In
die weermag het ons gereeld gehoor: AF, AF, GAAN AF! Dan AF jy! En
dan weer: OP, OP, OP! Asof die korporaal nie kan besluit wat hy wil
hê nie. Op - af – op - af - op - af!
Klink dit miskien soos jou lewe? Iemand vra hoe gaan
dit, dan sê jy “so op en af dankie”. Dis nou maar wors, “what goes
up, must come down”.
Elke mens val, of jy nou wil of nie, en as jy nog nie
het nie, sal jy nog, iewers. Met geen mens gaan dit nét goed nie, en
jou Christenskap is geen waarborg dat dit nie met jou gaan gebeur
nie. “Bad things happen to good people”.
Party mense is gewoonte-vallers, ander is mal oor val,
ander val eenkeer en leer so 'n groot les, dat hulle nooit weer val
nie. Maar hulle is in die minderheid. Ander mense val deur
omstandighede en sommige val vir die lekker, want hulle is mal oor
simpatie (gooi gereeld ‘n pity-party en nooi die wêreld uit).
Dus, val is so normaal soos ontbyt eet. Die vraag is
dus nie of jy al geval het in die lewe nie, of hoeveel keer jy al
geval het nie, of hoekom jy geval het nie.
Die vraag is: “Hoeveel keer het jy al opgestaan?”
As jy al 300 keer geval het, en jy het 100 keer
regtig opgestaan, het jy niks bereik nie. As jy al 300 keer geval
het, en jy het 299 keer opgestaan, is jy niks beter af nie. Wenners
staan 1 keer op, net EEN keer op! EEN KEER MEER AS WAT HULLE GEVAL
HET. Dit is die definisie van 'n wenner, ongeag van hoekom jy geval
het, of hoe hard jy geval het.
Geestelike verval
Drie voorbeelde. Dawid, Petrus en Judas.
Dawid
2 Sam 11:1–5
In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog
te maak, het Dawid op 'n keer vir Joab en sy soldate en die hele
Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër,
maar Dawid het in Jerusalem agtergebly. Eendag het hy na sy
middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap.
Van die dak af het hy 'n vrou sien bad. Sy was 'n baie mooi vrou.
Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: "Dit is
Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet." Dawid het
toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar
reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom toe
gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe. Die
vrou het swanger geword en vir Dawid laat weet: "Ek is swanger."
Dawid val, liederlik. Miskien op so 'n manier dat ons
kan dink dat hy nooit weer sal verdien om vergifnis te kry nie. Maar,
Dawid kry berou voor die Here, hy gaan smeek om vergifnis en die
Here gee dit vir hom. Hy staan een keer meer op as wat hy geval het,
en die Here gebruik hom; hy word genoem “’n man na God se hart”.
Petrus
Matt 26:69 – 75
Petrus het buite in die binnehof gesit toe 'n diensmeisie na hom toe
kom en sê: "Jy was ook saam met Jesus die Galileër." Maar hy het dit
voor almal ontken: "Ek weet nie waarvan jy praat nie." Hy gaan toe
na die uitgang van die binnehof. Daar sien 'n ander diensmeisie hom
en sê vir dié wat daar staan: "Hierdie man was saam met Jesus van
Nasaret." Weer het Petrus dit ontken en met 'n eed gesê: "Ek ken die
man nie. 'n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe
en sê: "Dit is waar, jy is ook een van hulle. 'n Mens kan dit aan
jou spraak hoor." Toe begin hy vloek, en hy sweer: "Ek ken die man
nie!" En op daardie oomblik het daar 'n haan gekraai. Toe val dit
Petrus by wat Jesus gesê het: "Voordat die haan kraai, sal jy My
drie maal verloën." En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
Petrus se knieë knak toe hy onder druk kom. Jesus het
reeds voorspel wat Petrus gaan doen, maar hy het geweier om te glo
dat dit met hom sal gebeur. Enigiemand behalwe hy!
Toe val hy, liederlik, met soveel skuldgevoelens dat
Hy nie eers by die kruisiging was nie.
Maar... toe kry hy berou, en die Here laat hom
weer opstaan, een keer meer as wat hy geval het! En die Here gebruik
hom – ons lees in Handelinge hoedat duisende tot bekering gekom het
onder sy prediking.
Judas
Matt 27:3–5
Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is,
het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring
na die priesterhoofde en die familiehoofde toe en vir hulle gesê: "Ek
het gesondig. Ek het 'n onskuldige man verraai." Maar hulle antwoord:
"Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!" Judas het toe die
geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.
Judas kry spyt, maar dis nie goed genoeg nie,
want Judas het nie berou gekry nie. Hy het sy spyt gaan
uitspreek voor mense, maar nie voor die Here berou gehad nie. Met
die gevolg dat hy toe nie opstaan nie, maar gaan selfmoord pleeg. Hy
het een keer minder opgestaan as wat hy geval het.
DIS 'n verloorder!
So val ons maar almal. Hoofsaaklik a.g.v. sonde. MAAR...
Jesus tel ons nie uit soos die skeidsregter in ‘n boksgeveg nie.
NOOIT NIE. Hy gee altyd nog 'n kans. Genade is om elke keer eenkeer
meer vergewe te word as wat ons gesondig het. Dit doen Jesus elke
keer.
Jer 8:4 So sê die Here: Sal iemand val en nie
opstaan nie, of wegdraai en nie terugdraai nie?
Maar, ons val (verval), nie net in sonde nie.
Terugslae maak dat ons tot 'n val kom, soos byvoorbeeld:
· Depressie. 'n
Vreeslike siekte, wat mens se hele lewe aantas. Moeilik om te
hanteer, en te bestuur. Dit maak mens se hele lewe donker, en tas
mens se menswees ernstig aan.
· Gestremdheid
· Trauma. Verlies van 'n lewensmaat of 'n
geliefde is slegte omstandighede wat mens se hele lewe inmekaar kan
laat tuimel. Dit laat mens alleen agter en “trigger” ook dikwels
depressie.
· Onverwagte siekte
· Werksverlies
· Misdaad
· Gebroke huwelike
· Kinders wat
moeilikheid maak
· Resessie wat lei tot
slegte finansies
· Ongeluk
· Verslawing
Kan ons vra waar die Here is as ons val? Is Hy dan
kwaad vir ons? Straf Hy ons noodwendig? Gaan Hy weer uitkoms bring?
Gaan ons nóg 'n val oorleef? Hoe gaan ons aan met die lewe as ons
weet dat daar nog 'n val voorlê?
Wat gebeur met mense wat val?
Daar is die wat bly lê
Party mense sien net nie weer kans vir nog
'n opstaan nie. Ons het al almal gehoor van 'n boemelaar wat eens op
'n tyd een of ander belangrike, geleerde persoon was. Verloor dan sy
belangrike posisie, en ook sy vrou, en dan gaan staan die wêreld. Hy
staan net nooit weer op nie.
Daar is die wat in “ontkenning” ingaan
Hulle weier om te aanvaar dat daar 'n krisis is. Verwerk dit nie,
“deal” nie daarmee nie, neem nie verantwoordelikheid nie, en verval
net verder en verder. Neem meer en meer verkeerde besluite en val
net dieper en dieper. Trots en hoogmoed is hier dikwels 'n groot
probleem.
Daar is die “blame-shifters”
Mense wat alewig vir ander die skuld gee, of sy verlede blameer, sy
ouers verkwalik of sommer net die wêreld die skuld gee. Hulle glo
die “goeie ou dae” was beter, en kleef aan die verlede.
Daar is die opstaners
· Mense vir wie geen
probleem te groot is nie
· Hulle sien elke keer
se val as 'n leerskool
· Word elke keer sterker en sterker
· Leer ander in die proses
· Leer die Here beter ken
· Bou karakter
Wat het met Jesus gebeur toe Hy gedink het Hy val?
· Vra vir Sy Vader dat
die beker verby sal gaan
· Erken dat Sy Vader die
beste weet
· Aanvaar Sy lot
· Gaan deur die krag van
Sy Vader
· Sien die doel van Sy “val”
· Sterf met waardigheid
· STAAN DAN OP!
Moet nooit die pad alleen stap nie – opstaan is
makliker as jy iemand het wat jou kan ophelp
Pred 4 : 9 – 12
Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een
val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is
daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word
hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Een alleen
kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou
breek nie maklik nie.
|