GODSDIENS – 7 Julie 2010 


Onthou jy toe dans sonde was?  Ek dink dit was sonde tot so ongeveer 30 jaar gelede, groot sonde. Ons moes ook vir die dominee vra of dit sonde was, en hy kon dit positief bevestig.

Daarna het  'n nuwe fase gevolg waar ons mag dans, maar nie na twaalf op 'n Saterdagaand nie. En boeta, die horlosie is fyn dopgehou! Ons was baie bedag op tyd deur die aand, sodat ons net nie die deadline sou mis nie. Sonde het snaaks gewerk, “when the clock strikes twelve”, was die koeël deur die kerk. Nog later het die reël weer verander, jy kan enige tyd dans, solank jy dit net nie geniet nie. 

Benewens dans was daar 'n hele klompie goed gedefinieerde sondes. Vrouens mag nie gebrei het op 'n Sondag nie. Blykbaar geglo jy druk die breinaald in die Here se oog. Kaartspeletjies was van die duiwel en dobbelsteentjies was so uit soos dans in die Sondagskoolklas. Voorts het ons dominee ernstig gewaarsku teen die Beatles en Elvis se musiek, want dit het ook 'n groot sonde komponent bevat. Blykbaar het hulle goed agterstevoor opgeneem, maar my pa was nie regtig bekommerd nie, want ons het nie 'n agterstevoor platespeler gehad nie. 

'n Ouderling in ons finale jaar in katkisasie het ook ernstig gewaarsku dat fliek sonde is. Ons het egter besluit om dit te ignoreer, want ons het twee blokke van die Skyline fliek af gebly en in die fliek geboer. Bid met oop oë was sonde, nagmaal gebruik voor jy aangeneem was, was sonde en om na nagmaal 'n ekstra glasie van die nagmaalwyn af te sluk was ook nie so mooi heilig nie. Meisies se kort crimplene rokkies en seuns se klinknaelbroeke (denims) was ook nie goed nie. Sing liewer stadig in die kerk en staan op as die dominee bid (net die mans) en bly die hele diens wakker. Met jou das aan en sussie met haar hoed op. 

Al wat jy moes doen is om by 'n paar goed neergelegde reëls te bly en dan was jy okay. Regtig. Want die sonde was 'n vreeslike ding, dit het geklou aan jou. 

En so gaan die tyd verby en sekere sondes het toe 'n vervaldatum. Die mens kom toe met die tyd tot die slotsom dat hierdie goed nie belangrik is nie, en alles verander. Dit het mos verander! Of het dit nie? Die mens raak toe mos moeg vir vormgodsdiens, maar vervang toe ongelukkig een tipe vormgodsdiens met 'n ander tipe vormgodsdiens. 

Kol 2 : 14 – 23
Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer. Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of nuwejaarsfeeste of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei. Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort? Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte soos: "Hieraan mag jy nie vat nie!" "Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!" "Daaraan mag jy nie raak nie!"? Dit gaan alles oor dinge wat bedoel is om gebruik te word en te vergaan, en dit is maar net gebooie en leerstellings van mense. Hierdie leerstellings het wel 'n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.  

Klink dit nie vir jou bekend nie?

Vergewe my as ek dit nou gaan sê, maar toets tog of ons nie maar op dieselfde ou trant vassit nie. Paulus praat van engele en visioene. Dit het vandag mode geword om sekere “spiritual talk” te handhaaf. Hoor ons nie miskien net te veel “and God said to me...” nie? Ja, natuurlik praat die Here met ons, maar party keer raak dit bietjie oordrewe. 

Die ander ding waarteen Paulus waarsku is die wettiese en godsdienstige reëls. Vier die feeste sus en so, en moenie hierdie en daardie feeste vier nie, en sekerlik die ergste van alles, moenie 'n kruis in jou huis aanhou nie, want die duiwel gaan toegang tot jou siel kry daardeur. Verbrand ook dit en breek dat... 

Kol 3 : 1 – 4
Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,            want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.    

Godsdiens beoefening...

Waaroor gaan al hierdie goed? Verseker wil ons die Here behaag, en verseker wil ons 'n goeie lewe lei, en verseker wil ons vir die wêreld wys wie ons is. En ja, ons wil getuig ook. Kry jy ook dikwels e-posse wat jou so bietjie afpers? Komaan, Christen, as jy régtig ‘n Christen is, sal jy hierdie e-pos forward. Ek kry dit gereeld, en dan “delete” ek dit sonder om dit aan te stuur. Ek wens so mense wil liewer iets aanstuur wat tussen hulle en die Here gebeur het, ‘n persoonlike getuienis. Dalk ‘n woord wat die Here gegee het, of iets kosbaar wat uit jou stiltetyd  gekom het – dit sal verseker meer waarde hê. 

Kan jy sien hoedat al hierdie goed neerkom op dit wat hier genoem word in Kolossense? Vers 23 sê “Hierdie leerstellings het wel ‘n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie”. En hier slaan Paulus die spyker op die kop. Niks van hierdie goed het ewigheidswaarde nie. Dis speletjies, dit klink so goed, ons praatjies klink so heilig, die forward knoppie is só maklik... Paulus sê nee, daar is iets anders wat eintlik tel. 

Kol 2:23
Hierdie leerstellings het wel 'n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie. 

Die enigste ding wat belangrik is, is dat jou lewe in ooreenstemming met God se wil moet wees, die sondige drifte moet beteuel word. God haat sonde. Dit lyk my Hy sê eintlik dit gaan nie oor wat jy doen nie (hierdie allerhande rituele en fieterjasietjies) nie, maar oor wat jy nie moet doen nie. Moenie sonde doen nie. 

Jesus het gekom om vir ons te wys en te leer wat Hy van ons verwag. Ja, ons is gered en skoongewas van die uitvloeisels van ons sonde, maar sonde is steeds sleg. Dus, as ons hier in Kolossense lees oor die reëls en wette en godsdienstige gebruike, dan sê dit maar net: man, hou op met goetertjies en leef ‘n skoon lewe. Niks van ons gewoontes en gebruike beïndruk die Here nie. Om te lewe soos Jesus vir ons kom wys het, is meer belangrik as wat jy eet of nie eet nie, of die viering van sekere feeste, al dan nie, of waaraan jy raak of nie raak nie. 

Laat staan godsdienstige rituele en uiterlike godsdienstige gebruike, beteuel die sondige drifte en rig jou gedagtes op die dinge wat daar bo is.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)