|
|
|
Hierdie stukkie is vir manne - getroude manne, ongetroude manne, geskeide manne, wewenaars wat vrou soek, of wat in 'n verhouding met 'n vrou is. Die tema is as volg: "Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die mooiste in die land?" Dit kom uit 'n fabel. Dit is die woorde van iemand wat naarstigtelik soek na erkenning, iemand wat wil weet hoe sy gesien word. Iemand wat smag na erkenning, iemand wat so graag onvoorwaardelik aanvaar wil word. Spieëltjie, spieëltjie klink nogal bekend as mens kyk hoeveel tyd die Eva's voor in plat stuk glas deurbring. Op pad werk toe soggens gaan dit soos volg: eers spandeer sy baie tyd voor die badkamerspieël, dan nog baie tyd voor die spieëlkas, daarna 'n rukkie voor die lang spieël in die kasdeur, dan bietjie kyk in die weerkaatsing in die mikrogolfoond se glasdeur, en miskien nog so 'n skalkse loer in die spieël in die portaal, daarna nog so bietjie in die kar se truspieël, miskien ook bietjie regtrek in die weerkaatsing in die hysbak, en gou-gou by die werk in die badkamer ook net seker maak alles is reg. 'n Spieël sê iets. Hy reflekteer iets van iemand wat in hom kyk. Nou kom ek by my punt: Manlief, as jy jou vrou se spieël is, wat sien sy? Ek het eendag hierdie beeld gehoor en dit het 'n groot indruk op my gemaak: die man is die spieël waarin 'n vrou haarself sien. Dus, dit wat jy as man van haar reflekteer, dit is wat en wie sy glo sy is. Wat weerkaats jy van jou vrou, en hoe beïnvloed dit haar selfbeeld? Jy sien, mens kry sulke gebuigde spieëls, so bv laat 'n hol spieël jou lekker maer lyk … maar dit vertel nie die waarheid nie. As jy as man iets anders weerkaats as wat jou vrou is, gaan sy verander …. Negatief. Maar, as jy as spieël na haar kyk met aanvaarding, gaan sy haarself aanvaar. Praat jy afbrekend, en kommunikeer negatiewe goed, dan word sy iemand wat jy nie wil hê nie, en dan is dit die spieël se skuld. Verdien elkeen van ons nie die reg om onsself te wees nie? Jy sien, ek is laaankal nie meer die wulpse Adonis van vervloë jare nie, maar as my spieël (my vrou) positief kommunikeer en reflekteer, glo ek wragtie ek gaan nog in my nr 32 broekie pas! Dan is ek nie skaam oor hoe ek lyk nie. Maar as sy die heeldag vir my vertel ek is 'n tenk, dan blaas ek die aftog. Wat sien jou vrou van haarself as sy deur jou oë kyk? Hooglied 6:4-12 Kyk, Salomo oortref homself hier. Hoe dink jy het sy geliefde gereageer toe hy só met en van haar praat? Ek dink sy het die beste van haarself, van haar hele wese vir hom gegee. Dink jy nie sy het lekker gevoel nie? Dink jy nie sy het haar beste voetjie voorgesit, hom ook gevlei en 'n wonderlike vrou vir hom gewees nie? Ek is seker sy het. Hier staan nie sy was 'n beeldskone vrou nie. Hier staan dat sy vir HOM beeldskoon was - sy interpretasie van hoe hy haar beleef. En hy het dit gesê, en toe maak sy haarself seker nog mooier vir hom. Toe sê hy dit weer, en sy maak haar nog mooier….. en toe wasem die spieël toe!! Jy sien, ons as mans-spieëls begin sommer gou na die troue verdof. Iewers kom ons dalk aangeklam by die huis aan, met so bietjie min bloed in die alkoholstroom, dan sien die vrou 1 Kor 13:12 "Nou kyk ons in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld". Geen vrou verdien die vernedering van 'n man wat só by die huis kom nie. Jy is dan 'n spieël wat vir jou vrou iets weerkaats wat haar minderwaardig, verwerp en kwaad laat voel, wat haar dalk laat dink daar is fout met haar. Sy sien dan 'n lelike weerkaatsing. Jy is dan nie 'n spieël nie, maar 'n dowwe, goor stuk glas…. En jy wonder hoekom sy nie jou vriend wil wees nie. Manlief, luister mooi na hierdie vraag: verdien jy om 'n vrou te hê? Wat wil jou vrou sien in die spieël? · Sy wil aanvaar word as dié een
met wie jy getrou het, dié een op wie jy verlief geraak het. Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie's die mooiste in die land? Haai, Boeta, word wakker! Dis jou vrou! |