Die afgelope tyd het ek met 'n paar
mense te doen gekry wat vrae het oor geloofsekerheid. Gaan ek Hemel toe?
Kan ek regtig weet? Hoef ek te weet? Moet ek weet? Wel, gelukkig is die
antwoord: JA, jy kan weet. En meer as dit … daar is sóveel vreugde
daarin om te kan sê: "Ek weet, dat ek weet, dat ek weet!!" Ek
glo ook daar is baie dinge wat gebeur wat mens laat twyfel. Jy kan miskien
vra: doen ek genoeg? Glo ek reg? Het ek deur die regte "motions"
gegaan? Ek sukkel steeds met sonde, kan God my regtig aanvaar?
Kom ons begin by wat die Bybel
daaroor sê:
Heb 10:19-23
19 Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot
die heiligdom,
20 en dit op 'n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir
ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.
21 En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het,
22 laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle
geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en
ons liggame is gewas met skoon water.
23 Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy
doen wat Hy beloof het.
…met 'n opregte hart en met geloofSEKERHEID. In hierdie gedeelte is dit
baie duidelik dat ons ons status kan ken. Ons kan wéét, en ons kan
nou-al weet. En daarom kan 'n mens die vraag vra: "Is jy
gered?". Ja, of nee. Die antwoord kan wees: "Ja,
verseker!", "Nee, definitief nie", of "Ek weet
nie". "Ek weet nie", is nie noodwendig negatief nie, dit
kan beteken dat 'n mens nie alles reg verstaan nie, maar wel gered is. Om
"nee" te sê impliseer waarskynlik dat mens glo dat jy redding
nodig het, maar dit nie het nie. Dis eintlik ook goeie nuus, want
erkenning is die eerste stap op die pad van geloofsekerheid. As die
antwoord "ja" is, is dit skitterend, solank dit 'n eerlike, ware
antwoord is. Ek het al baie gesien dat sommiges se "ja" ligjare
van die waarheid is. Dis soos party mense mos vir jou sê: "the
cheque is in the mail"! Ons sê dit net om die ander ou gelukkig te
maak, omdat dit is wat hy graag wil hoor. Wat sê jy vandag op hierdie
vraag?
Kom ons gaan terug na die heel
begin:
Gen 3:1-6
1 Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God
gemaak is en het vir die vrou gevra: "Het God werklik gesê julle mag
van geen boom in die tuin eet nie?"
2 Die vrou het die slang geantwoord: "Ons mag eet van die vrugte van
die bome in die tuin.
3 God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die
middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf
ons."
4 Toe sê die slang vir die vrou: "Julle sal beslis nie sterf nie,
5 maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie
boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken."
6 Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om
na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte
gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.
Die sondeval vind plaas, en dit
bring skeiding tussen God en mens. Van daardie hap van die vrug af, het
die mense se pad van ellende begin, en versoening tussen God en mens het
nodig geword. Die aanvanklike metode om hierdie versoening te
bewerkstellig was die bring van offers. En hier begin 'n proses van stryd,
waar dit dikwels voel of die bose die goeie gaan oorwin. Dag vir dag het
hierdie stryd voortgeduur. Die eerste punt is dus dat die mens beslis
verlossing nodig het, en dit alreeds nodig het vanaf die paradys dae. Die
tweede punt is dat die mens maklik in twyfel verval, want die oplossing
wat Jesus bied, klink nét te goed, en te eenvoudig om waar te wees. En
dan probeer Satan natuurlik ook nog sy verlorenheid met jou deel.
Joh 10:1-10
1 "Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal
ingaan nie maar van 'n ander kant af inklim, is 'n dief en 'n rower.
2 Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder;
3 vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem.
Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.
4 Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die
skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.
5 Hulle sal nooit 'n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat
hulle nie die stem van vreemdes ken nie."
6 Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat, maar hulle het nie
verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie.
7 Toe het Jesus verder gesê: "Dít verseker Ek julle: Ek is die
ingang vir die skape.
8 Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie
na hulle geluister nie.
9 Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in
en uit gaan en weiding kry.
10 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die
lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Satan, die dief en rower wil jou "vreugde om te weet" by jou
steel. Weet jy hoe doen hy dit? Deur jou te herinner aan jou verlede. Jou
verlede, so terloops, het so pas tot 'n einde gekom. En omdat ons kinders
van Jesus is, hou jou verlede elke oomblik van elke dag op.
Die derde punt is: jy kan niks doen
nie, want jy het nie genoeg bokke en bulle vir die offers nie, en jy sal
ook nooit genoeg hê nie!
Heb 10:1-7
1 Die wet van Moses is slegs 'n skadubeeld van die weldade wat sou kom,
nie 'n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word
dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring,
nooit volkome van sonde vry maak nie.
2 As dié wat offers bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van
sondes bewus was nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring.
3 Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes,
4 omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem.
5 Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: "Dit is nie
diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My
gegee het.
6 Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie!
7 Toe het Ek gesê: Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen. In die
boekrol is dit van My geskrywe."
Jy sien, die koms van Jesus aarde
toe het nie die sondeval opgehef, of weggevee nie. Dit het die metode
van saligheid verander. Geen dier- en graanoffers, maar die liggaam van
Christus. Heb 10:1 praat van die wet van Moses - daardie wet wat ons voel
of dit ons vervloek. Hoekom? Want ek en jy kán op geen manier die wet
onderhou nie. Dit is net onmoontlik vir ons armsalige swakkelinge. Omdat
ons dit nie kán onderhou nie, en nie genoeg offerdiere het nie, het ons
naarstigtelik hulp nodig. Daardie hulp kan nie van 'n dier, of 'n mens, of
'n goeie daad, of 'n miljoen goeie dade afkom nie. Jy sien, die loon van
die sonde is die dood, en bly die dood. (Rom 6:23). Dis nie eers
"Rocket Science" om dit uit te werk nie. Daarom het ons Iemand
nodig om die veroordeling weg te vee … nie soseer die sondige dade nie,
nee, die veroordeling.
Rom 8:1-3
1 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is
nie.
2 Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou
vrygemaak van die wet van sonde en dood.
3 Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige
natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken
deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so
het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.
Wow, onbeskryflik, of hoe? Omdat
die oordeel bloedneus geslaan is, kan die sondige natuur van God se
kinders nie meer ons uiteinde oorheers nie. Natuurlik is sonde sleg. Dit
lei tot ellende, en daarom wil ons daarmee afreken.
Dus, die laaste punt is eenvoudig:
"Jy kan NOU al die vreugde van jou Saligheid beleef en lééf."
Luister wat sê die Here hieroor:
Joh 6:47
Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe
Joh 6:35
Maar Jesus sê vir hulle: "Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My
toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer
dors kry nie.
1 Joh 5:12
Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het
ook nie die lewe nie.
1 Joh 5:13
Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die
ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.
Twee woorde wat die heeltyd hier uitspring is "het" en
"glo". Jy HET die ewige lewe, as jy in Jesus GLO. Tetelestai.
Jesus se laaste woord voor Hy sterf. Tetelestai. Volbring. Betaal.
Afgehandel.
Hoe lyk jou status vandag? Gered?
Ongered? Onseker? Bid saam met my om sekerheid:
Here, ek bely dat ek 'n sondige
mens is, en ek weet dat U nie sonde in U Koninkryk kan toelaat nie. Ek
besef ook vandag dat ek as mens, niks kan doen om gered te word nie. Here,
daarom maak ek vandag my hart oop sodat U in my kan woon, en my God en
Verlosser kan wees. Ek aanvaar ook U beloftes as U sê dat U in my hart
sal inkom, volgens Openbaring 3 : 20. Dankie Here, dat U dit vir my
moontlik maak om sekerheid van Saligheid te hê, deur die bloed van Jesus
Christus. Ek gee nou my hele lewe vir U oor, en vra U om die Stuurman van
my lewe te wees. Dankie Here dat ek kan weet, dat NIKS my nou uit U hande
kan ruk nie. Ek prys U Naam. Amen.
|