|
|
|
DIE LAASTE DAE, MAAR WAT VAN NOU? - 4 November 2008 Ons leef in die laaste dae, so glo ons, of hoe? Ons lees die tekens in die Bybel, en ons "lees" die tekens in die wêreld om ons… maar ons weet nie wanneer die einde gaan kom nie. Ons maak afleidings op grond van die Woord van die Here, maar ons het geen detail nie. Ek vra vir jou hierdie vraag: "Vrees jy dit? Is jy bang dat die einde moet aanbreek? Is jy beangs?" Iemand stuur onlangs vir my foto's van die sikloon Katrina in die VSA. As jy na hierdie foto's kyk kry jy 'n beangstheid wat skrik vir niks. Donker, massiewe, onheilspellende wolke wat stadig nader kruip. Mens kan sien dat dit gróót skade gaan aanrig. Matt 24:29-31 Maak gereed vir die eindtyd. Die einde kom, die einde kom!! So weerklink dit, ook vandag nog. Weet jy wanneer? Kan jy die som maak en die tyd bereken? Jy sien, dis alles waar, die einde kom verseker, ons weet net nie wanneer nie. Vandag bestaan daar baie groeperinge en bedieninge wat baie sterk op die "eindtye" konsentreer en dis reg so, want die werklikheid daarvan gaan óf 'n verskrikking wees, óf 'n plesier - dit hang af of jy gered is, of nie. Vandag se vraag aan ons is egter: "Wat tot dan?". Hoe moet ons lewe tot dan? Hoeveel vrees is nodig, tot dan? Iemand vra my onlangs: "Wat is ons doel op aarde? Net om seker te maak dat ons gered is? Of is daar meer?". Ek dink nou nog oor daai een … Wat ek egter ook oor wonder is of ons nie dalk te veel klem laat val op die eindtye nie. Hoe lank is die "laaste dae"? Wat beteken "binnekort"? Maak dit saak? Wel, verseker, want as die wederkoms more plaasvind gaan baie agterbly. Ek dink dis hier waar ons soms so bietjie te veel klem lê op die laaste dae. Daar is baie groeperinge wat baie sterk klem daarom lê om seker te maak dat mense betyds reg besluit. Maar… sê nou maar ons weet presies wanneer die wederkoms gaan wees, wat dan? Sê nou maar ons weet dis 28 Februarie 2009, wat gaan jy doen tot dan? Met baie mense praat oor Jesus? Hulle waarsku oor hulle verlorenheid? Hulle met vrees oorrompel om te glo wat jy glo? Natuurlik moet ongelowiges baie, baie bekommerd wees, maar ons wat glo, wat gaan hierdie laaste dae vir ons beteken? Sal mense glo as ons hulle vertel?
Sal vrees mense tot bekering bring? Hulle het die wet en die profete gehad, en nie daarna geluister nie. Ons moet mense waarsku, maar elkeen moet sy eie besluit maak. Wanneer kom die einde? Dis iets
waaroor mense nogal baie wonder, en sommiges waag om te voorspel… Maar,
niemand weet nie, niemand! Niemand weet nie, daarom moet almal heeltyd gereed wees. En tot dan, is daar baie om voor te leef hier op aarde! Vind uit wat jou doel op aarde is, en doen dit! Help soveel as moontlik mense om die Here te ontmoet, en te lééf tot die wederkoms. Jy sien, ons eindtyd kan enige oomblik aanbreek, op enige manier: 'n ongeluk, siekte of wat ookal. As ek en jy vandag sterf, gebeur op daardie oomblik presies dieselfde as wanneer die wederkoms plaasvind. Waarmee sal ek, Willem, besig wees in hierdie "laaste dae"? Tot die einde wil ek in die heerlikheid van God lewe. Ek wil in vrede leef, met dié gedagte dat my bestemming alreeds bepaal is. Ek wil dit geniet om te weet dat my keuse blywend en bindend is, Ek wil die Here vertrou vir die tyd wat oorbly, ek wil weet dat Hy my in Sy hand van genade toevou, dat Hy elke oggend vir my kyk, en my as Sy kind geniet .. al is ek onvolmaak in my eie oë, ek is volmaak in Sy oë. Ek wil planne maak vir volgende jaar, ek wil my besigheid laat groei, 'n vakansie aanmekaarsit, my kinders laat studeer. Ek wil die gemeenskap met God en met ander gelowiges geniet. Ek wil sien hoe Hy elke nuwe dag goed op my pad bring en my verwonder oor die planne wat Hy vir my maak. Ek wil met verwondering hoor van kinders wat gebore word, en dat toekomsplanne vir die baba'tjie gemaak word. Jy sien, hierdie lewe is al wat ek en jy tans het en ken. Die Here wil nie hê dat ek en jy hooploos kyk na die eindtyd vir "verlossing" van hierdie wêreld nie. Hierdie een wat ons soms as so aaklig beskryf. Kom ons geniet hierdie lewe asof ons nog laaaank daarin gaan wees, terwyl ons só gereed is asof vandag die laaste dag is. Leef in die heerlikheid van God, leef in die volheid van Sy genade, woon en werk rustig voort, terwyl jy die werklikheid van God se planne in die oog hou. Geniet elke dag wat jy uit God se hand ontvang, sê soos Paulus: "Vir my is die lewe Christus, en sterwe 'n wins"
|