SOLANK DAAR LEWE IS


Lewe... Wat is lewe? Fisiese lewe. Hierdie toestand waarin jy VERSEKER op hierdie oomblik verkeer, of jy wil of nie, en of jy so dink of nie. Jy haal asem, jou liggaam dring aan op sy porsie versorging en jy  put een of ander voordeel daaruit. Dis waaroor hierdie stukkie gaan. 

Solank daar lewe is... Hierdie toestand waarmee jy opgeskeep sit vanaf geboorte, tot so bykans 80 jaar, aldus die Bybel. Hierdie fase wat met vrolikheid en hartseer gepaard gaan, en met lekker en sleg. Die probleem is, ons is so vasgevang in gister, dat ons nie kans sien vir môre nie. “Vandag is môre se gister”, was die titel van 'n boek van Fanus Rautenbach. 

Gister was toe al die tyd nie te sleg nie, of hoe? Gister waaroor jy eergister so gestres het. En verlede maand het jy nogeens oorleef, terwyl jy verlede jaar gedink het jy sien nie nog een jaar nie. Maar toe het jy, ellende en al. Maar môre, ooooo môre, is alles verby..... Die meeste mense wat hulle eie lewens neem, sien nie kans vir “môre” nie. 

Gelukkig het die Woord van God weereens die antwoord.

Pred 9:4
“Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is”.

Hoe hou jy daarvan? Swaarkry is sleg, maar hoop is net vir die lewendes beskore. Is dit nie so dat vandag toe wel beter lyk as wat jy gister gedink het nie?

“Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a blessing”. 

1 Kor 13 : 13 “En nou; geloof, hoop en liefde bly, maar die grootste hiervan is die liefde”.

Wel, as die grootste die liefde is, lyk dit vir my of hoop kort op sy hakke aangestorm kom. Solank daar lewe is... Dus, as daar nou lewe is, is daar nou hoop. Moenie opgee nie, dis nooit te laat om jou volle vertroue op die Here te plaas nie. Vandag is die dag!

Jy sien, dit maak nie saak hoe ’n “groot” Christen jy is nie, swaarkry kan jou pad net so kwistig kruis as dié van enigiemand anders. Maar, ek en jy het 'n geweldige voorsprong. Meer as wat enige mens self kan skep of kan orkestreer.

Klaagliedere 3:21 – 30
Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sę vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir 'n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelę het, laat hy hom diep verootmoedig - miskien is daar hoop - laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.

Om dié rede bly ek hoop; deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie. Daar staan nie:- “deur die liefde van die Here het ek nie swaargekry nie...” Daar staan:- “het ons nie vergaan nie”. 

Daarom is dit krities noodsaaklik dat jy met alles wat in jou is aan die lewe sal bly vasklou, want dan is daar hoop. Met alles in jou mag moet jy bly lewe, sodat die deurbrake kan kom. “n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is”. 

Deurbrake kan tog net in die toekoms gebeur, verseker nie in die verlede nie. Net so is hoop beperk tot die toekoms. Vasbyt en nuwe besluite kan niks aan die verlede verander nie. Vertroue op die Here is ook net “nodig” vir die toekoms. Die Here het tog klaar in die verlede gewerk, of hoe? Hy het ook alles ten goede laat meewerk, al het ons op 'n tyd nie so gedink nie. 

Kan jy ook getuig hoe jy die Here in die verlede moes vertrou, maar gedink het niks gaan uitwerk nie? Onthou jy hoe Hy toe die legkaart wel laat pas het? Wel, as jy daarvan kan getuig, kan jy dit gerus weer doen, want Hy is gister, vandag en môre dieselfde. Sy beloftes van twee duisend jaar terug is nog net so geldig as toendertyd. 

Dalk het jy al gedink die Here het jou moedswillig weggestoot en sommer net so laat staan. Hier is egter so 'n stukkie goeie nuus.

Klaag 3:31 – 33
Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.

As jy my vra of ek hierdie teks verstaan, sę ek onomwonde NEE, maar as jy vra of ek dit glo, sę ek JA, want ek het dit al sóveel keer in aksie gesien. Jy moet egter die voorwaarde nakom, en dit is om te bly lewe. Solank daar lewe is, is daar hoop. 

  • Dooie oë kan nie vorentoe kyk nie. Daar is net té veel om voor te lewe. 

  • Lewe is 'n gawe van God. Jesus het uit die dood uit opgestaan, sodat ek en jy die lewe kan hę, en dit in oorvloed. In hierdie bedeling en die een hierna. Terwyl ons in hierdie lewe is, het ons die taak om Sy Koninkryk uit te brei. Solank jy leef, is dit moontlik.

  • Die beste manier om jou eie lewe te verbeter, is om hoop vir ander te gee.  As jy dit self het, kan jy dit uitdeel.

  • 1Pet 3:15b Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.

  • Kan jy sien dat die Here jou wil gebruik as Sy instrument om ander hoop te gee?

  • Solank jy lewe, kan jy nuwe besluite neem oor môre, en jy kan veg vir 'n beter môre. Maar dan moet jy lewe. Dalk moet jy vorentoe beur en 'n Rubikon oorsteek, dalk moet jy links, of regs. Miskien moet jy een tree terugstaan en wag. Jy moet self besluit om jou hoop te laat hou.

  • 'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is. Onthou, jy is tot alles in staat, deur Christus wat jou krag gee.

Klaagliedere 3 : 24 “Ek sę vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom”

Pragtig, nč? 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)