GENIET DIE LEWE, GRYP DIE DAG

Geniet die lewe, gryp die dag! Hoe voel jy vandag? Wat is jou gemoedstoestand? Hoeveel geniet jy die lewe? Leer jy jou kinders om die lewe te geniet? Of is daar net dalk nie genoeg tyd nie? Hoe lyk die balans van jou lewe tussen werk en speel? Dit is so dat baie mense net nie meer die kuns verstaan om die lewe te geniet nie. Want die werk kom net eenvoudig te veel eerste. Die vraag is: is daar tyd om dit wat jy verdien te geniet? Die antwoord is waarskynlik "nee"!

Prediker 5 : 17 - 19 " Ek het ook iets gesien wat goed is: dit is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet onder al die geswoeg op hierdie wêreld. Dit kom 'n mens toe vir die hele leeftyd wat God hom skenk. 18 God gee aan 'n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is 'n gawe van God. 19 So 'n mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur, so vol is hy van die blydskap wat God gee. Prediker 6 : 1 - 6 1 Ek het in hierdie wêreld ellende gesien wat swaar druk op 'n mens: 2 God gee aan iemand rykdom, besittings en eer, en so iemand kom niks kort van wat hy begeer nie, maar God laat hom nie daarvan geniet nie, en iemand anders gebruik dit. Ook hier kom dit tot niks. Dit is bitter swaar. 3 'n Man kan honderd kinders hê en baie lank lewe, maar hoe oud hy ook al word, as hy nie die goeie dinge kan geniet nie en nie eens in 'n graf begrawe word nie, is 'n doodgebore baba beter daaraan toe as hy. 4 'n Doodgebore baba kom tot niks, dit sien nooit die lig nie en kry nie eens 'n naam nie. 5 Dit sien nie die son nie en weet niks nie Tog is dit beter daaraan toe as iemand 6 wat nie die goeie van die lewe kan geniet nie, al leef hy twee maal duisend jaar. Altwee gaan na dieselfde plek toe."

Wat help dit dat ons onsself konstant afsloof, en geen waarde daarvoor kry nie?

Hier word twee elemente van die lewe teen mekaar afgespeel. Werk vs. speel. Baas teenoor kinders. Geld teenoor lewe geniet. Gelukkig wees teenoor bedruk. Moeilik om hierdie balans te hou, maar daar is so 'n klein voorwaardetjie aan hierdie hele ding, en dit is die woord "tevrede".

Fil 4 : 7 "En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus."

Hierdie woord vrede, kom voor in die woord tevrede.

Om die lewe te geniet, se eerste voorwaarde is tevrede wees. Wees tevrede met wat jy het, met wat jy doen, en hoe jou omstandighede is.

Geniet die lewe. Om die lewe ten volle te geniet, hang af van jou gemoedstoestand.

Spr 17 : 22 "'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput."

Dit is so dat daar omstandighede is wat mens depressief en neerslagtig maak. Soms kan ons nie veel daaraan verander nie. 'n Spreekwoord wat sê "Happiness does not mean that everything is perfect, it is to look beyond imperfection". Nogal 'n mondvol, maar baie waar. Sjoe, soms moet ons net so bietjie ons seëninge tel. Dit is nie onmoontlik om bo ons omstandighede uit te styg nie.

"'n Vrolike mens is 'n gesonde mens". Dit het ek al baie gesien! Haai weet jy, soms moet ek net vir my gesig vertel dat ek vrolik voel hierbinne. Party mense straal konstant 'n vrolikheid uit. Hoe hulle praat, hoe hulle optree, so 'n huppel in die stap, hoe hulle 'n telefoon antwoord. Voorwaar 'n keuse wat ons moet maak, ongeag van ons omstandighede. Vrolikheid word bepaal deur gemoedstoestand. Optimis versus 'n pessimis. Sien jy die glas half vol of half leeg? Is die toekoms lig of donker Ons moet kies wat ons sien.

Spr 14 : 13 "'n Mens kan lag terwyl hy treur, die uiteinde van vreugde kan kommer wees." Wat kies ek?

Hoe geniet ons die lewe?

1. Wees tevrede 2. Kies jou gemoedstoestand 3. Veg teen stres en bekommernis.

Jip, dis moontlik. Ek het hierdie oulike ding gelees oor bekommernis: "Sluit die hekke van die verlede. Moenie aanhou terugkyk na die probleme en foute van die verlede nie. Sluit ook die hekke van die toekoms. Moenie bekommerd wees of vrees vir wat in die toekoms kan gebeur nie. Die toekoms is vandag. Hanteer vandag. Jy kan nie in die verlede leef nie, ook nie in die toekoms nie. Jy kan net vandag leef. Elke dag is 'n nuwe lewe, 'n nuwe begin. Berei jouself voor vir die toekoms deur vandag tot sy volle potensiaal te leef. As jy bekommerd is oor wat dalk more mag verkeerd gaan, was jy verniet bekommerd. En as dit dan wel gebeur, was jy twee keer bekommerd.”

Pragtig nè? Leef vir vandag - voluit. Nog iemand het gesê:- "Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today, is a blessing!"

Ps 118 : 24 "Live for today, enjoy today. This day belongs to the Lord! Let's celebrate and be glad today!”

Bekommernis maak jou siek, laat jou stres, steel jou lewensvreugde, maak jou moeg, gee jou plooie, maak jou depressief, negatief, veroorsaak vrees, moedeloosheid, magteloosheid. G'n mens kan sy lewe geniet as bekommernis jou hele dag insluk nie.

Hoe vind ek dan vreugde? Hoe kan ek dan my lewe ten volle geniet?

Vind jou vreugde in die Here:-

· Ps 9 : 3 "Oor U wil ek my verbly en vrolik wees, U Naam wil ek besing, o Allerhoogste."
· Ps 68 : 4 "Maar vir die regverdiges, sal daar blydskap wees, hulle sal juig voor God, hulle sal vrolik en bly wees".
· Ps 98 : 4 "Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig en sing."
· Spr 29 : 6 praat van die demper wat mens se sonde op jou gemoedstoestand kan bring. “'n Mens se sonde, is sy grootste gevaar. Iemand wat reg doen, kan vrolik sing."
· Job praat van mens se ingesteldheid en lewenshouding. Job 9 : 27 "As ek sou dink: ek wil ophou kla, ek wil my houding verander, en vrolik wees."
· Jes 49 : 13 "Jubel, hemel, juig aarde! Sing vrolik, berge. Die Here het vir Sy volk uitkoms gegee, Hy het Hom ontferm."

Pred 3 : 12 - 15 " Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. 13 Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is 'n gawe van God. 14 Ek het tot die insig gekom dat wat God doen, blywend is: jy kan daar niks byvoeg nie en jy kan daar niks van wegneem nie. God doen dit sodat die mens vir Hom ontsag sal hê."

Pred 2 : 24 - 26a " Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit 'n gawe uit die hand van God is. 25 Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie? 26 Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap."

God is goed, kom ons eer Hom daarvoor. Daar is baie om voor dankbaar te wees, kom ons geniet dit.

Die Here het ons die vermoë gegee om te kies, kom ons kies reg.

Glimlag teenoor frons. Lag teenoor huil. Vrolik teenoor bedruk .... wat kies jy?

"A smile is a curve that sets everything straight."

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)