|
|
|
Jak 2:14-26 Geloof sonder dade is nutteloos. Dood. Nikswerd. Jakobus kom plaas die klem op die ander kant van die muntstuk as Paulus. Paulus sê "glo", Jakobus sê "doen". Twee uiteenlopende standpunte? Nee, verseker nie. Dit is twee kante van een muntstuk. 'n Muntstuk het verseker nie twee kopkante, of twee stertkante nie. Paulus sê "geloof red jou", Jakobus sê "dis reg, solank jou dade dit bevestig". Anders beteken dit niks. Nou ja, hier lê nou die probleem. Wat moet ek DOEN? Waar moet ek dit doen? Hoe gereeld moet ek dit doen? Moet ek by bedieninge betrokke raak, geld weggee, hulp verleen, preek, ens. ens. En as ek dit nie doen nie, kom die skuldgevoel, selfverwyt, onsekerheid oor myself, en die duiwel kom vertel my ek is nutteloos, dra niks by tot Koninkrykswerk nie, en dan natuurlik - einde ten laaste - ek slaag nie die Jakobus 2 - toets nie. Wel, ons weet tog almal dat ons nie ons plekkie in die hemel verdien nie, en kan werk om daar te kom nie. Vanoggend gaan ons nou nie op daardie pad stap nie. Ons gaan die klem bietjie skuif, weg van werk vir redding, om my geloof te bewys, na die lekker van 'n bydrae lewer. Ek dink egter die grootste probleem is om verby om gevoel van geestelike minderwaardigheid te kom. Jy is tot baie in staat, weet jy? Kom saam met my golfbaan toe … jy
moet my nou asb verskoon, want ek weet absoluut niks van golf nie! Ek hoor
egter as my vriende so praat. So, stap in jou gedagtes saam met my. Hier
by die afslaanpunt staan twee ouens. Kom ons noem hulle Niek, en Mnr
Golfer (meneer met 'n hoofletter!) Niek is uitgedos in die nuutste
uitsrusting denkbaar. Duur, "brandname" hemp, die regte skoene,
hoed, handoekie, en hy speel natuurlik met 'n Titleist golfstel (wat
natuurlik so R15 000 kos). Mnr Golfer, daarenteen, speel sommer met sy
sandale, dra so los T-hemp, en lyk totaal uit plek uit. Hy pas net nie
daar nie. En in plaas van 'n sak op 'n selfaangedrewe karretjie, het hy so
'n boks met goed wat soos gemors lyk. Niek kyk die spulletjie so, en hy
begin onbedaarlik lag. So speel die twee hulle wedstryd.
Keer op keer slaan Niek die perfekte hou met sy perfekte toerusting, en
Meneer se spel lyk redelik lomp. Wanneer Niek 'n no 9-yster uit die sak
haal, grou Meneer 'n stukkende stok uit sy boks uit… party se koppe is
afgebreek, ander het skaars nog 'n steel oor. Nog ander is vrot geroes,
maar Meneer speel. Op die oog af lyk sy spel na 'n ramp. Maar toe gebeur
'n snaakse ding: Niek vul albei se telkaarte in, en dan, hier aan die
einde van die spel, tel Niek die punte op. Skielik vervaag sy glimlag, en
hy frons in ongeloof. Meneer vra vir hom: "Wat's fout?" Dan sê
hy: "Hier moet groot fout wees … jou punte is dan beter as myne!
Ten spyte van die hoop gemors waarmee jy speel, is jou telling
beter." Jy sien my vriend, ek en jy wil Titleist en Callaway - stelle wees om iets vir die Here te beteken, en Hy sê: "Kom net soos jy is - kom net, Ek wil jou gebruik, nes jy is!" 'n Reguit hou met 'n krom stok, sò
werk die Here met jou en my. Ons voel ons kan nie, want ons is te sondig,
het geen vermoëns nie, talente ontbreek, en ons steek af teen ander.
Maar, die Here sê: "Kom, Ek gebruik jou soos jy is, want Ek slaan
die bal, Ek hou die stok (vir jou), in My hand. Ek sal die onmoontlike
doen as jy net bereid is om te kom. En meer nog, Ek sal jou aanwend waar
jy die beste pas." Onthou jy nog die liggaam met baie lede? Die Here
het gesê dat nie almal oog is nie, en nie almal hand, of voet nie. Dit is
só, maar daar staan ook nie dat al die ledemate volmaak is nie. Natuurlik
geniet die duiwel die golfspel, want hy gee voor dat hy die beste vaar in
die spel. Jy weet mos, ons vra partykeer hoekom dit klaarblyklik so goed
gaan met die goddelose. En hoekom werk hulle geldsake altyd uit? En hoekom
is hulle so suksesvol? Waar pas jy in? Sommer so in die alledaagse lewe - laat die Here toe om jou te gebruik, nes jy is!
|