'n PA DUISEND


Is jy 'n pa duisend? Weet jy, die norm waarteen ek en jy dié dinge kan meet, is om onsself as aardse pa's, te meet teen ons hemelse Pa. 1 Joh 4 : 8 "Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde".

'n Pa duisend, is een wat sy kinders liefhet!!

Job 1 : 1 - 5 In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy. 2 Hy het sewe seuns en drie dogters gehad 3 en was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe. Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man. 4 Sy seuns het om die beurt partytjies gehou in mekaar se huise. By sulke geleenthede het hulle dan hulle drie susters genooi om saam met hulle fees te vier. 5 Ná so 'n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters beveel om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg die môre het hy vir hulle almal 'n brandoffer gebring, want, het Job gesê: miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek. Job het dit elke keer gedoen.

Job was 'n pa wat omgee. 'n Pa wat sy kinders so liefgehad het, dat hy so dikwels as hy kon, vir sy kinders by God ingetree het.

Luk 15 : 20b - 24 Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. 21 Toe sê die seun vir hom: "Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie." 22 Maar sy pa roep sy werksmense: "Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! 23 En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! 24 Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry." Toe het hulle begin feesvier.

Nog 'n pa duisend. Een wat ongelooflik seergemaak is deur sy kind, maar steeds die "ultimate" van genade betoon het en vergifnis aangebied het.

Nou ja, waar staan ek en jy in ons vaderskap? Hoe maak ons seker dat ons ook 'n pa duisend is? Hoe lyk jou verhouding met jou kinders, wat sien hulle as hulle jou sien?

Dalk gaan daar nou 101 dinge deur jou kop. Dalk is jy geskei en jou kinders bly nie meer by jou nie. Dalk is jou kinders al self pa's. Dalk voel jy dat jy gefaal het as pa. My vriend, dit is nie te laat om die drade op te tel nie. 'n Verhouding word deur woorde gebreek, en deur woorde reggemaak. Ek wil 'n paar punte uitlig wat ons dalk kan help om "'n Pa duisend" genoem te word:

1. Voorbeeld:

Daar is geen manier beter as om vir jou kind 'n voorbeeld te wees nie. Dink net bietjie, hoeveel van jou pa se karaktertrekke en maniere, metodes, is in jou? As daar negatiewe dinge is, wil jy nie dalk die een wees om hierdie bose ketting te breek nie? As jy slegte herinneringe het, verander die geskiedenis. Ons sê maklik: "moenie maak soos ek maak nie, maak soos ek sê". Dit werk nie so nie. Alles wat jy doen, sal jou kind doen. Alles wat jy is, sal hy wees. Kan jy regtig sê: "moenie rook of drink", as jy dit self doen nie. As ek en jy ons vrouens hardhandig hanteer, raai wat gaan met jou skoondogter gebeur!

Het jou kind jou al sien bid? Dalk daar in jou binnekamer, of jou stiltetyd plekkie. Jou voorbeeld vryf af.

2. Leer hom:

Spr 29 : 17 "Gee jou seun 'n goeie opvoeding en jy sal gerus wees oor hom, hy sal jou baie vreugde verskaf".

Deut 6 : 6 - 7 "Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is en as jy gaan slaap en as jy opstaan"

Leer jou kinders die weë van die Here. Ek wil jou vra, as jy jou kinders gedoop het toe hulle klein was (of ingeseën het), dink jy ooit nog aan daardie belofte, kom jy enigsins daardie belofte na?

3. Tugtig hom

Spr 13 : 24 "Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie. As hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is"

As jy jou kinders tug, wys dit jy is betrokke. Op die regte manier, nie doodslaan, vloek of uitskel nie. Ek praat van reëls neerlê en daarby hou.

4. Bemoedig hom

Kol 3 : 21 "Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek sodat hulle moedeloos word nie"

Aanmoediging en bemoediging beteken nie om ondraaglike eise (akademies, sport, ens.) aan jou kind te stel nie.

5. Wees lief vir jou kind se ma – respekteer haar in alle opsigte

Iemand het gesê: "Die beste wat jy vir jou kind kan doen, is om vir sy ma lief te wees". Miskien is jy geskei - respekteer dan ten minste jou kind se ma.

Kom ons vat saam:

· Het jy al vir jou kind gesê jy is lief vir hom? Begin daarmee, sê dit elke dag. Stuur sommer nou 'n SMS, al is hy dalk al uit die huis uit. 
· As daar dalk 'n breuk met jou kind is, wil jy dit nie vandag regmaak nie? Moenie eendag langs sy graf staan en dan is dit te laat nie. 
· Moenie vir jou kind te veel geld gee nie. Dikwels doen 'n pa dit as 'n afkoopboete omdat hy nie betrokke is nie; ek sê vir jou: dit is fataal. 
· Seën jou kinders. Lees Gen 49 : 22 waar Jakob vir Josef seën. Gebruik hierdie woord, of jou eie en spreek ’n seën oor jou kind uit. 
· Bid vir jou kind - ook voor hom. Bid die krag en redding van God oor hom af. 
· Wees lief vir sy / haar ma.

... begin vandag!

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)