die barre
wêreld het hulle die geduld van God beproef.
Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar hulle van siekte laat
wegteer.
Langs die trekpad het hulle hulle in afguns teen Moses verset en teen
Aäron wat aan die Here gewy was.
Toe het die aarde geskeur en vir Datan verslind, dit het die bende van
Abiram verswelg.
'n Vuur het hulle hele bende verteer, die goddelose het in die vlamme
omgekom.
By Horeb het hulle 'n kalf gemaak, voor 'n god van metaal gekniel.
Hulle het die magtige teenwoordigheid van God verruil vir die beeld van 'n
bees wat gras vreet.
Sien jy wat hier gebeur het? Die
Here versorg Sy volk, Hy gee vir hulle alles wat hulle nodig het, en dan
raak hulle ongeduldig, ontevrede, wil nie vasbyt nie, verlang terug na die
kospotte van Egipte …. En dan gee God vir hulle wat hulle vra, MAAR laat
hulle van siekte wegteer. In die 1953 vertaling staan: "Toe het Hy
hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel 'n maerte
gestuur"
Wat vra ons vir die Here? En die
verdere vraag is, kan ons Sy antwoord aanvaar? Is ons bereid om te wag op
die Here? Of is ons só ongeduldig dat ons die Here tot 'n punt dryf dat
Hy toegee, en ons dan 'n maerte in die siel beleef? Hoe sal ek weet
hoeveel keer om te vra? Of waar is die punt wat ek sommer self die
antwoord gee en uit my eie beweeg, die verkeerde, oorhaastige besluit maak
en dan sit met 'n maerte in die siel?
Sal die Here dan vir jou 'n klip
vra as jy Hom vir brood vra? Of 'n slang as jy 'n vis vra? Sekerlik nie!
Probleem is, soms vra ons 'n slang, maar ons dink ons vra 'n vis. Kom ons
kyk na 'n voorbeeld of twee van wat ek bedoel:
1) Jy is ongelukkig in jou werk en
sukkel om uit te hou. Jy bid en bid vir uitkoms en dan kom iets op jou pad
wat vir jou baie aantreklik lyk. Jy gryp dit hals oor kop aan sonder
genoeg inligting, of om verdere gevolge en vereistes te oordink, net om 'n
ruk later nog honderd maal meer ongelukkig te wees. Dan sit jy met 'n
maerte in die siel. Klink dit bekend?
2) Jy begeer 'n groter huis. Jy het mos hard gewerk en verdien nou iets
"beter". Alles val perfek in plek. Jy kan nie glo dat die Here
se planne so perfek by joune inpas nie. Jy gaan bou vir jou daardie
paleis. Die Here seën jou, dit lyk of al jou gebede verhoor is. En dan,
skielik, skiet die rentekoerse die hoogte in, die wisselkoers knak jou
besigheid, en die groot stuk "seën van die Here" word jou
grootste nagmerrie. Dan gaan vra jy vir die mense met 'n klein, gewone
huisie om vir jou te bid - jy sit met 'n maerte in die siel. Klink dit
bekend?
3) Die huweliksbootjie skud bietjie in 'n storm. En dan, op 'n mooi dag,
verskyn "Poppie" by die werk. Sy verstaan jou só goed. Gou-gou
word liefde en wellus verwar, en vroulief word verruil vir hierdie stukkie
"gebedsverhoring". Later word hierdie verhouding "hel op
aarde", dan sê jy: "Hoe kan dit wees? Alles het so perfek by my
gebede ingepas". Dan is daar 'n maerte in die siel.
Hoe ken ek dan God se wil
waarvolgens ek moet bid? Hoe mis ek 'n maerte in die siel?
1) Moenie vir die Here vir goed vra wat jy wéét verkeerd is nie.
2) Gaan toets jou motiewe as jy vir die Here vir iets vra. As dit bloot
vir eie gewin is, en boonop ten koste van ander, is dit verseker nie God
se wil nie. Moet gróót asseblief nie die Here vra om die lotto te wen
nie, want dan wil jy hê dat Hy by die armste van armes moet vat om vir
jou te gee. Ek glo nie Hy sal dit doen nie.
3) Wees geduldig en wag op die Here, dalk wil Hy vir jou gee wat jy vra,
maar nie nou dadelik nie. Vertrou die Here dat Sy tyd beter as jou tyd is,
dat Hy die hele prentjie sien, dat Hy weet wat in die toekoms is, dat Hy
weet wat jy nodig het.
4) Gaan toets die antwoord wat jy dink jy gekry het, want dalk oorheers
jou kerm-stem God se stem, dan reageer jy op jou wil, en nie God se wil
nie. Toets dit aan die Skrif, wag vir meer bevestiging, en toets dit by
ander gelowiges.
5) Aanvaar die Here se antwoord. Dit mag soms NEE wees. Hy wil verseker
nie hê daar moet 'n maerte in jou siel wees nie - Hy wil die beste vir
jou gee.
6) Vertrou die Here.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|