Inleiding en gebed
Terwyl ek so na die vorige sprekers geluister het, het ek maar net weer
besef hoeveel seer daar in ons wêreld is, hoe groot die hopeloosheid is
wat mense dikwels ervaar as hulle deur krisisse moet gaan en dit is juis
oor hierdie gevoel van hopeloosheid wat ons graag vanaand met mekaar oor
wil gesels. My gebed is dat ons, as ons so rondom die Woord kuier, weer
sal ontdek dat daar soveel genade by God is en daarom soveel hoop is om
aan vas te hou.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog was daar in ‘n konsentrasiekamp ‘n
gevangene wat toegelaat is om sy kitaar by hom te hou. Sy gees was vry en
sy vingers vaardig en wanneer hy musiek gemaak het, het die ander
gevangenisse kom luister. Dit het aan hulle nuwe hoop gegee en gemaak dat
hulle net so vreesloos soos hy gevoel het. Toe die kampowerheid dit besef,
het hulle die man verbied om te speel. Maar die volgende dag het hy maar
weer sy musiek gemaak. Die wagte was so woedend dat hulle sy vingers
afgekamp het in 'n poging om hom stil te kry. Kort daarna was by egter
terug, want met sy verminkte hande kon hy steeds speel en het hy sag
gesing. Toe die wagte dit hoor, het hulle sy kitaar gegryp en stukkend
teen die grond geslaan.
Maar ook dit kon hom nie keer nie, want die
volgende dag het hy sonder begeleiding uit volle bors gesing. Sy
medegevangenes het hom gehoor en hul harte het lig geword. Solank die sang
geduur het, was hulle gees net so vry en onoorwinlik soos syne. Die
kampkommandant was hieroor so kwaad dat by die man se tong laat uitsny
het. Nou was dit doodstil in die kamp, maar tot almal se verwondering was
die gevangene die volgende dag weer terug. Op maat van musiek wat net hy
kon hoor, het hy begin dans.
Een vir een het die gevangenes nader gestaan, hande gevat en op dieselfde
ritme begin wieg. Daar was hoop in hulle oë en hul harte was vry. Die
wagte was weereens magteloos.
Hierdie verhaal het my aangegryp. Hoe is dit moontlik dat daar soveel
slegte dinge met een mens kan gebeur en tog was hy bereid om met ‘n lied
in sy hart voort te gaan en ‘n verskil te maak in die mense se lewens
rondom hom?
Vir baie van ons maak dit dalk nie sin om te midde van soveel terugslae
weer op te staan en aan te gaan met ‘n lied in die hart. Miskien is dit
omdat ek en jy ook al iets van die seer kant van die lewe ervaar het.
Miskien sit jy vanaand by jou huis en weet jy wat dit is om deur die lewe
rondgestamp te word, om die een terugslag na die ander te moet hanteer.
Miskien:
·
is dit
siekte wat jou moedeloos het;
·
ervaar
jy vanaand soveel eensaamheid na 'n egskeiding;
·
is jy
‘n slagoffer van misdaad en weet jy nie hoe jy ooit weer by ‘n punt
gaan kom waar jy ander mense kan vertrou, of hulle vergewe nie;
·
is jy
platgeslaan deur wat mense jou aangedoen het en sukkel jy om die
verlede te verwerk en af te handel;
·
sukkel
jy om die dood van 'n geliefde te verwerk;
·
is jy
al so moedeloos omdat jy net nie kan werk kry nie en die
werkloosheid jou selfvertroue kom steel het en jou so minderwaardig
laat voel;
·
ervaar
jy dat die verhoudings waarin jy staan net nie wil uitwerk nie;
·
is jy
maar net vanaand moedeloos oor soveel dinge wat in jou lewe al
skeefgeloop het, dat jy net nie meer kans sien om aan te gaan nie en
jou die vraag laat vra waarom God nie jou gebede wil beantwoord nie
…… hoe lank moet ek nog om uitkoms smeek? Het God dan van my
vergeet?
Vriende, hierdie dinge kan so maklik maak dat ek opstandig teenoor God
raak, nie omdat ek wil nie, maar omdat dit vir my voel my gebede word nie
beantwoord nie, omdat dit vir my voel dat God van my vergeet het in my
diepste nood, omdat ek net nie meer hoop het om aan vas te hou nie. En dan
voel mens amper lus om soos Asaf in Ps 73:13-14 uit te roep
toe hy gesê het:
Dat ek die kwaad vermy het en met ’n eed my onskuld verklaar het, het dus
niks gehelp nie, want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke
nuwe môre straf.
Hopeloosheid van die mens
Ons het nou net met mekaar gepraat oor dinge wat ons as mense soms met
moedeloosheid en hopeloosheid kan vul. In die Bybel is daar 'n verhaal van
'n weduwee opgeteken wat iets hiervan ervaar het. Ons lees uit 2 Kon
4:1-7....
'n
Vrou van 'n profeet het haar nood by Elisa kom kla: “My man is dood. U
weet self dat hy die Here gedien het. Nou het die skuldeiser gekom om my
twee seuns te vat en hulle sy slawe te maak.” Elisa het vir haar gesê: “Ek
sal jou help. Sê vir my: wat het jy in jou huis?” Sy het geantwoord: “Ek
het niks in die huis nie behalwe 'n erdekannetjie olie.” Hy het toe gesê:
“Gaan leen nou by al jou bure leë kruike, en sorg dat jy nie te min leen
nie. Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns toe,
en gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol word, moet jy
hom wegpak.” Sy is van hom af weg. Sy het die deur agter haar en haar
seuns toegemaak. Soos hulle die kruike na haar toe aangedra het, het sy
hulle volgemaak. Toe die kruike vol was, sê sy vir een van haar seuns:
“Bring vir my nog 'n kruik.” Maar hy het gesê: “Daar is nie meer 'n kruik
oor nie.” Toe het daar nie meer olie uit die kannetjie gekom nie. Sy het
by die man van God aangekom en dit vir hom vertel. Hy het gesê: “Gaan
verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat
oorbly.”
Toe ek hierdie verhaal lees, kon ek nie anders as om iets van God se
genade daarin te lees nie, ‘n God wat ons met soveel liefde en passie
uitnooi om ons, wanneer ons moedeloos is en die lewe druk, om wanneer ons
alle hoop verloor het, om weer ons genadebakke vir ons te kom volmaak,
sodat ons kan begin lewe en dit in oorvloed.
Hierdie weduwee was arm en het niks gehad nie, behalwe 'n klomp skuld. Dag
en nag was haar skuldeisers daar. Ek kan my maar net indink hoe sy en haar
seuns planne beraam het om uit die gemors te kom. En dan lees ons dat die
skuldeisers gekom het om haar seuns van haar te vat as afbetaling van haar
skuld. Haar situasie was hopeloos en ellendig.
Ook Paulus dink ek, het iets van hierdie swaarkry ervaar. Ons lees in
2 Kor 11:24-27....
Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe
gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe
gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en 'n
nag in die oop see deurgebring. Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar
was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en
gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op
see en gevare onder vals broers. Daar was vir my harde werk en swaarkry,
dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek
sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue.
Ook in 2 Kor 12:7 praat Paulus van 'n ander swaarkry, van ‘n
doring in die vlees, ‘n boodskapper van satan wat hom met vuiste geslaan
het. Wat hierdie doring was, weet ons nie presies nie, maar nou bid hy en
vra dat God hierdie doring uit sy vlees moet haal. Hy bid drie keer, maar
sy gebed word nie verhoor nie.
Vriende, die lewe is vol dorings en leë kruike. Die lewe is vol dinge wat
gebeur waarvoor ons dikwels nie kans sien nie. Die lewe is vol
ongeregtigheid en sonde en wanneer hierdie goed ons tref, roep ons dikwels
tot God en bid ons vir uitkoms. Ons bid vir ‘n blaaskans, voordat die
volgende sarsie krisisse ons tref, maar God antwoord soms nie …… of so
voel dit vir ons.
Gaan maak jou bakke vol by God - daar is hoop
Hierdie weduwee van wie ons nou net gelees het, se hopeloosheid het tog
uiteindelik in blydskap verander, hulp het vir haar gekom, want sonder dat
sy dit verwag het, kom Elisa na haar en help haar om haar skuld te betaal.
In vers 3 kry sy die opdrag om soveel as moontlik leë kruike
bymekaar te maak. Elisa sê aan haar dat sy moet sorg dat sy nie te min
kruike het nie. "Gaan leen as jy moet, maar moet net nie te min leë kruike
hê nie, want God gaan 'n wonderwerk kom doen."
Die vrou en haar seuns en ook die mense van die dorpie was verwonderd.
Dink jou maar net hierdie hele situasie in. Hier staan sy voor al die leë
kruike en sy begin olie uit haar erdekruikie giet in die leë kruike en dit
hou nie op totdat al die kruike vol is nie.
Ons praat vanaand met mekaar oor genade, oor hoop, genade en hoop wat 'n
wonderwerk van God is, genade en hoop wat nie verstaan kan word nie, want
dit kom gratis na jou. Genade en hoop wat soos die wind is: Jy kan niks
daaraan verander nie, want die wind waai waar hy wil.
So
is die genade van God. Dit hou nie op nie! Maar soos dit deur my lewe
vloei verander dit my lewe, soos dit die lewe van die weduwee verander
het. Hierdie genade vloei van binne en maak my lewe nuut, kom gee weer
nuwe hoop aan my.
Weet jy waarom voel ons as Christene dikwels so leeg, ongelukkig en
hopeloos? Waarom voel dit vir ons of ons nie die seën van die Here ervaar
nie? Ons geniet nie God se seën, omdat ons dit nie verwag nie, omdat ons
met te min kruike voor die Here gaan staan. God het groot seën en genade
vir ons bedoel. God wil sy genade in ons lewens kom uitstort, elke dag,
maar as ek te min kruike bring, waarin moet God sy genade en seën dan nou
kom uitstort?
Wil jy nie vir 'n slag al jou leë kruike bymekaar maak en voor God kom
staan om dit vol te maak nie? Ons leef so vanuit ons eie vermoëns, eie
prestasie, eie geregtigheid en selfregverdiging en dan wonder ons waarom
ons nie die seën van God in ons lewens ervaar nie, waarom ons hoop verloor
het? God wil jou kruike volmaak met sy genade, met sy hoop, die genade en
hoop wat vir Paulus genoeg was om van te leef, genade wat gemaak het dat
hy met die doring in sy vlees kon saamleef. God neem nie altyd ons
moeilikheid weg nie. Hy beantwoord nie altyd ons gebede soos ons wil nie.
Onthou jy nog die motor advertensie van 'n hele paar jaar gelede? Dit het
gegaan oor ‘n man wat opstaan, maar vandat hy sy oë oopmaak, het die dinge
skeef geloop. Toe sy wekker lui en hy die wekker afsit, stamp hy die glas
water van die bedkassie af. Toe hy gaan stort is daar nie water nie en
brand die seep sy oë en breek die stortgordyn af. Aan etenstafel het dit
nie veel beter gegaan nie. Toe hy sout oor die eiers wil gooi, val die
soutpot se doppie af en beland al die sout op die eiers. Wanneer hy dan
uiteindelik by sy kar kom en die knoppie druk om by sy motorhek uit te ry,
wil die hek nie oopgaan nie. Daar was darem een ding wat goed in daardie
ou se lewe was: Sy kar! Sy kar het al die swaar van daardie oggend in die
vergetelheid laat bly en gemaak dat hy kans gesien het vir die res van die
dag.
So
is daar in jou en in my teëspoed ook dinge wat dit tog vir ons die moeite
werd maak om weer op te staan, en dit is God se genade! Ek dink dat God
ons dikwels die anderkant van die lewe, die anderkant van elke situasie
ook wil laat sien. God wil ons laat sien waaroor dit werklik in die lewe
gaan. God wil ons die kant van sy genade laat sien, wil ons laat sien dat
dit op die einde van die dag nie die antwoord op ons gebede is wat saak
maak nie, maar wel sy genade in ons lewens en die hoop wat hierdie genade
vir ons bring.
Scott Wesley Brown sing in 'n lied van hom: “When answers aren’t
enough, there is Jesus. As ‘n mens na hierdie lied luister en na dit
wat God aan Paulus gesê het en dit wat die weduwee met haar erdekruike
ervaar het, dan gaan dit op die einde van die dag nie oor die doring in
die vlees nie, gaan dit nie oor die leë kruike nie, gaan dit nie oor die
krisisse wat ek en jy ervaar nie, of dat my gebede nie beantwoord word
nie, of oor misdaad of terugslae nie, maar gaan dit daaroor dat ek iets
van God se genade moet ervaar en my daaraan moet oorgee, want dit bring
uiteindelik weer die hoop in my lewe terug.
Weet jy wanneer ervaar ek God se genade op sy beste? As ek op my swakste
is, as ek teen die planke is, as ek met die rug teen die muur staan. As ek
alles probeer het en steeds geen werk kan kry nie. God wil vanaand aan jou
en my wys dat sy genade genoeg is vir ons.
Waaroor gaan hierdie genade? Hierdie genade gaan daaroor dat God se krag
tot volle werking in my lewe kan kom. Maar hierdie krag kan eers tot volle
werking kom, as ek swak is, as ek besef dat ek as mens nie meer verder kan
nie, as ek as mens geen antwoorde of raad het nie en nie meer weet watter
kant toe nie, as ek as mens besef dat my kruike leeg is en ek niks meer
het om aan te bied nie, as hopeloosheid my verlam het, as ek besef hoe
swak ek is.
Wat gebeur as ek my swakheid besef? Paulus sê in 2 Kor 12:9-10.....
Sy
antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle
werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede
roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly
oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille
van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.
“Hoe swakker jy is, hoe sterker is jy eintlik!”
Eers wanneer ek swak is en besef dat ek alleen sal kan oorleef as God se
genade my deurdra, eers dan kan Jesus alles in my lewe word. Eers as ek
swak is, eers dan kan ek sê: “Ek leef nie meer nie, maar Christus leef
in my … Hy moet dus meer word en ek minder”.
As
ons sterk in ons eie vermoëns is en dink dat ons dinge self kan doen, dan
is die kans goed dat ons hoogmoedig kan word en dat dinge sal flop. Paulus
besef maar alte goed dat die doring in sy vlees gegee is om te verseker
dat hy sy sterkte en krag in die genade van God sou soek.
Vriende, daar is nie altyd antwoorde in die lewe nie, maar daar is altyd
genade, daar is altyd hoop.
In
die verhaal van die weduwee is daar nog iets belangrik vir my in
opgesluit: Die seën wat hierdie weduwee ervaar het, het van haarself
afgehang, want hoe meer kruike daar sou wees, hoe langer sou die olie
aanhou met vloei. Toe die kruike vol is, toe raak die olie op.
Seën kom van God af en aan hierdie seën is daar geen perke nie. God se
genade hou nooit op nie, maar as ek nie kruike na God bring en voor Hom
rustig raak nie, sal ek nie sy seën en genade ervaar nie, sal ek nie in
hoop kan leef nie.
Dikwels gryp ons net hier en daar na God en sy genade sonder om die
volheid daarvan te ervaar. Ons probeer wegkom met afskeeptyd en dan vra
ons waarom ons nie sy genade en seën ervaar nie, waarom ons nie die
volheid van die lewe ervaar nie. Baie van ons is te lui om kruike bymekaar
te maak en dit te midde van die feit dat God dit bedoel het dat ons seën
op seën op seën moet ontvang. Ons lewe dikwels soos armlastige mense, want
ons kruike het opgeraak.
Die stortvloed van God se genade is vir jou bedoel en hierdie genade kan
jou deel word, as jy met jou bak hande, met jou kruike, met 'n hart vol
verootmoediging voor God kom staan en vra dat hy sy genade oor jou moet
uitstort.
Met die vol kruike kon die weduwee haar skuld gaan betaal en so verhoed
dat haar seun as slawe verkoop word. Deur God se genade het Jesus aan die
kruis gesterf en is al ons skuld betaal en kan ons nou lewe. Maar daar het
‘n belangrike aksie by die weduwee plaasgevind, die weduwee het haar nood
by die profeet bekend gemaak, waarskynlik sou haar situasie totaal anders
gewees het indien sy dit vir haarself gehou het, maar God gebruik die
profeet om vir haar nuwe perspektief te gee, help haar om by ‘n werkbare
oplossing uit te kom. Sy was in ‘n wanhoopsituasie, maar God gebruik die
profeet om die wanhoopsituasie in ‘n situasie van hoop te verander.
Krisisse laat jou perspektief verloor, laat jou hoop verloor, laat jou
visie verloor en maak dat jy God se genade nie kan raaksien nie. Gaan raak
dus stil voor God en maak tyd om nie net jou nood aan Hom bekend te maak
nie, maar maak tyd om na Hom te luister, maak tyd sodat Hy weer jou
genadekruike kan volmaak met sy genade en liefde en jy so weer in hoop kan
leef! Wanneer dit vir jou voel asof alles rondom jou vergaan, onthou God
gee niemand prys nie. Gaan raak stil voor Hom, gaan sit op sy skoot...Hy
wag vir jou.
Vriende, geloof hou nie altyd vreugde en seën in nie, dit bring soms stryd
en sielewroeging. Geloof maak dat jy nie sommer net maklik deur die lewe
kan gaan nie. Elkeen wat glo weet ook wat dit beteken om ‘n sielewroeging
deur te gaan. Gelowig wees beteken nie dat ek immuun sal wees teen
worsteling en pyn nie. Dit beteken wel dat ons vasgehou sal deur God wat
te midde van ons onrus en worsteling vir ons genade en hoop gee. Dit is
juis hierdie genade waarsonder ons nie kan nie en daarom wil ek jou nooi
om vanaand jou genadebakke te kom volmaak.
Gevorm deur krisisse
Maar krisisse wil my nie net iets van God se genade laat sien nie. Ek dink
dat krisisse is ook daar sodat God my kan vorm. Ons raak dikwels so
opstandig oor die krisisse in ons lewens, maar wanneer ek besef dat ek
niks uit eie krag kan doen nie, eers wanneer ek besef dat genade genoeg
is, eers dan kan God my vorm.
Hoor wat staan in Jer 18:5-6 …….
Toe kom die woord van die Here tot my: Kan Ek nie met julle doen wat
hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here.
Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel.
Ek
en jy behoort aan God en omdat ons aan Hom behoort, sal Hy niks met ons
doen of toelaat dat iets in ons lewens gebeur, as dit nie deel van sy
vormingsproses in ons lewens is nie.
Wat vir my so geweldig treffend van hierdie beeld is, is die feit dat die
hande van die pottebakker nooit die klei verlaat terwyl hy besig is om die
klei tot iets te vorm nie. God se hande verlaat jou en my nooit nie. Sy
hande bly om ons al kry ons seer en al vra die vormingsproses baie van
ons.
En
dit moet my troos en hoop vir die toekoms gee. God is besig om my te vorm,
besig om sy beeld al meer in my lewe te laat sigbaar word, besig om my tot
volle geestelike rypheid te bring, besig om my voor te berei vir my taak
op aarde en uiteindelik ook besig om my vir die ewige lewe voor te berei.
Hoe swak is jy?
Het jy al God se genade ervaar? Het jy al met jou leë kruike, met jou
bakhande voor God kom staan, jou stukkie lewensklei voor Hom kom sit en
gesê...Here vorm my?
Wil jy nie vanaand voor God kom staan met al die kruike wat jy het en weer
iets van sy genade ervaar nie? Wil jou nie maar tou opgooi om in eie krag
te probeer leef, in eie krag dinge te probeer verstaan nie, in eie krag
sake op te los nie? Wil jy nie maar swak voor God word nie en so God se
genade ervaar wat ook vir jou bedoel is, genade wat genoeg is om weer
vrede en geluk in jou lewe te bring?
Kom staan vanaand saam met my voor God, met al jou kruike en sê: "Here,
van nou af wil ek net uit U genade leef, sodat ek minder kan word en U
meer. Ek kom met groot houers na U, sodat ek u genade in sy volheid kan
ervaar en van vanaand af kan gaan leef uit u volheid. Ek staan met
bakhande voor U, want ek het in die verlede te min geskep." My liewe
Vriend, om swak te word en toe te laat dat God jou soos klei in sy
liefdeshande vorm, vra om ‘n geloofsdaad, maar dit bring uiteindelik hoop
wat nie uitgeblus kan word nie.
In een van die Duitse tronke tydens die tweede wêreldoorlog het iemand die
aand voor hy tereggestel is, die volgende op sy tronksel se muur geskryf:
“I believe in the sun, although I can not see it; I believe in love,
although I don’t experience it; I believe in God although it feels that He
is not here!”
Dis hoop! Dis 'n lewe van genade! Maak dus nie saak waarmee jy vanaand
worstel nie en hoe sleg dit met jou gaan nie....los waarmee jy besig is,
klim op God se skoot en ervaar sy liefde en genade vir jou, want Hy gee
onsaglik baie vir jou om! Daar is altyd hoop by God!
Gebed
Ek
wil afsluit met die gebed in Efes 1:18-21 en ek bid dit vir myself, maar
ook vir jou wat vanaand luister...
Ek
bid dat God ons geestesoë so verhelder dat ons kan weet watter hoop sy
roeping inhou, en watter rykdom daar is in die erfenis wat Hy vir al die
gelowiges bestem het. Ek bid dat ons sal besef hoe geweldig groot sy krag
is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van
sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom
in die hemel aan sy regterhand laat sit het. Ek bid dat God deur sy Gees
aan ons die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die
geloof in ons harte sal woon en dat ons in die liefde gewortel en
gegrondves sal wees. Ek bid dat ons
in staat mag wees om te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde
van Christus strek. Mag ons sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe
gaan.
Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te
doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom toe die eer tot in alle ewigheid.
Here, hier is al my houers, hier is my hele lewe, maak dit vol met u
genade en dat ek weer u hoop in my lewe mag ervaar en daaruit mag leef.
Amen.
|