DIE SKRIF IS AAN DIE MUUR

Eks. 20:1-7
Toe het God al hierdie gebooie aangekondig: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie. “Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam. “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

Dit is die wet van God, soos wat die Here dit vir Moses gegee het.

God, die Oppergesag, hoogste gesag, Skepper van alles, die enigste God, ’n God van liefde, ontferming, deernis, sagtheid, ’n vriend, ’n lewende God. Hy is ernstig oor sy skepping, oor sy skepsels. Hy is egter ook ’n jaloerse God wat ons as sy eiendom toeëien. Hy soek jou, Hy soek jou hart, Hy wil jou naby Hom hê en Hy wil alles van jou hê. Hy eis onverdeelde trou.

Hoekom is Hy jaloers? Hy besit jou mos, of hoe? Of is dit nie waar nie? Ongelukkig is dit per definisie nie waar nie, want jy moet kies of jy aan Hom behoort of nie. In die tien gebooie stip Hy presies uit wat Hy van hierdie verhouding verwag: “Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My”. Hy eis onverdeelde trou, maar Hy dwing dit nie af nie. Onverdeelde trou is soos in ’n huwelik: ek het één vrou en elke enkele element wat met ’n vrou te doen het, sal en moet ek op haar uitstort. Nie net 50%, 80% of 99% nie, maar 100%. En net so eis die Here my onverdeelde trou. Dit beteken dat ek 100% vír Hom is, of niks. Dis my en jou keuse. As jy vandag wonder wat Hy van jou verwag, dan kan jy weer Eks. 20 lees, want dit is presies net so geldig vandag as ’n paar duisend jaar gelede.

Het God my en jou onverdeelde trou? Weet jy, ons leef in ’n wêreld waar daar ’n totale roekeloosheid hieroor heers. Dis algemeen, dit raak modern om jou geloof af te sweer. Ek lees die kommentaar van ’n eks-predikant wat spog dat hy twee jaar gelede sy geloof afgesweer het en nou vier hy dié dag. As jy dit lees sal jou hare regop staan. Dan verklaar hy dat hy nie sy geloof verloor het nie, hy het dit afgesweer en weggegooi... baie dapper! Maar, die skrif is aan die muur. Ek is seker jy ken hierdie spreekwoord en dat dit beteken jou doppie is geklink! Alles is verby.

Dan 5:1-7
Koning Belsasar het 'n groot ete gegee vir sy duisend hoofamptenare en saam met hulle wyn gedrink. Toe hy onder die invloed van die wyn was, het hy die goue en die silwerbekers wat deur sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem weggevoer is, laat haal sodat hy en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens daaruit kon drink. Toe is die goue en die silwerbekers gebring wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem, en die koning en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens het daaruit gedrink. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip geprys. Meteens verskyn daar toe 'n mensehand wat op die gepleisterde muur van die paleis skryf, reg teenoor die kandelaar. Die koning het die hand gesien terwyl dit skryf. Toe het die koning bleek geword, hy was baie bang, sy bene het gebewe en hy was lam van die skrik. Hy het hard geroep dat die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders ingebring moes word en hy sê toe vir hulle, sy raadgewers: “Enigiemand wat kan lees wat hier geskrywe is en dit vir my kan uitlê, sal 'n koninklike kleed aangetrek word en 'n goue halsketting omgehang word, en hy sal as derde in rang regeer.”

Ons lees dat Daniël ingeroep word om dié onverstaanbare woorde vir die koning uit te lê. Die koning word bang en beangs en het geen idee wat hier gebeur nie. Hoe sou jy opgetree het as jy skielik hierdie hand sien wat begin skryf? Hoekom is hy bang? Want hy is roekeloos met God, hy het saak met die Here en sy heiligheid. Hy het die silwer en goue bekers wat uit die tempel in Jerusalem kom gebruik vir ’n reuse-partytjie wat hy gehou het. Dit was items wat ’n heilige betekenis gehad het en hy gebruik dit om sy eie fees te hou. En dit, lyk dit vir my, moes hy nie gedoen het nie. En daai hand skryf en Belsasar begin beangs en paniekerig raak.

Dan 5:22-30
Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet. U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie. Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe. “Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’ En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en 'n einde daaraan gemaak. ‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. ‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.” Daniël is toe op bevel van Belsasar 'n koninklike kleed aangetrek en 'n goue halsketting omgehang, en hy is uitgeroep as regeerder, derde in rang in die koninkryk. Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor.

Hy het God getart, Hom nie geag en geëer nie; hy het hom nie voor God verootmoedig nie en dan kom hierdie woorde: Getel. Getel. Geweeg en verdeel. Hy is geweeg en te lig gevind. Jy sien, hierdie ding gaan nie oor gewoonweg sonde doen nie. Dit gaan nie oor ’n swakheid van ’n mens wat dinge doen waaroor hy later berou kry nie. Hierdie gaan oor ’n roekelose, Goddelose lewenstyl, ’n lewe waar God weggestoot word, beledig word en getart word.

Kom ons sê jy vat my Noritake eetgerei, of ’n goue beker en gooi die hond se kos daarin en roep vir Wagter en Wagter smul uit die beste eetgerei. As jy dit doen, kom die bord niks oor nie, maar jy betoon minagting teenoor my. Weet jy hoe maklik is dit om God te minag? “Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor” (vers 30). Hy was roekeloos met God en toe skryf die hand: geweeg en te lig gevind.

Het die Here op hierdie manier vir Belsasar om die lewe gebring, of was dit maar toevallig dat hy vermoor is? Dit was nie toevallig nie. Die Here het sy lewe geneem omdat hy Hom nie geëer het nie. Waar staan ek en jy? Wat sal die hand teen die muur skryf?

Ek dink ons moet gereeld introspeksie doen en besin of die Here sentraal staan in ons lewens. God se genade is oneindig groot, maar Sy oordeel is oneindig fel vir dié wat roekeloos met Hom omgaan en Hom uittart.

Ek veroordeel nie hierdie eks-leraar van wie ek gepraat het nie, hy veroordeel homself. Die Here is ’n werklikheid en ’n lewende God. Ja, verseker is Hy ’n God van liefde, maar onthou dat Hy ook ’n jaloerse God is.

Ek wil nie ’n hand teen my muur sien skryf nie, maar miskien is ek ook soms roekeloos met Hom. Daar is verskeie manier hoe ons Hom oneer kan aandoen, bv.
1.
       Om Hom te vervloek en ’n bespotting van Hom te maak.
2.
       Om Sy Naam ydellik te gebruik en nie om te gee hoe ons Hom aanspreek nie. Sy Naam is vir Hom belangrik. Ons mag nie sommer net praat van die Oubaas daarbo nie!
3.
       Om jou van Hom te distansieer.
4.
       Om nie jou beloftes teenoor Hom na te kom nie.
5.
       Om Sy Woord te verdraai soos wat dit jou pas en dit dan só te verkondig.
6.
       Om vir jou ’n “geloof” te skep wat in stryd is met die Bybel.
7.
       Om roekeloos om te gaan met sonde.

Eer God, dien Hom, stel Hom eerste, betoon agting vir Sy Woord en gehoorsaam Sy wil. Kies die Here en volg die pad wat Hy aanwys en jy sal niks hê om te vrees nie.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)