|
|
|
Ons leef in ‘n soekende wêreld. Jaar na jaar, eeu na eeu, soek die mens na God. In elke kultuur, elke taalgroep, in al die uithoeke van die aarde soek mense na ‘n Oppergesag. Dit lyk my ons as mens is so aanmekaargesit: ‘n soekende wese. Miskien is dit omdat ons grootheid en grootsheid om ons sien wat ons in verwondering laat, dat ons soek na dié een wat alles gemaak het. In elke kultuurgroep sal jy mense vind wat verwys na “ons” God. Almal aanbid hulle gode verskillend, en maak afbeeldings van hulle gode, en rig altare op vir hulle gode. Die mens wéét dat daar iets groter as hyself is, en dan wil hy hierdie enititeit aanbid en vereer… en dit wat hieruit spruit, word “godsdiens” genoem, en sluit rituele, danse, sang ens in om hierdie god te vereer. Selfs binne “erkende” godsdienste en strukture, selfs onder Christene vind ons die soekendes. Ja, natuurlik soek ons as kinders van die Here daagliks na Hom. In swaar tye soek ons kliphard, want dan wonder ons waarheen Hy dan nou is. Ons wil Hom verklaar en verstaan, ons vra “waar is die Here?” en “wie is die Here”, en dan begin ons met Godsdiensbeoefening: rituele, sekere manier van sing, aksies, aktwiteite, ens. Hand 17:16-34 Hier kom Paulus af op afgodsbeelde, hy sien godvresendes, mense maak praatjies, hulle stry, en hulle beskuldig hom selfs dat hy die boodskapper van vreemde gode is. Paulus gee erkenning aan hulle godsdienstighede met “ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is”, en praat dan met hulle oor die altaar waarop daar geskrywe staan: “aan ‘n onbekende god”. Sjoe, kan jy sien hoe soekend hiérdie klomp is. Hulle weet daar moet een of ander god wees, hulle bou ‘n altaar om te offer – vir iemand wat hulle nie kan sien nie, en nie ken nie, en dan gaan aanbid hulle daar. Interessant om te besef dat hulle nie misken het dat daar ‘n god moet wees nie. Ek dink ons kan dalk selfs op ons eie Christelike bodem daarvan getuig dat altare gebou word, offers gebring word, godsdiens beoefen word, maar mense bly soekend, omdat hulle nie die ware God gevind het nie. Nou kom Paulus om hulle aan die Here voor te stel. Hy sê: “ek ken die Een wat julle soek, die regte, en enigste, ware Een”. Hy bly nie in tempels nie, Hy het nie nodig dat mense Hom versorg nie. “God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind”. As hulle hom werklik soek, sal hulle Hom vind. “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons”. Die ware Godsdiens berus nie op die bou van altare en bring van offers nie, maar op ‘n verhouding met die lewende Here; ons het ‘n Middelaar nodig, ons kan nie onsself red nie, ons het nodig om ons te bekeer. "God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur 'n Man wat Hy uitgekies het." As Paulus praat oor die opstanding van Jesus dan word hy uitgelag. Is dit nie ironies nie: die Ateners bou ‘n altaar vir ‘n god wat hulle nie kan sien nie, maar lag vir Paulus uit as hy praat van die Een wat deur baie mense gesien is, selfs na sy opstanding. Hulle is soekend, hulle sal selfs ‘n klomp absurde dinge glo en rituele doen, maar die ewige God en Koning, dié mis hulle. Hier kom Paulus en hy gee vir hulle die antwoorde, maar hulle vat dit nie. So, hulle soek, maar wil nie eintlik vind nie! Klink dit nie bekend in vandag se lewe nie? Mense sien dinge om hulle, ervaar die getuienisse van mense, hoor hoe mense nuwe hoop kry, hoor hoe mense hulle bekeer en nuut word, maar dan draai hulle maar net weer die rug op God. Hulle lag vir die opstanding, maar dan aanbid hulle by ‘n klip altaar…! Dalk word jy ook uitgelag oor jou getuienis, of verwerp, of vermy. Dis okey, hoor? Dit lyk my dit moet maar so wees. Daar het darem ‘n paar mense tot geloof gekom nadat Paulus met hulle gepraat het. Ek sou dink Paulus moes soms moedeloos geword het, maar hy het nie, want hy het die enigste, lewende God geken, en in ‘n verhouding met Hom gestaan. Ons het partykeer hierdie prentjie dat dit vir Paulus maklik was om sommer net so te loop en preek, maar hy het baie ontberinge beleef. Hy was egter ‘n evangelis, en het graag vertel van sy God, ten spyte van teenkanting. Kan ek en jy ook mense aan die ewige God voorstel? Verseker! Kan ek en jy ook preek? Definitief! Die vraag is net: doen ons dit? Gebruik ons elke geleentheid om oor die Here te getuig? Ons moet onthou dat die mense om ons soekend is; ons moet reg wees met ‘n verduideliking oor die hoop wat in ons leef (1 Pet 3:15). Moenie skaam wees nie, enige tyd is die regte tyd om vir mense te vertel. 2 Tim 4:2 “verkondig die woord: hou daarmee vol, tydig en ontydig”. |