IDENTITEITSKRISIS


Soos wie lyk God? Ek verwys nie na sy grootheid nie. Ek praat van sy fisiese gelaatstrekke. Mag mens só praat? Is ek besig om Godslasterlik op te tree as ek vra: soos wie lyk God? 

As jy iemand se ID-boekie in die hande kry, waarna kyk jy eerste? Ek is seker jy sal met my saamstem as ek sê die meeste mense sal heel eerste na die foto kyk. Dit sal dan definitief gevolg word deur ‘n gegiggel en verbasing. Dan begin die eienaar van die boekie ongemaklik trippel en wil met alle geweld die boekie terughê, want ooo... daardie kapsel! En gladde velletjie. Die volgende waarna daar dan gekyk word is die geboortedatum. En dan is daar weer ‘n ge-oe en -aa van vooraf. Wat? Is jy só oud? Ek is dankbaar my ID-boekie wys darem nie my gewig nie, dan was daar nóg iets om oor skaam te kry. Jou ID-boek wys wel jou geslag, ras (in syfers), wanneer jy al gestem het, huwelikstatus, vuurwapenlisensies, ens. Hoe min jy ookal van daardie groen boekie hou, dit is wie jy is! Al gooi jy hom weg, verander dit nie aan wie jy is nie. Selfs ‘n nuwe foto maak nie vir lank ‘n verskil nie. (En ja, dit is ek op die ID boekie hier bo!) 

Vandag is my vraag aan jou: kan jy saamleef met daardie persoon in jou ID-boekie? Hou jy van hom? Is jy lief vir hom? Hoe sal jy die een in die boekie verander, as jy kon?  

Ek dink die meeste van ons sit een of ander tyd met ‘n identiteitskrisis. Wie is jy? Wie wil jy wees? Soos wie wil jy wees? Wat sou jy verander as jy kan? 

Ps 139:13-18
13U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. 14Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: 15geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. 16U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. 17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! 18As ek hulle sou wou opnoem—hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.

Ek wed jou jy kan nie hierdie teks net so aanvaar nie – bietjie kleiner middeltjie, eff korte neusie, effe smaller skouertjies, bietjie minder sproetjies, effens meer gegolfde haartjies, langer beentjies, kleiner voetjies, minder plooitjies....? So kan ons, al glo ons dat God volmaak skep, met ‘n identiteitskrisis sit. 

Ek gaan vervolgens so ‘n paar dinge noem wat na my mening eie is aan ‘n identiteitskrisis: 

1. Ek is nie of klink nie so geestelik soos die en daai nie. En die Here gebruik my nie so effektief soos ander nie. Klink dit bekend? Jy verstaan dalk nie jou identiteit in Christus nie, want die Bybel praat van die liggaam met baie ledemate, waarvan elkeen ‘n bepaalde doel het. En as jy nie doodgelukkig kan wees om nét die groottoon te wees nie, sit jy met ‘n identiteitskrisis. Weet jy hoe belangrik jou tone is vir jou balans? Die hele liggaam kan omval as daar nie tone is nie. Mense dink dat ouens met groot bedieninge belangriker is vir God as dié wat net hulle geloof prakties uitleef by die werk of onder die familie. Dis ‘n groot jammerte dat mense hulleself vlakvat agv hulle “gewone” diensbaarheid. As jy iemand anders wil wees, sal jy vir altyd niemand wees nie.
2. Mense vergelyk hulleself aanhoudend met andere. Die probleem is dat ons vir ons ‘n ideale ikoon probeer opbou, deur ‘n samestelling te maak van ander se kwaliteite en vermoëns. Wat jy nie besef nie, jy bou ‘n Frakenstein.
3. Jy kry mense wat nie hulleself kan wees nie. Weet jy wie is jy? Jy is daardie persoon wie jy is wanneer jy stoksiel alleen is. Party mense lieg so vir hulleself dat hulle selfs daar waar hulle alleen is ‘n ander ou se ID-boek uitleef. Dis ‘n verwoestende identiteitskrisis.
4. Party mense kan nie hulle posisie in die samelewing hanteer nie, en in dié proses word mense wat in ander posisies is beswadder en beskinder.
5. ‘n Persoon wat sy lewensmaat afkraak en beledig en seermaak, het ‘n onbeskryflike, aaklige identiteitskrisis. Mense kraak ander mense net om een rede af en dit is om self beter te lyk. En eintlik sê jy vir die Here: Here, kyk watse stuk “rubbish” het U gemaak. Ek kry ‘n epos van ‘n dame wat vertel wat haar man haar alles toesnou. Jy sien, hierdie woorde het vir my niks van haar karakter gesê nie, maar alles van hom en sy karakter.
6. Mense met ‘n identiteitskrisis is gewoonlik ontevrede, onvergenoegd, het swak mense verhoudings, hou van niemand nie, ook nie van hulleself nie.

Is jy dalk nou reg vir ‘n “make-over”? Iemand nuut in die spieël? Iemand van wie jy hou?  Ek gaan jou nou vertel van The Ultimate Glam Guru.  

Ek het jou vroeër gevra soos wie lyk God. Kan jy ‘n beeld optower van hoe God lyk?
Gen 1:26
Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” 

Jou “make-over” gaan soos volg werk:

Moenie jou hare eers was nie, moenie grimering aansit nie, moenie fancy aantrek nie, moenie lekkerruik goete aanspuit nie. Nou .... gaan staan voor die spieël en kyk. Maar moenie net kyk nie, maak seker jy SIEN! En GLO. Kyk in daardie spieël met nuwe oë, en sien hoe iemand lyk wat na die beeld van God geskep is, en as’t ware soos God lyk. Ek hoop jy verstaan die konteks waarin ek die volgende sê: JY lyk soos God. Laat toe dat die Here jou gedagtes oorneem, jou uitsig verander op jouself. Sien jou absolute skoonheid raak, word trots op jou eie gestalte. Moenie toelaat dat ander mense se beelde kom inmeng nie, jy wil nie soos hulle wees nie, jy is soos God. Jy wil bly waar jy bly, werk waar jy werk. Wees wie jy is, want Christus IN jou skep die beste denkbare kombinasie van wie jy werklik is. Moenie wees wie jy geword het nie, wees wie God jou gemaak het. As jy moet trots wees op ‘n onvolmaakte gestalte, wees trots! As jy moet trots wees op min besittings, wees trots. As jy werklik in alle opsigte kan vrede maak daarmee, wees dan baie, baie trots, want dan het jy nie ‘n identiteitskrisis nie. 

Hoekom wil jy ‘n identiteitskrisis hê? Jy lyk dan soos die beeld van God! Kyk wat sê Hy oor jou:
Sef 3:17
Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)