|
|
|
Ek wonder al lankal oor hierdie vraag: Ken ek die Here? Ken ek Hom regtig? As ek daarop aanspraak maak, moet ek vra: Wat ken ek van Hom? Wat weet ek werklik van Hom? Weet ek hoe Hy dink? Weet ek wat Hy beplan vir my lewe? Weet ek wat Sy plan was toe iets spesifieks gebeur het? Mag ek Hom aanhaal? Mag ek namens Hom praat? as ek sê: Ek ken my vrou deur en deur na 29 jaar getroude lewe, is dit werklik waar? Of my kinders? Weet ek regtig wat in die diepste van die diepte van hulle harte aangaan? Of kan ek net dit weet wat hulle direk met my kommunikeer? Terug na Vroulief toe: het ek die kennis wat sy het? Dan sê ek: nee, ek weet absoluut niks van die vakgebiede waarin sy gestudeer het nie, ek kan dus sê dat ek van daardie gedeelte van haar lewe nie veel ken nie. So ook met my kinders. Dan moet ek die vraag eintlik weer bekyk en sê: as ek nie alles weet wat hierdie persoon weet nie, kan ek hom/haar nie regtig deur en deur ken nie. Dalk ken jy ook nie jou lewensmaat so goed as wat jy dink nie. 1 Kor 13:8-12 Eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Ons weet maar min van God. Net die noodsaaklike dele wat ons in die Bybel lees, en dan dit wat Hy direk aan ons openbaar. Wat weet ons werklik van Hom? Hoeveel weet ons werklik wat Hy weet? Hy wat alles weet van wat was, is en kom. Ek sit verlede
week op die strand en kyk na die sand, en ek wonder, hoeveel sandkorrels
is in my hand? Miskien sal ek dit getel kan kry as ek laaaaank daarmee
besig bly. En hoeveel korrels is in ‘n kind se strandemmertjie? Daar is ‘n
getal en dit dalk akkuraat getel word. Maar, hoeveel is in ‘n kruiwa, of
op ‘n 1 ton bakkie? Nou begin hierdie syfer enorm groot word. Maar daar is
‘n akkurate syfer. Daar moet net nie ‘n paar afwaai nie... Soos ek oor die
strand kyk besef ek, hier is ‘n syfer wat “mind boggling” groot raak. Toe
dink ek: die sand op al die strande op aarde, al die duine, onder die see,
tussen jou paveiselstene, alles, alles bymekaargetel, HET ‘n getal. ‘n
Baie akkurate getal. En God ken daardie getal. Hy weet presies hoeveel Hy
gemaak het, tot op die laaste syfer. Daar is ‘n “eindige” getal.
Wiskundiges van die Universiteit van Hawai reken die sand op die strande
van die wêreld kan omtrent 75 X 1017 (dit is 75 met 17 nulle
agter!) wees. Dit is ‘n verskriklike getal! Sewe quintillion vyf
quadrillion sandkorrels – en dit net op die strande. Ons weet nie hoeveel
nie.... maar God wéét! Hy weet alles. Hoeveel hare is op jou kop? Dis nou as jy nog so gelukkig is om hare te hê! ‘n Gemiddelde mens het ongeveer 100 000 hare, maar dit kan soveel as 200 000 wees. Rooikoppe het die minste hare – so 90 000, en blondines soveel as 140 000. Die hoeveelheid hare wat egter op hierdie oomblik op jou kop is, is ‘n vaste getal, en God ken daardie getal! “Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel” (Matt 10:36) Hoe hou jy daarvan? Daar is nou op hierdie oomblik ‘n syfer, en God ken daardie syfer, en die oomblik as een uitval, en die syfer verander, dan weet God dit. Weet jy dalk hoeveel sterre is daar? ‘n Galaksie het ‘n biljoen sterre. En daar kan soveel as 290 biljoen galaksies wees. Ons weet nie, maar God weet presies hoeveel. Wetenskaplikes reken daar is so om en by 9 X 1021 sterre! Dit is 9 biljoen triljoen, of te wel 9 sextillion. “Hy besluit oor die getal van die sterre en gee elkeen ‘n naam” (Ps 147:4) Sjoe, kan jy 9 biljoen triljoen name uitdink? En atome? 6.022 x1023 in ‘n mol atome. So 7 X 10 27 atome in jou liggaam, waarvan God van elke enkele een bewus is. Dit is 7 oktillion. In die hele heelal is daar so 1068 atome. Moenie hierdie getal geringskat nie. God besit baie atome, en Hy weet waar elkeen van hulle is. Hoeveel mense is daar? 20 April 2010 was it 6, 815, 999, 687, volgens statistiek. Maar dit sê nie hoe laat dit op daardie dag was nie, want daar word heeltyd babas gebore, en die heeltyd sterf daar mense. Ons weet die syfer kan met honderde duisende uit wees. Ons weet nie wat daardie syfer is nie, maar God weet. Hy ken die oomblik toe daar presies 6, 815, 999, 687 mense was. En weet jy wat? Hy is lief vir elke enkele ene! Vir jou ook, jong! God weet alles. Hy ken ons deur en deur. Maar kan ons Hóm werklik ken? Ek dink: net ten dele. Daarom moet ons versigtig wees as ons Hom aanhaal, as ons uitgesproke raak teenoor ander mense oor God se plan vir hulle lewens. Ons moet regtig versigtig wees oor wat ons oor ander mense se lewens uitspreek “in die Naam van die Here”. Ons moet onsself nie met God probeer gelykstel nie, ons weet niks! Maar, die voorhangsel is oop. Gaan sélf na God toe, Hy sal Homself aan jou openbaar. Hy openbaar baie van Homself in Sy Woord, en in Sy openbaring aan jou in persoon. Maar dis maar net ‘n klein bietjie. Ek ken vir vroulief baaaaie beter as 29 jaar gelede. Ek ken glad nie vir Barak O Bama nie, want ek het nog nie een enkele oomblik in sy geselskap deurgebring nie. Ek kan net die bietjie weet van wat ander van hom vertel. En so leer ons die Here ken as ons besig is met Hom. Hy weet alles van jou af, selfs miljoene goed wat jy nie eers van jouself weet nie. Bly in Hom, en Hy bly in jou. |