|
DIE
WONDER VAN DIE WET - 30 Julie 2008
Dit was sekerlik een van die heel
grootste gebeurtenisse in die Ou Testamentiese tyd toe God op bonatuurlike
wyse met die volk praat, deur Moses op die berg Horeb. Die Here spreek Sy
direkte wil uit oor hoe Hy wil hê dat die mense moet lewe. Die Tien
Gebooie wat die moets en moenies uitstip, en wat elke element van die lewe
insluit. Ek dink nie daar is iets wat bygevoeg moes word nie, en niks wat
weggelaat kon word nie.
Mens kan uit twee hoeke na die wet
kyk: van die een kant af lyk dit asof die Here die mens wil straf deur 'n
rigiede, afgebakende stel reëls op die tafel te sit (of te wel, op die
kliptafel). Reëls wat die mens inperk, tussen vaste, onbuigbare heinings
wat vir die mens op die einde 'n straf en 'n pyn is. Van hierdie hoek af
gesien was die wet eintlik 'n voorwaarde tot saligheid. Dit was voor Jesus
gekom het. Toe kom sterf Jesus vir ons sondes en Hy word die vervulling
van die wet. Wat die wet nie by magte was om reg te kry nie, kon Jesus
regkry… volmaaktheid vir Sy kinders. Jesus kom hef nie die wet op nie,
inteendeel …
Matt 5:17-20
17 "Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig
te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle
hulle volle betekenis te laat kry.
18 Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat
een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig
is.
19 "Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig
maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van
die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag
word in die koninkryk van die hemel.
20 Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as
dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die
koninkryk van die hemel ingaan nie."
Die wet staan vas.
Hierdie was die een kant van die
saak. Die mens sien die wet as 'n straf.
Daar is ook 'n anderkant:
Deut 5:1-22
1 Moses het die hele volk bymekaargeroep en vir hulle gesê:
"Israeliete, luister na die voorskrifte en die bepalings wat ek
vandag hier in julle teenwoordigheid aankondig. Julle moet dit leer, dit
gehoorsaam en daarvolgens lewe.
2 Die Here ons God het by Horeb 'n verbond met ons gesluit.
3 Dit is nie ons voorvaders met wie Hy hierdie verbond gesluit het nie,
maar ons, ons almal wat hier is en nou lewe.
4 Ja, met julle persoonlik het die Here op die berg uit die vuur uit
gepraat.
5 Ek het destyds tussen die Here en julle gestaan om die gebod van die
Here aan julle deur te gee, want julle was bang vir die vuur en julle het
nie teen die berg uitgeklim nie. "Die Here het gesê:
6 'Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny,
bevry het.
7 Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
8 'Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die
hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is
nie.
9 Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis
onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe,
selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat,
10 maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My
liefhet en my gebooie gehoorsaam.
11 'Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here
sal dié een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.
12 'Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die
Here jou God jou beveel het.
13 Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,
14 maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy
geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou
wat vir jou werk, of jou bees of jou donkie of enige dier van jou of die
vreemdeling by jou nie, sodat jou werksmense kan rus soos jy.
15 Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte 'n slaaf was en dat die Here jou
God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom
het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou.
16 'Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan
sal jy 'n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die
Here jou God vir jou gee.
17 'Jy mag nie moord pleeg nie.
18 'Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
19 'Jy mag nie steel nie.
20 'Jy mag nie vals teen 'n ander getuig nie.
21 'Jy mag nie iemand anders se vrou begeer nie. Jy mag nie sy huis begeer
nie, ook nie sy grond, sy slaaf of slavin, sy bees of donkie, of enigiets
anders wat aan hom behoort nie.'
22 "Die Here het by die berg al hierdie gebooie duidelik hoorbaar aan
julle hele gemeente gegee, uit die vuur en die stikdonker wolk uit, en toe
het Hy stilgebly. Daarna het Hy dit op twee plat klippe geskryf en dit vir
my gegee."
Miskien wil die Here sê: "Mens, doen wat Ek sê, en moenie doen wat
Ek sê jy moenie doen nie - dan sal jy 'n volmaakte lewe hê". Kon jy
enige iets in die wet hoor wat sleg is? Of wat jou pret gaan bederf? Is
daar iets in die wet wat jou in die moeilikheid sal laat kom? Sal jy iets
mis as jy die wet navolg? Sal iets negatiefs met jou gebeur? Nee, nooit!
Die abslolute teendeel is waar. Die wet hou net die beste vir jou in. Jy
sien, dit lyk my die mens het maar nog altyd 'n hekel in die navolging van
die wet, omdat ons dink dat God dit as 'n stok gebruik. Nee man, kyk hoe
noukeurig het die Here die wet saamgestel.
Kom ons kyk bietjie na elke gebod:
1. Die eerste gebod: jy mag geen
ander gode hê nie. Is daar iets sleg daaraan om dit te onderhou? Nooit.
'n Intieme verhouding met een God, die ware, enigste God.
2. Geen afbeelding. Wel, hoekom wil ek 'n beeld aanbid, i.p.v. die ware
God? Ek kies mos my vrou bo 'n foto of 'n beeldjie van haar. 'n Beeld is
so onpersoonlik … maar God is 'n lewende, persoonlike God. Ek kies dit
veel eerder.
3. Jy mag nie Sy Naam ydellik gebruik nie. Nogal interessant dat mense God
se naam so kru, as't ware as 'n vloekwoord gebruik. Sy Naam is heilig,
hoekom sal ons dit wil ontheilig?
4. Jy moet die Sabbat onderhou. Dis mos nie 'n slegte reël nie. Die Here
stel vir ons 'n wonderlike ritme in, 6 dae werk, 1 dag rus. Hy gee ons
kans om te rus, Hy gee ons 'n spesiale dag wat aan Hom gewy kan wees.
5. Eer jou Vader en jou Moeder. Dis mos nou 'n baie oulike idee. Dit bring
harmonie, vrede, vriendskap, liefde en goeie verhoudinge - niks daarmee
verkeerd nie!
6. Jy mag nie moord pleeg nie. Ja-nee, moord laat jou in die tronk beland,
of dalk die doodstraf kry. Moord is sleg, wreed, onnodig. Dis 'n
skitterende reël - ek wil hom nie oortree nie.
7. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Nee, mnr en mev dis nié om jou pret te
bederf nie. Dis om jou huis 'n standvastige, liefdevolle plek te maak, met
harmonie en sekuriteit. Ek wil DIT nie verloor nie. Los vir Poppie of
Adonis … hulle gaan jou hel toe sleep.
8. Jy mag nie steel nie. Weereens, tronk toe met jou, as jy dit doen. Dis
'n slegte, slegte plek, jy wil nie daar wees nie. Geen mens kan trots wees
op 'n besitting wat aan iemand anders behoort nie. Steel bring ongeluk en
skuldgevoel, jy kyk heeltyd oor jou skouer omdat jy bang is jy gaan enige
oomblik uitgevang word.
9. Jy mag nie lieg nie. Hoekom wil jy? Om wat reg te kry? Om 'n ander
verkeerde daad reg te "gippo". Nee, die waarheid is 'n
wonderlike ding. Dit hou water, dit maak jou vry, jy hoef nie die heeltyd
te onthou wat jy laaskeer gelieg het nie. Iemand wat die heeltyd lieg is
afstootlik.
10. Moenie begeer nie. Niks! Heeltemal niks! Want nét dan kan jy absolute
vrede hê. Vrede kom mos voor in die teVREDE. Jou ogies loer nie die
heeltyd rond nie, en jy is trots op dit wat jy het en verdien het.
Dis die Tien Gebooie. Onbeskryflik
goed en mooi. Uiteengesit deur 'n God, die enigste God, wat net die beste
vir Sy kinders wil hê. Wat 'n wonder!! Onderhou dit, dis dit werd. Nee,
nie tot saligheid nie, tot vreedsaamheid.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|