|
OLIE
IN JOU LAMPIE
Hoe lyk jou olievlak? Hoeveel olie
het jy, en hoe lank gaan dit hou? Het jy genoeg om met ander te deel, of
net genoeg vir jouself? Is jou olie skoon? En is dit olie van goeie
gehalte? Voor jy dink ek is koe-koe's, kom ek lees vir jou die gelykenis
van die tien meisies, sodat jy verstaan wat my beheptheid vanoggend met
olie is.
Matt 25 : 1 - 13
1 Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien
meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag.
2 Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig.
3 Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle
saamgevat nie,
4 terwyl die verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers
gevat het.
5 Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die
slaap geraak.
6 In die middel van die nag was daar 'n geroep: "Hier kom die
bruidegom! Gaan hom tegemoet!"
7 Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg.
8 Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: "Gee vir ons van
julle olie, want ons lampe gaan dood."
9 Maar die verstandiges antwoord: "Nee, daar is nie genoeg vir ons en
vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie."
10 Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom.
Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die
deur is gesluit.
11 Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: "Meneer, Meneer,
maak vir ons oop!"
12 Maar die bruidegom antwoord: "Ek sê vir julle: Ek ken julle
nie!"
13 Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.
Olie in jou lampie, sodat jy op die
mees kritiese tyd nie onverhoeds betrap gaan word nie. Die beeld wat hier
gebruik word van olie, is iets waarmee ons baie goed kan assosieer. Maar
voor ons aangaan, kom ons kyk net bietjie na die belangrikheid van olie,
en ons doen dit aan die hand van 'n motor. Voordat jy ver ry, versien jy
jou motor. Hoekom? Omdat jy wil seker maak dat jy nie onverhoeds betrap
word nie. Daarom dreineer jy die enjin en maak seker dat die enjin genoeg
olie het om die enjin te beskerm. Want as jou enjin nie genoeg olie in het
nie, gaan jy die hele enjin vernietig. Jy gooi dus goeie olie in, die
regte tipe, die regte hoeveelheid en maak seker dat daar nie 'n olielek is
nie. Olie is die belangrikste iets in 'n enjin, want dit smeer en beskerm
die enjin.
In die begin het ek gevra:- Hoe lyk
jou olievlak? Ons lees in hierdie gelykenis van tien miesies wat hulle
lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag. Vers 1: "In die
Koningkryk van die hemel, gaan dit soos met tien meises". Vyf
verstandig - vyf onverstandig. Vyf met ekstra olie en die ander vyf nie.
Soos jy weet verwys hierdie gedeelte na die wederkoms van Christus. Hier
wil ek nou eers stilstaan by die verstandiges en die onverstandiges. Die
Bybel bewys dus dat nie almal gereed gaan wees nie. Wel, die feit dat al
tien die meisies gaan wag het, wys daarop dat die meeste mense tog op een
of ander manier 'n verwagting het van 'n wederkoms, of ten minste, soort
van. Maar die Bybel noem diè sonder ekstra olie, die dwases. Ek dink ons
almal kom mos maar van kleins af met die gedagte van die wederkoms, maar
soos wat tyd verby gaan, raak ons maar so bietjie traak-my-nie-agtig. En
dis waar ons olie dan begin uitbrand, en baie dan nie gereed is as die
bruidegom kom nie. Ek het al baie gewonder:- waarmee sal ek besig wees as
Jesus weer kom op die wolke? Waarmee WIL ek besig wees? En weet jy,
sekerlik sê die mensdom al eeue lank dat die tekens van die tye wys dat
die wederkoms naby is, en vir eeue lank het dit nog nie gebeur nie, maar
jitte, die tyd kom vinnig naby. En die Here waarsku ons op baie maniere,
dat ons onsself reg moet kry.
Die vraag is net:- hoe belangrik is
hierdie wete vir jou? Hou jy jou lampie vol olie, of kom loer jy net
kort-kort of dit nie miskien nou die tyd is nie?
Hoe vol is jou olie? Hierdie vyf
wyse meisies het geweet dat die bruidegom op pad is. Die vyf dwase meisies
het dit ook geweet, daarom was hulle daar. Met lampies, maar nie ekstra
olie nie. Dit lyk my hierdie hele affêre was nie vir hulle baie belangrik
nie, so asof hulle maar net uit nuuskierigheid gekom het. Die vyf wyse
meisies was slim genoeg om te sê:- kom ons maak liewer voorsiening vir
ingeval dit langer vat as wat ons gedink het. Die dwase meisies het gedink
dis maar ok as hulle nie die hele vertoning sien nie. En sowaar, toe kom
die bruidegom, seker so net toe dit te laat is vir die bruilof. En toe vra
hulle vir hulp. Toe wil hulle leen by diè wat het. Met Lazarus en die ryk
man se verhaal lees ons dat die ryk man in die doderyk gesmeek het vir
hulp, maar dit het nie gewerk nie, want dit was te laat. Net soos met die
vyf dwase meisies. Jy sien, ander kan nie ons saligheid bewerkstellig nie.
Dit hang net van onsself af of ons genoeg olie het om ons tot die einde
deur te sien of nie.
2 Petr 3 : 3 - 13
3 Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel
sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes
beheers word. Hulle sal spot
4 en sê: En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons
vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van
die skepping af.
5 Hiermee vergeet hulle moedswillig dat daar lank gelede 'n hemel en 'n
aarde was wat deur die woord van God uit water en deur water ontstaan het.
6 En dit is ook deur water dat die wêreld van daardie tyd oorstroom is en
vergaan het.
7 Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die
vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag
waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.
8 Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is
een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.
9 Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party
mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand
verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.
10 Maar die dag van die Here sal so onverwags soos 'n dief kom. En op dié
dag sal die hemel met 'n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en
tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.
11 Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des
te meer vroom en aan God toegewy lewe.
12 Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor,
die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal
brand en wegsmelt.
13 Maar ons leef in die verwagting van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde wat
God belowe het en waar die wil van God sal heers.
Ons lampe moet altyd, maar altyd
vol wees.
Hoe maak ons seker dat ons lampe
vol olie bly?
1. Ons moet weet dat dit nodig is,
want die bruidegom kan enige oomblik kom. Daarvoor het ons ook kennis
nodig, en geloof, en die wete dat Jesus Sy belofte gaan nakom. Hy kom
weer!!
2. Dit vat tyd om olie te koop. Dit is om in gemeenskap met Christus te
lewe. Om tyd saam met Hom te spandeer. As jy jou motor vir 'n diens neem,
dan weet jy mos jy moet ten minste 'n hele dag voorsiening maak. Tyd saam
met God maak ons oliehouers vol. Sondebelydenis en vergifnis, maak dat die
olie skoon is en sonder gemors is.
3. Om met die regte dinge besig te wees, beteken dat ons die regte tipe
olie gebruik. Dan gebruik ons nie olie vir 'n dieselenjin in 'n hoë
verrigting turbo-aangedrewe petrolenjin nie.
4. Om in heiligheid toe te neem beteken dat daar nie 'n olielek is nie. Jy
weet mos, met party motors weet ons daar is darem nog olie in as dit
uitlek. Gate in ons geestelike mondering laat kosbare olie onnodig verlore
gaan.
5. Gesonder verbranding van olie in 'n enjin gebeur as ons die enjin
gebruik. Net so wil ons ook daagliks met die werk van die Here besig bly,
en dus sal gesonde verbranding plaasvind, maar dan gaan maak ons weer vol
by die Here.
6. Het jy al gesien as 'n kar rook by sy uitlaatpyp? Dis as sy suierringe
klaar is. Net so is dit as ons sonde in ons lewe toelaat, dan rook ons
geestelike enjins. Dan wys die vrug van ons lewens dat ons nie geestelik
gesond is nie.
Hoe maak ons ons olielampe vol?
· Stiltetyd - tye wat ons
persoonlik saam met God deurbring.
· Eredienste - Hebr 10 sê "Moenie van die samekomste van die
gemeente wegbly nie ….."
· Geestelike gesprekke.
· Gebed
· Lofprysing
· Getuig
· Doen vir ander iets - sodat hulle ook kan sien dat jou oliehouer vol
is, en om dan te smag om te hê wat jy het.
· Lees die Woord van God. Dis by verre die beste bron van olie.
· Weerhou jou van die verkeerde goed.
Kom ons wees gereed, sodat die deur
nie agter ons gesluit word nie. Elke dag. Altyd.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|